Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.10.13

Fotodag 6: ’n Onverwagte uitklophou, luislange en oudstryders

BENNIE NEETHLINGH skryf: Die bokstoneel in die middel is ‘n foto wat ek in die vroeë jare sestig in Pretoria vir Die Transvaler geneem het. Dit was die universiteitsbokskampioenskap en die hoofgeveg van die aand.

Neil Steyn was DT se verslaggewer en ek die fotograaf. Neil het vir my gesê om maar reg te staan, want Botha, van die Universiteit van die


Oranje-Vrystaat, was die gunsteling om te wen teen ‘n outjie van die Ikeys. Maar hier teen die tweede ronde was dit duidelik dat die gunsteling dit nie gaan maak nie.


Botha was geklee in netjiese boksdrag: broek, hempie en skoene, terwyl die Ikey met ‘n rugbybroekie, gewone onderhemp en tekkies aan geboks het. In daardie ronde het die Ikey met moordende houe toegesak en uiteindelik het Botha uit soos ‘n kers buite die kryt beland. Sy afrigter (links op die foto onder) was die bekende Robey Leibbrandt. Ek vermoed dat dit die einde van Botha se boksloopbaan was.


Die meeste van die foto’s om die boksfoto bo toon luislange wat in die jare sestig deur verskillende mense in die Noord-Transvaal doodgemaak is.


Oudstryders van die Engelse Oorlog (1899-1902) was gewilde fotomateriaal in die jare sestig en vroeë sewentigs. Hier is ‘n klompie foto’s van diesulkes in die Verre Noord-Transvaal wat tussen 1964 en 1975 in Die Noord-Transvaler verskyn het.