Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.5.12

Coalbrook-ramp "scoop" vir Die Transvaler

TOM CAIRNCROSS was in 1960 by Die Transvaler. Hy was die eerste met die nuus oor die mynramp by Coalbrook. Die verlies van 435 mynwerkers is steeds die vyfde grootste mynramp ter wêreld.  Hy deel sy herinneringe aan daardie tragiese gebeure met ons. Tom is deesdae mede-redakteur van 'n tydskrif oor boogskut in Pretoria.

Op 22-jarige ouderdom, 52 jaar gelede, was ek deel van Die Transvaler
se nagredaksiespan toe DT met die eerste uitgawe die oggendkoerante, soos die destydse Rand Daily Mail, met die Clydesdale-mynramp by Coalbrook naby Sasolburg, behoorlik ge-„scoop” het.


Dit het kort na die eerste berigte duidelik geword dat 435 mynwerkers op 21 Januarie 1960 toegeval het, in wat tot nou toe steeds die grootste mynramp in die Suid-Afrikaanse geskiedenis sou word.

Dit het so gebeur:

Boogskutter Tom Cairncross
Ek het ná ‘n paar besoeke by aanklagkantore, hospitale en lykhuise op soek na nuus, my verder telefonies besig gehou met omliggende „kontakte”, toe ’n oproep van die destydse Vaaldriehoek deurkom en die konstabel my inlig oor krake wat in paaie in die Vanderbijlpark-omgewing voorkom en dat hy verneem het van ’n moontlike mynramp aan die Vrystaatkant van die Vaalrivier, naby Sasolburg.

Ek en die fotograaf was gou op pad, foto’s van die krake geneem, verdere inligting ingewin en teen saktyd so gou moontlik Johannesburg toe gery om die eerste nuus betyds vir die vroeë uitgawe reg te kry. Die ganse nagkantoorspan het ingespring en nuus op verskeie maniere bekom.

Ek is weer terug en het my by die ramptoneel aangesluit en stuksgewys bykomende inligting telefonies deurgebel. Verslaggewers is later van die myskag verwyder en ek het deur middel van ‘n „vriend” gebeure op ’n redelike kort afstand kon waarneem en kon steeds verseker dat bykomende inligting die nag- sowel as die dagredaksie bereik.

Die dagspanne het intussen rondom die skagtoneel stories opgeraap waar boorwerk begin is in nabygeleë mielielande om te bepaal of daar wel nog lewe ondergronds was. My „verblyf” in die onmiddellike omgewing het ná ’n dag of wat byna huwelikskatestrofes gehad toe my verloofde my nie by die kantoor of die losieshuis kon opspoor nie en die nagredakteur haar moes inlig dat ek nog by die ramptoneel is.

Voortdurende nuwe inligting was legio. Transvaler-verslaggewers het met grootse pogings die lesers met vars nuus ingelig gehou. Nog ’n eerste vir my was toe ’n ingeligte mynamptenaar (ná 52 jaar kan of wil ek nie sy naam onthou nie) my in sy kombi gelaai, in die veld ingery en my die grusame verhaal van sogenaamde dak- en kantroofbewerings vertel.

Nodeloos om te sê, dit was voortydig („sub judice” – my „scoop” was daarmee heen – ons moes maande later wag om die gebeure in die hofsaak aan te hoor.

In die dae en weke wat gevolg het, was die nuus van Clydesdale oorheersend en die loodletters was nie in staat om die voorblaaie tot hul reg te laat kom nie. Daardie jare is groter houtletters gebruik om hoofopskrifte uit te basuin.

Nuwe noodskagte is gesink en spesiale bore is gebruik om gate te boor om die vasgekeerdes te prober bereik om suurstof en moontlik voedsel te voorsien. Wat deurgaans vir dramatiese opskrifte gesorg het.

Familieverhale en foto’s van slagoffers se naasbestaandes het ook die verbeelding aan die gang gehou en feitlik op die voorblaaie nie plek gelaat vir ander nuus van die tyd nie. Ander belangrike nuus in dié tydgreep was die besoek van mnr. Harold Macmillan, Britse premier. Buitelandse minister Eric Louw, wat ook sy reisplan met ander gebeurlikhede behartig het, het gereël dat mnr. Macmillan oor Clydesdale vlieg.

Sulke nuus moes opsystaan vir die mynramp. Ek het nou nog die dankiesêbrief met mashoof van Voortrekkerpers Bpk. met dr. H.F. Verwoerd se dankbetuiging as direksievoorsitter vir die werk wat ons redaksielede met die mynramp gedoen het.