Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.10.13

Daar was nie skandes en skandale om lieflike Glenda nie

FRANS SCHEEPERS, gewese redaksielid van Die Transvaler, skryf: Ja, ek onthou Glenda Kemp baie goed, met liefde en deernis. Ek het haar nooit op die dansvloer met Oupa die reuseslang in aksie gesien nie, maar ek het Glenda, die mooi fyn meisiekind van die Rodeon-Hoërskool op Swartruggens in die destydse Wes-Transvaal goed geken.

Glenda het ietwat van 'n moeilike kinderlewe gehad. Maar hier in die
vroeë, middel sestigs het haar lewenspad haar na Swartruggens gelei, na oom en tannie Baumbach. Hulle was dierbare mense en goed bevriend met my eie ouers, Theo en Magriet Scheepers. My pa was in daardie tyd hoof van die laerskool. Tannie Baumbach was die voorsitster van die plaaslike tak van die SA Vrouefederasie, my ma die sekretaresse.

http://glendakemp.wordpress.com/2012/01/23/swartruggens/grade-12-swartruggens-larger-copy/
Glenda in matriek.  Bron: klik op foto.
Tannie Baumbach het vir my klavierlesse gegee, maar haar klem op die teoretiese aspek van musiek het my gou verveel en my loopbaan as pianis is voortydig kortgeknip.

Oom Baumbach was ʾn afgetrede onderwyser aan Rodeon, wat Duits gegee het.

Glenda het gou die lig in hul lewe geword. Hulle was oneindig lief vir haar, en sy vir hulle. Glenda was goed bevriend met Grieta Bischoff, ook ʾn dierbare vriendin uit my skooljare wat reg langs ons gewoon het, daar by die spooroorgang oor die besige "Mafeking Road".

Glenda het goed presteer op skool en was in ʾn sin almal se liefling, selfs ʾn prefek.

Ná matriek (1968) is Glenda onderwyskollege toe. En dis in dié tyd dat Glenda se liefde vir dans haar tot die volgende fase sou lei. Dit is ook in dié tyd dat sy besef het dat haar talent op die dansvloer tot 'n nuttige inkomste kon lei. Sy het in klubs begin optree selfs tydens haar studentejare.

Dis half jammer dat sy nie haar onderwysstudies met 'n loopbaan in die onderwys opgevolg het nie. Met haar vriendelike geaardheid en die passievolle wyse waarop sy alles in die lewe aanpak, sou sy gou die kinders se liefling-onderwyseres geword het.

Die lewe lei mense soms op vreemde paaie. Glenda het in die vroeë jare sewentig gou bekend geraak as die Nommer Een Ontkleedanseres. Sy het Suid-Afrika behoorlik aan die praat gehad toe sy met haar beroemde dansmaat, Oupa, die luislang, op die verhoog begin verskyn het.

Sy was ʾn agterblad-gunsteling, maar het ook dikwels die voorblaaie gehaal. In die koerante het lesersbriewe haar gekruisig, die sinodes se omies in lang swart togas het haar verbaal gestenig (ons kon nie vasstel hoeveel sinodegangers haar vertonings skelm bygewoon het nie) en vir die volksmoeders was sy iemand uit die bose wat mans in erge versoeking gebring het.

Sy was groot nuus.

Maar in Swartruggens het die dorpenaars gewonder. Hoe kan dit wees? Onse Glenda?

En tog, al was Glenda, die ontkleedanseres met die slang, groot nuus en is sy uit baie kringe veroordeel, was
daar nooit berigte van skandes en skandale nie. Dit was net die kaaldansery. Glenda het net haar passie vir dans met oormaat uitgelewe.

So ʾn paar jaar gelede het ons vlugtig kontak gehad, op facebook. Vir ons wat haar ken, bly sy die oulike langbeen-meisiekind met die blonde vlegsels, die meisie langsaan.

Ek sou haar graag weer wou sien.

Die foto regs is deur Phillip Deetlefs, of dalk sy fotograaf, geneem toe hulle eendag in die middeljare sewentig 'n onderhoud met Glenda gaan doen het. Ek wonder of Phillip en Glenda dit onthou.