HOFFIE HOFFELDT, oud-joernalis van Hoofstad, doen ‘n voorstel: EK het onlangs in Heidelberg, Gauteng, vir die eerste keer ’n vergadering van die oud-soldatebeweging, die MOTHS (Memorable Order of the Tin Hats), bygewoon.
Die vergadering begin in stik duisternis met net ‘n kers wat brand ter herinnering aan Suid-Afrikaanse soldate wat in alle oorloë sedert die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het. Dis sluit die soldate in wat in die grensoorlog in Suidwes en Angola gesterf het.
’n Treffende ode ter herinnering aan die gesneuweldes word dan voorgedra terwyl almal op aandag staan. Die kern van die ode is dat die gesneuweldes in die oggend, middag en aand onthou sal word. ’n Helmet en verskeie ander memorablia word op die tafel uitgestal. Nadat die vergadering in ’n verligte vertrek afgehandel is, word die verrigtinge weer in duisternis by kerslig afgesluit tot die volgende vergadering.
Hoekom ek dit noem, is omdat dit die vertrekpunt is vir iets wat my na aan die hart lê. Ek was o.m. militêre korrespondent van Beeld en het ook die voorreg gehad om in 1993 saam met Jan van Vreden, oorlede Dirk van der Walt en Piet Ebersöhn om ’n tafel in die Western Hotel naby Perskor se gebou in Mitchellstraat, Pretoria-Wes, te sit en ’n unie van oud-Perskor-koerantmanne te bespreek.
Die huidige jaarlikse reünie was ’n uitvloeisel daarvan. 5 Met 67 somers agter my en steeds ’n praktiserende joernalis, het die sonderlinge seremonie van die MOTHS my siel aangeraak. Dit het my gedagtes aan die gang gesit oor talle van ons oud-kollegas, sowel joernaliste as fotograwe wat ons sedert die vorige eeu ontval het.
Wat doen ons as draers van die pen en die kamera om die gedagtenis aan ons gesneuwelde kamerade lewend te hou? Is ons werklik tevrede om maar net as oud-gediendes in ‘n Perskorkorps een keer per jaar te vergader (weliswaar met ’n oomblik van stilte vir oorledenes), oor die ou dae te mymer en saam ’n dop te maak?
Só baie van ons deurwinterde en gesoute manne en vroue met drukkersink in die are het al oor die waters van die groot rivier gevaar. Waarom kan ons nie soos die soldate ’n orde skep om hul herinnerings lewend te hou nie?
Wanneer ons dan een keer per jaar vergader, eerder as om net ’n oomblik van stilte te handhaaf, kan Perskor se Ode van die Pen en Kamera (by gebrek aan ’n beter benaming) voorgelees word en die name op ’n ere-rol onthou word.
As ons dit nie doen nie, wie gaan dit vir ons doen? Dis slegs ons wat nog leef wat die vreugde, opwinding, pyn en smarte van die koerantwese ervaar het, wat waarlik hulde kan bring aan ’n linie van gesneuwelde joernaliste en fotograwe.
Ek sal graag wil hoor hoe die ander manne en vroue voel. Dit sal ’n voorreg wees om saam te kan sê: „Ons sal hulle onthou.”
Kom ons vra vir P.G. du Plessis om ’n ode vir ons te skryf, gegrond op dié van die MOTHS.
Hier is ’n paar name om mee te begin: Sakkie van der Merwe, Blaar Grobbelaar, oom Gus Cluver, Sammy Lake, Dirk van der Walt, Eric Ströh, Koos du Plessis, Willem Thompson, Bosman Swanepoel. Wil julle die lys help aanvul?