Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.10.13

Waar is Transvaler en Metro se mense?

LITA KOTZÉ, gewese redaksielid van Transvaler en Noord-Transvaler Metro, skryf: Ek het ‘n paar weke gelede K’rant ontdek toe ek op Google rondgespeel het op soek na iets. Ek het summier ingeskryf. Nou is dit te lekker om elke oggend vroeg my koerant tuis “afgelewer” te kry. Dis net, julle praat van kollegas van só lank terug, dat dit vir my ‘n openbaring is oor watter bekende name in die openbare lewe vroeër in die joernalistiek was. Dit is nietemin ‘n heerlike nostalgiese reis om daagliks te lees wat die “oumanne” gedoen het – hoe hulle die joernalistiek bedryf het. Stout, soms!

Ek was van die personneellede wat tot feitlik aan die einde van Perskor se bestaan daar gewerk het. Nou wonder ek maar net hoekom verskyn die name van die laaste publikasies nie op die lys bo-aan die webjoernaal nie nie? Ek praat van Transvaler – daar was blykbaar vroeër ‘n “Die Transvaler” en heelwat later ‘n “Transvaler” wat later tabletgrootte geraak het. Ek het in die vroeë jare negentig vir die laasgenoemde Transvaler in die Pretoria-kantoor gewerk. Toe hy ondergaan, was ek een van die gelukkiges wat by die Noord-Transvaler Metro onder Francois Aucamp gewerk het.

Ek wonder oor (of weet van) ‘n klompie oud-kollegas van die laaste Perskorjare wat by die genoemde twee publikasies – tel dit ook? – gewerk het. Mense soos:

• Francois Aucamp (uitvoerende redakteur). Eienaar/redakteur van die Bulletin op Tzaneen. Hy is een van my mentors in die joernalistiek en ek het steeds gewaardeerde kontak met hom.
• Lee Aucamp – wat het van haar geword?
• Johann Verster (sub).
• Sandra Coetzee. Sy is mos later Beeld toe?
• Daleen van Maanen – die laaste wat ek gehoor het, woon sy naby Brits en verteenwoordig Beeld in daardie omgewing.
• Sorine van Gass – sy het saam met haar ma die biblioteek by Metro bedryf. Deur ons kinders het ons vriende geword en het vandag nog kontak met mekaar.
• Louis Kirstein – verslaggewer oor weermagsake by Transvaler.
• Zelda Venter - hofverslaggewer by Transvaler. Nou by Pretoria News?
• My goeie vriendin van destyds, Alida Nel, een van die subs by Transvaler wat saam met Earl Martin gewerk het. Sy het in die ooste van Pretoria gewoon.

(Natuurlik geld Transvaler en Metro en elke ander gewese Perskorpublikasie, -afdeling of –filiaal en K’rant hoor graag van ‘n iedere en ‘n elke oudperskormens! – Red.)