Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.5.12

Genadiglik soms andersom

Thys Human skryf: DIE dag toe ek sien ek het darem 'n BA-graad op die Puk gekry, bel ek Die Transvaler toe en vra of ek aansoek kan doen vir 'n „job".

Ene Fritz Potgieter sê ek moet maar dadelik inkom. Ek klim vinnig op Potch op ’n trein en nog dieselfde middag stap ek by sy kantoor in. Hy was toe nuusredakteur (en bekend dat hy die lug blou kon vloek as hy die duiwel in
was – of sommer net).

Hy vra ’n paar vrae oor wie en wat ek is en toe ek hom meedeel dat my hoofvakke Wysbegeerte en Sosiologie was en ek ook Grieks en Hebreeus I deurgekom het, skud hy net sy kop: „O, bliksem. Nog 'n sendeling wat vorder na ’n ellendeling". Maar toe stel hy my darem aan – en ek is hom steeds innig dankbaar!

Later sou ek hoor dat daar heelwat oud-tokkelokke in koerantredaksies sit – een van hulle was Marius Jansonnius, as ek reg onthou (dink amper hy leef ook nog). Met die lees van ds. Jasper Sch... wat koerantman was en toe dominee geword het, dink ek toe: darem gelukkig vir die kerk dat daar af en toe 'n ellendeling is wat vorder na 'n sendeling!

Ns: Marius Kleynhans is nog hier êrens in Pretoria, het pas boodskap op sy FB geplaas om na K"rant te kyk.

Ek wonder of Etienne Kriel (Wiel) nie wil help met ’n lys van oud-Oggendbladders nie – ek kan nie meer almal onthou nie, maar ons het ons kwotatjie bekendes opgekeler – benewens Harald (eerste hoofredakteur), mense soos Koos Doep en Lucas Maree. Herman Snyman bly êrens in Pretoria (Centurion) en kan seker help met die vroeë redaksielede van Oggendblad.