Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.9.13

Fotodag 5: ABJ en sporthelde

WYLE ANDRÉ (ABJ) PIENAAR se neef JACO HENNING het vir K'rant 'n klompie foto's gestuur waarop sy oom verskyn.

As sportskrywer het ABJ onder meer oor fietsry en boks berig. Hy het ook 'n jeugboek oor boks geskryf. Die eerste van die foto's is saam met sportmanne oor wie se doen en later hy gerapporteer het.


Johan (Essie) Esterhuizen en ABJ skuur skouers met die Amerikaanse bokser Big John Tate voordat Tate die Suid-Afrikaner Gerrie Coetzee op 20 Oktober 1979 oor 15 rondes op Loftus Versfeld om die WBA se swaargewigtitel geklop het.

Charlie Weir (regs) en sy destydse afrigter Willie Toweel toets André se maagspiere. Weir, bekend as die "Silwer Sluiper" was 'n SA middelgewigbokskampioen in die laat jare sewentig en het om die wêreld- junior middelgewigtitel geboks. Toweel, lid van 'n legendariese boksgesin, het in die jare vyftig opeeenvolgend die SA kapokgewig-, veergewig-, liggewig- en weltergewigtitels gehou. Hy was ook die Britse Rykskampioen in die liggewigafdeling en het as amateur die bronsmedalje op 1952 se Olimpiese Spele in Helsinki gewen

Die bokser Bushy Bester saam met André.


Dis vermoedelik die boksers Pierre Fourie (SA middelgewig- en later ligswaargewigkampioen wat vier keer om die wêreldtitel geboks het) en Bushy Bester (SA junior middelgewigkampioen, wat ook 'n slag om die WBA se titel geveg het) wat die geleentheid saam met André geniet.

Een van Suid-Afrika se grootste fietsryers van alle tye, Alan van Heerden, saam met André. Van Heerden het verskeie SA baantitels in die jare sewentig gewen en die Rapporttoer in 1982 en 1987.