Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.6.12

Uit herinnering se wei …

GERT COETZEE skryf: Ek het Philip en Wilma Deetlefs met 'n breë glimlag in K’rant raakgelees. Die laaste keer toe ek in hul kontrei was, was in Augustus 1981.

Drie maande-kamp in Sektor 10. Natuurlik het een of ander nuusredakteur met galgehumor dit, nadat ek uitgeklaar het,
goedgedink om my summier terug te stuur Oshakati toe vir die, wag daarvoor, amptelike opening van die nuwe tennisbane by Driehoek. In dié tyd het iemand 'n rooi-oog (missiel) afgevuur na Voortrekkerhoogte, sonder noemenswaardige skade of verlies.

Die hoogtepunt van my Grenstrip, namens Die Transvaler, was toe 'n kommandant laataand vertel: „Ja, hier veg ek dapper vir my land op die Grens en daar slaan Ma ’n kontak in die ’Hoogte.ˮ

 Ewenwel, my storie ... Militêre korrespondente en die offisiere wat hulle vergesel, is werklik hardebaarde as dit kom by laatnag-verorbering-en-filosifisering, met die gevolg ’n ou is ná die besoek en urelange vliegtuigrit (in 'n DC3, lees: kotskoets) terug huis toe in redelike gehawende toestand.

En so stryk ons skemeraand neer op Swartkop. Maar toe breek een van die langste ritte van my lewe aan: Parys toe saam met André de Bruyn in sy bruin Peugeot, saam met ons onderskeie aanhangsels om vir Philip en Wilma te gaan trou.

Ons het die kerkdiens gemis, maar nie wat daarna gebeur het nie. Dit was 'n lang nag, want ons is weer met die lang pad terug Joeys toe...

Ek dink Wilma verdien die medalje vir dié lang samesyn, want ek kan nie glo Philip het met die jare bedaar nie. Vermoedelik toe ek nog vlerkgesleep het, beland Philip saam met my by my deftige aanstaande skoonfamilie se huis in Menlopark, Pretoria.

Ons was reeds gemoedelik en ek het vir ons gasvrou (wat ek moet bieg, later my skoonma geword het) laat verstaan ons is honger. Die smaaklikste dis is voorgesit en ek en Philip het heerlik weggelê. Toe hy sy mes en vurk parkeer, kyk Philip in die kombuis rond waarmee hy sy mond kan afvee en al wat beskikbaar was, was skoonma se spierwit kat.

Ons het nie gesien sy spioeneer op ons nie en moes terstond beleef groet en terugkeer Johannesburg toe... Ek geniet my K'RANT en belowe ek gaan nog oor baie mense skinder!