Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.10.13

Antonie se droë humor bly Jasper by

Jasper Schellingerhout skryf: Die skrywe van Tjaart Richards oor sy pa Antonie, het my laat dink aan sy “droogheid” as dit by sêgoed kom.

By dieselfde Aucklandpark waarvan Tjaart, sy seun, skryf, het die fotostaatmasjien in die subkantoor van Die Vaderland gestaan. Een van daardie waarvan die papier nog in rolle was wat na rou geelwortels geruik het, veral as die masjien lekker warm begin raak het.

Personeellede van ander afdelings het gereeld kom fotostate maak, waaronder Dulcie van der Berg, Gert van Tonder en Bienkie Wessels. Dan het ons maar ‘n paar woorde na hulle kant toe gegooi as ons nie onder druk van ‘n spertyd was nie.

Op ‘n dag kom daar ‘n jong dame afdrukke maak. Dit was ‘n Vrydag. “En wat doen jy die naweek?” vra Antonie droog uit die hoek van die kantoor.

“Ek en my man gaan vir die naweek visvang.”

Antonie: “Oooo… ag wat, ek drink sommer maar by die huis.”

Tjaart, ek is nou nog spyt dat ek jou pa nie besoek het nie toe ek in 2009 in Port Alfred vakansie gehou het. Wou sommer lekker gaan herinneringe opdiep en ook bietjie geestelik met hom gesels het, as hy sou wou.

Ek het my plig versaak en ek is jammer daaroor.

Groete uit George se wêreld.

Piet Ebersöhn voeg by: As gewese Die Transvaler-man kan ek nie instaan vir die waarheid van ‘n gerug uit DV se geweste nie, maar die storie is destyds in die gange (of in Vegkop) vertel dat toe Antonie aansoek gedoen het om sy toekomstige werk as redakteur van die Nasionale Parkeraad se tydskrif, Custos, die raad se telefoonoproep na Dirk Richard (sonder ‘n ‘s’), redakteur van DV, deurgeskakel is.

Wanneer sal dit hom pas om Pretoria toe te gaan vir ‘n onderhoud met betrekking tot die pos waarom hy aansoek gedoen het, wou ‘n amptenaar van die verbaasde Dirk weet!