Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.10.13

Oupa knip afssssspraak kort

JAKKIE GROENEWALD skryf: Noudat daar so na Glenda Kemp verwys word ...

Toe Glenda op die kruin van haar ontkleeloopbaan was, moes ek vir Die Vaderland ’n onderhoud vir ’n storie vir die kunsredaksie met haar gaan voer.

Glenda Kemp
Ek en ’n fotograaf, Solly van Staden, is toe na die Ciro’s-nagklub in die ou Sterland-
flieksentrum in Johannesburg toe.

Ons was in die bevoorregte posisie dat Glenda net vir ons twee ’n private vertoning gelewer het, waarna ons ’n lekker middagete saam met haar geniet het.

Maar daar was sports – Glenda het haar slang, Oupa, in sy mandjie langs ons tafel neergesit terwyl ons eet. Ewe skielik spring Solly met ’n helse gil op en jy sien net glase, borde en eetgerei trek. Die rede? Oupa het die mandjie se deksel opgelig en begin uitseil, reg op die fotograaf se skoot op en die oomblik toe laasgenoemde daarvan bewus raak, was dit die einde van ons daggie saam met Glenda.

Sy het haar byna morsdood gelag vir die petalje.

SOLLY VAN STADEN onthou die voorval goed.

“Koud en skrikaanjaend,” bestempel hy sy gewaarwording toe die luislang sy skoot opseil.

Hy onthou ook ‘n ander ontleedanseres van destyds. Ná ‘n baie suksesvolle “speelvak” in Johannesburg het die vertoning Pretoria toe verskuif. En sommer die eerste aand is die danseres kragtens die wette op openbare onsedelikheid aangekeer.

Noord van die Jukskei was die sedebewakers gewis nog heeltemal te paraat.