Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.10.13

Hans fnuik die veiligheidspolisie

Add caption
HANS LOMBARD skryf: Ná my artikels oor my wedervaringe agter die Ystergordyn en Moskou verneem Peet Simonis of die veiligheidspolisie my nie wou skep met my terugkeer nie. (Net terloops, Peet, ek is Lombard en nie Lombaard nie, asseblief.)

Nee, voor my vertrek moes my paspoort op spesiale versoek deur Buitelandse Sake geëndosseer word dat ek magtiging het om die
Sowjet-Unie te besoek. Daarvoor moes toestemming van die veiligheidspolisie verkry word om te sertifiseer dat ek nie kommunistiese neigings het nie. Daardie jaar het ons die busboikot in Johannesburg gehad waar massas swart mense elke Sondag in Alexandra saam getrek het om teen die verhoogde busgeld te protesteer.

Saam met ons joernaliste was die veiligheidspolisie elke Sondag daar, want hulle het geglo die optogte is kommunistiese geïnspireer. Só het ons mekaar goed leer ken en ook dikwels perskonferensies by die polisiehoofkantoor in Pretoria bygewoon. Die hoof van die veiligheidspolisie destyds was brig Sampie Prinsloo en sy adjudant in Johannesburg maj At Spengler.

Maar met my terugkoms uit Moskou wou ek toets hoe paraat die veiligheidspolisie teen die “Kommunistiese Gevaar” is waarteen hulle ons daagliks gewaarsku het. Ek ry toe eendag Pretoria toe met ‘n groot Russies vlag, rooi, hamer en sekel voor op my motor met die bekende Stalin-pelshoed op my kop en voorop pryk die groot Russiese kenteken, rooi ster met hamer en sekel en ek parkeer reg voor die polisie hoofkantoor, op ‘n geel streep reg voor die hoofgingang. Ek sit so ‘n oomblik en kyk hoe polisiemanne in uniform en gewone klere in en uit beweeg en aanstap.

Foto gemanipuleer
Ek stap die gebou binne met my Russiese mondering, skuur skouer met polisiemanne, klim in die hysbak saam met hulle, klim op die eerste vloer uit en stap na brig Prinsloo se kantoor, lui die klokkie en sy lyfwag, kapt Gertije Prinsloo, (later jare kommissaris van polisie) maak die luik in die deur oop. Hy staar my in die gesig en vra waarmee kan hy help. “I’m from Moskou and I want to see Brig Prinsloo.”

“Laat hom inkom en hoor wat hy wil hê,” antwoord die brigadier. Ek stap na hom toe, hy erken my nie dadelik nie. Ek steek my hand uit. “Good morning. Greetings from Moscow.”

“And who the hell do you think you are? bulder hy. Toe ek my hoed afhaal, herken hy my en lag.
Ek verduidelik waar my motor staan en sê ek wil graag ‘n artikel skryf oor hoe laks die polisie is teenoor Russsiese infiltrasie in die hoofstad voor die hoofkantoor van die polisie.

“Ja, en dit sal die laaste storie wees wat jy in jou lewe sal skryf,” waarsku hy, en stap saam met my uit na waar my motor staan. Alles eindig in ‘n goeie grap en ek trek daar weg terug Johannesburg toe nog met die rooi vlag voor op my motor.