Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.10.13

Betroubare beriggewing help geskiedenis skryf

AMANDA BOTHA skryf: Wat vir my veral groot vreugde verskaf het, was dat my notas en sekere berigte kon help om ‘n deeltjie van die politieke geskiedenis van die 1970’s en 1980’s aan te teken in die eerste twee boeke van die oudpolitikus, Japie Basson.

In 2000 het Jan Heunis my gevra om saam met hom te

Jan Heunis
werk aan die optekening van sy politieke herinneringe as regsadviseur van PW Botha en by Kodesa. Wat vir hom belangrik was, was om die bydrae van sy pa, oudminister Chris Heunis, op rekord te plaas. Hier was een tergende vraag, wat alle antwoorde ontwyk het: wat was die moontlike verwagte inhoud van PW se beloofde Rubicon-toespraak wat toe nooit gelewer is nie?

Destyds het ek in my omwandelings aangeteken dat Chris Heunis onmiddellik ná die lewering van die Rubicon-toespraak ‘n groepie akademici en sakeleiers op Stellenbosch sou toespraak. Dit sou die Maandag -- ‘n dag ná die verwagte PW-toespraak gewees het. In my notaboekie het ek ‘n paar name gehad van mense wat vir die vergadering genooi is. Een van hulle het onthou dat daar so ‘n uitnodiging was, maar teruggetrek is die oggend vóór die geskeduleerde ontmoeting.

Slegs met hierdie bevestiging plus my notatjie daaroor, is ek na Bloemfontein om in die Argief van Eietydse Studies te soek na ‘n dagboekie van Chris Heunis (sy seun het my vertel dat hy alles baie fyn aangeteken het). Drie dae gaan ek deur hope lêers en allerlei briewe voordat ek die dagboekie vind. Ja, dis reg, dit is aangeteken dat hy die groepie sou toespreek om die inhoud en verwagting van PW se Rubicon-toespraak uit te klaar. (Heunis was ‘n vertroueling van PW).

Die inhoud en wat daar verwag is om gesê te word, was steeds soek. Nog ‘n paar dae later werk ek deur ‘n stapel lêers wat ongemerk is, juis omdat voorop aangeteken is dat die inhoud nie relevant sou wees nie. Daar vind ek toe Heunis se toespraak wat as gekanselleer aangemerk is en die inhoud daarvan gebaseer was op PW se Rubicon-toespraak wat nooit gelewer is nie.

Dit is net so oorgeneem in Jan Heunis se boek, Die Binnekring. Terugblikke op die laaste dae van blanke regering,(Jonathan Ball, 2007). Hermann Giliomee - na ‘n deeglike fynkam - het die notas in ‘n akademiese artikel in ‘n internasionale, historiese joernaal gebruik en weer gedeeltelik herhaal in sy boek, Die Laaste Afrikanerleiers (Tafelberg, 2012).

Orals is daar nou winste – om spesifiek na my Transvaler-jare te verwys: die 18 maande lange skêrmoordsaak (ek was destyds die heeltyd daarmee gemoeid) word nou met hoofsaaklik Die Transvaler-knipsels deel van die memoire van die verdedigende advokaat, Wilfrid Cooper. My foto’s, notas en verslaggewing van die destydse omstrede verbod op André P Brink se Kennis van die aand en die hofsaak wat daarna gevolg het, het deel van Brink se memoire, Vurk in die pad, (Human & Rousseau, 2011) geword.

Ek lys hier ‘n paar voorbeelde om opnuut my vertroue in die joernalisatiek te konstateer.

Betroubare beriggewing bly ‘n belangrike vorm van eietydse geskiedskrywing. Dit is ‘n verrykende en dankbare ervaring om agterna op dié wyse ‘n bydrae te kan lewer as deel van die nasionale rekord.

Elke joernalis kan sy/haar eie storie hieroor vertel – dit is nie die unieke ervaring van enkelinge nie. Wanneer ek hieroor verslag doen, is dit om by herhaling my geloof in joernalistiek, as beroep, te bevestig. Ook om opnuut dankbaar te wees om só ‘n getuie en skriba van ons tyd te kan wees.

(Nota: Steeds is ek elke dag op my pos, geseënd met werk wat ek graag doen. Ek het die afgelope twee jaar ‘n groot betrokkenheid gehad by TV-dokumentêre films wat vir kykNET vervaardig is. Dit is deel van hul reekse ‘Formidabele vroue’, ‘Stroomop’ en’ Wie lê waar’. Ná ‘n dekade se betrokkenheid by Afrikaanse kunsfeeste soos die Woordfees op Stellenbosch, Suidoosterfees in Kaapstad en die KKNK op Oudsthoorn, staan ek terug om op ander terreine te werk. Ek is betrokke by die visuele kunste, tree as kurator van tentoonstellings op, skryf daaroor en begelei kunstenaars, in die sin dat ek as klankbord vir hulle optree.

Kunswerk van
Eleonor Esmonde-White
Kunswerk van
Walter Meyer
Ek versorg, as kurator, drie skrywers se literêre nalatenskap en is betrokke by her- of nuwe uitgawes van hulle werk. Tans is ek besig met die afronding van twee monografieë oor die kunstenaars Eleonor Esmonde-White en Walter Meyer wat volgende jaar verskyn. My groot taak waarmee ek hopelik volgende jaar voltyds aan sal werk, is ‘n biografie oor die digter Sheila Cussons en die versorging van haar nagelate briewe in ‘n afsonderlike publikasie.

Dis darem nie net alles werk nie, ek reis baie – in die buiteland en geniet ekspedisies in Afrikalande. Ek is dankbaar oor wat my te beurt geval het.)