Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.10.13

Alwyn se unieke bedanking

JOHAN ESTERHUIZEN skryf: Lala se foto's van Alwyn Strydom se afskeid (wat ek jammer is ek het gemis as ek so daarna kyk) het my laat terugdink aan iets wat Alwyn gedoen het wat (waarskynlik) nog nooit in die geskiedenis van die wêreld geëwenaar is nie.

Hier is dit: Alwyn het sy bedanking as sportskrywer van Die Transvaler op Vegkop se kroeg se toonbank op 'n paar velletjies toiletpapier geskryf!

Alwyn Strydom
Dit was lank, lank gelede maar die kernfeite het my nie ontgaan nie. Dit het s'o gebeur.

Alwyn, ek en Johan van Wyk (die Johan van Wyk wat nou nog atletiekskrywer van Rapport is) het een aand in Vegkop vasgehaak -- en ná toemaaktyd die geselligheid in die Porterhouse en in Van Wyk se woonstel in Hillbrow voortgesit.

Nodeloos om te sê, het ek en Alwyn besluit om sommer daar te oornag omdat daar nie te veel tyd vir slaap was nie.

Ons het daardie dae 11:00 by Die Transvaler begin werk. Toe ons wakker word, stort en vir werk regmaak, het ons tot die besef gekom dat 'n paar halwe glase drank wat daar gestaan het van die vorige aand nie gemors mag word nie. Geld was skraps in daardie tye.

Johan van Wyk
Nodeloos om te sê, ons besluit toe om die enkele halwe en minder as half glasies te drink.

Dit was 'n rampspoedige besluit.

Die steilte van Nugget Hill, Hillbrow
Ek weet nie hoe dit gebeur het en hoekom nie, maar vir Alwyn was daardie laaste voggies waarskynlik die strooitjie wat die kameel se rug gebreek het. Alwyn was skielik van voor af gekletter. Ons het in sy motor werk toe gery, maar die klein entjie van Nugget Hill af het hy byna twee kop-teen kop-botsings gehad (nie so ernstig soos dit klink nie).

Om 'n lang storie kort te maak, het ons by ons lessenaars gaan sit en begin werk.

Peet van Staden
Ongelukkig, ná net 'n paar minute, het die Peet van Staden (sportredakteur en later hoof van SAUK-nuus) agter gekom dat iets nie pluis met Alwyn was nie.

"Alewyn," het Peet streng gesê, "het jy gedrink."

Alwyn het dit ten sterkste ontken en summer die telefoon gegryp om 'n kontak te bel. Só wou hy vir Peet wys dat hy niks makeer nie. Ongelukkig (daar was mos nog nie selfone nie) het Alwyn se vingers nie so mooi die gaaitjies van die foon se nommers gevind nie. Dit was 'n giveaway.

Alwyn het summier opgestaan en uitgeloop. Reguit Vegkop toe.

ABJ
Ná 'n rukkie het Peet my gevra om Alwyn te gaan haal. Ek het die kans gesien om darem self 'n regmakertjie te geniet. Toe ek te lank wegbly, het Peet vir ABJ (André Pienaar) gestuur om ons twee te gaan haal. Dinge het nie so mooi uitgewerk nie, want ABJ het ook vasgehaak.

Ten einde laaste het Peet Christo Lemmer gestuur om ons almal te kom haal. Christo was nie stout soos ons nie.

Dit was toe dat Alwyn badkamer toe gestap het, 'n paar velletjies toiletpapier afgeskeur het en die volgende daarop geskryf het: "Peet, as jy nog 'n bobbejaan soek wat vir die karige salaris werk, gaan soek hom in die berge. Ek bedank!"

Dit was my onbenydenswaardige plig om die brief aan Peet te gaan oorhandig.

Ek het dit gedoen. Ek gee Peet tot vandag toe punte dat hy nie 'n oog geknip het toe hy die briefie gelees het nie. "Sê vir Alwyn hy moet dit in duplikaat stuur," was al wat hy gesê het.

Ek is toe terug om die boodskap oor te dra.

Om 'n lang storie kort te maak, Alwyn het nie weer by Die Transvaler gewerk nie. Hy het daarna redakteur van Tempo (die Afrikaanse koerant in die destydse Natal) geword. Daar het hy met groot welsae gewerk.

Hierna het ek kontak met Alwyn verloor toe Die Transvaler toegemaak het en ek by The Citizen gaan werk het.

Ek het later gehoor Alwyn is Australië toe.

Alwyn, waar jy ookal nou is, hoop ek jy is nie kwaad oor dié storietjie nie. Soos ek jou ken, is ek seker jy gaan ook daaroor lag. Dankie vir soete herinneringe, ou vriend!