Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.6.12

Johann was meer as ‘n kollega en vriend

WILLIE BUYS skryf: My hart was bitter seer en ek was sprakeloos geskok toe Retha van Loggenberg die Saterdagoggend bel met die nuus dat Johann, haar man van skaars ‘n jaar, dood is. Verongeluk. Op sy kragtige nuwe spog-BMW-motorfiets wat gegly het op die sandbank van ‘n stofpad in die berge van Betlehemse distrik in die Vrystaat.

Johann van Leggerenberg
My kollega en lewenslange vriend Johann en sy gesin saam met wie ek en my familie oneindige (?) sakke sout met lief en leed kafgedraf het op ons ondermaanse kronkelpaadjies. Johann was nie net ‘n vriend nie, nee, veel meer: hy was soos ‘n geliefde broer met die verskil dat daar nie die gevaar was van irritasie en struwelings wat voortspruit uit ‘n te noue broederlike verbintenis en samesyn nie.

Nee, ons het net gekuier as die behoefte daar was. En dit was altyd lekker! Die onverbiddelike en onverstaanbare finaliteit van sy dood het gesukkel om deur die waas van skok te dring wat Retha se traandeurdrenkte tyding meegebring het: Johann was weg, sy amper ongeskende liggaam nog met ons, maar sy gees iewers anders.

Sy lewensdraad is met skielike abruptheid geknip op die pad waar hy en lede van die BMW-motorfietsklub besig was met hul gereelde jaarlikse motorfiets-ekskursie. Die bittere ironie van sy dood is dat dit op sy pad gekom het het skaars ‘n jaar nadat een van sy seuns geval het met sy kleinerige motorfietsie en benewens skrape en snye, ook sy arm gebreek het. Johann het hom toe summier verbied om motorfiets te ry – min wetende dat sy eie dood hom op ‘n sandbank om ‘n draai ingewag het.

Nog ‘n skreiende ironie bly in my herinnering vassteek: Retha se strooihalm-vertroosting dat hy darem nie alleen alleen was toe hy gesterf het nie. Sy motorfietskollegas was saam met hom toe hy weens onder meer ‘n geperforeerde milt sy laaste asem uitgeblaas het. En van toe af het die agtergeblewenes se smartlike gemis begin – iets wat kort-kort opspring tot die bewussynsvlak by herkenning van sekere plekke en gebeure waarin hy gefigureer het.

Ek was deel van sy vrou Retha se rouproses – die tydperk wat sy bitterlik opstandig met die Godheid gestry het oor wat sy gemeen het Sy ontydige wegneem was van ‘n wonderlike man wat haar so ‘n kort rukkie van ekstatiese geluk gegun is; die gemis aan al die vreugdes wat ‘n liefdevolle, maar kortondige huwelik aan twee mense in hul middeljare gebied het. Vir albei ‘n tweede kans om hul stukkende lewes se drade weer op te tel.

Vir dié wat nie weet nie - Johann het sy geliefde eerste vrou Alta ook ontydig vroeg aan kanker afgestaan. Retha het ‘n erg traumatiese egskeiding moes deurmaak. ‘n Laaste woord oor Johann – net indien julle die idee sou kry hy was ‘n onbevlekte engel sonder sonde. Nee, hy was dit nie, maar Retha roem haar daarop dat sy besig was om een van sy groot swakhede te harnas – sy kort humeur en ongeduld wat partykeer as geselslae met groot ergenis op die uitlokkers van sy argwaan neergereën het. Johann: jy is dalk weg, maar in die gees leef jy en gaan jy nog lank by ons rondhang …