Iewers in die laat jare sewentig het Perskor in Johannesburg (weer ‘n keer) sy eie rugbyspan gehad. Perskor het selfs die truie verskaf – sulke vlootbloues – en behalwe die meerderheid hoi-polloi was daar ’n paar knap spelers wat by tye vir die span uitgedraf het.
Sportskrywer Chris Swanepoel het nie te lank voor dié tyd nie nog vir Oos-Transvaal losskakel gespeel; fotograaf David Briers het vir Diggers en Transvaal B gehaak; politiekskrywer Piet Coetzer het vir Pirates skrumskakel gespeel, met nuusredakteur Willie Buys wat vir hom ingestaan het as Piet Parlement toe was; en daar was so ’n rankerige advertensieman (wie se naam my ontgaan het) wat vir Noord-Vrystaat uitgedraf het. O ja, een van die litomanne, ene Steve (ek meen sy van was Fourie), het Transvaal o.20 verteenwoordig.
Die groot jammerte was al dié sterre nooit gelyktydig beskikbaar was nie, en wanneer hulle daar was, was die las op hul skouers in Atlas se klas.
Van glorie was daar dus nou nie alte veel sprake nie.
Daar was darem een wedstryd wat die span en ondersteuners groot lekkerkry gegee het. Dit was op ’n vakansiedag teen die Lugmagmenasie in Valhalla. Die menasiespan was ’n harde neut om te kraak, maar die voorspelers het darem soort van hul man gestaan. Agter wou dinge nie vlot nie en teen rustyd was die Lugmagmanne goed voor.
Piet Coetzer |
Jan van Vuuren het ook vir ’n onthou-oomblik gesorg toe die persspan op die Hoërskool Noordoos-Rand se veld teen die een of ander bout-en-moermakers gespeel het. Perskor het ‘n strafskop so tien tree van die teenstanders se doellyn af gekry.
Jan, wat dié dag kaptein was, tel die bal op, draai na sy span toe en vra vir almal om te hoor: "Wie kan pale toe skop?"
Terwyl ’n agterspeler gretig nader draf en die moermakers pale toe stap, tikskop Jan doodluiters die bal, en draf oor die doellyn vir ’n drie.
Klik op die advertensie om na die webtuiste te gaan. |
Lekker wintie, besluit ons toe ons toer Laeveld toe – eers ’n wedstryd teen Skukuza in die wildtuin. Ons leen ’n tent by die Voortrekkers iewers in die Laeveld en slaan dit in die Wildtuin op vir slaapplek.
Schalk van Schalkwyk was destyds redakteur van Die Laevelder op Nelspruit, een van die plattelandse koerante in Perskor-besit, en hy sou vir ’n span teenstanders op dié (toe nog) dorp sorg.
Maar wee, o wee! Van al die uitblinkers is net die advertensie-slot beskikbaar en dit gaan oor die algemeen maar raap en skraap om 15 man vir die toer bymekaar te kry.
Skukuza het ’n omgesukkelde en afknouerige span en ons kom bedroë daarvan af. Boonop ontwrig Johan van Wyk ’n skouer en ek ’n knie – en ons het nie plaasvervangers nie.
Onderweg Nelspruit toe sou Alwyn Strydom en wyle André Pienaar eers die Voortrekkers se tent gaan terugbesorg, en daag toe nooit by die veld op nie.
Regs: Schalk van Schalkwyk sit tweede van links in die voorste gestoelte van Noord-Transvaal se o.20-span van 1968, met Daan du Plessis regs agter hom. Dit kom uit die boek “Noord-Transvaal 50”.
Die ergste is toe nie dat ons net elf spelers het nie. Die ergste is dat die teenstanders, wat Schalk ‘n „Laeveldse Uitnodigingspan” noem alles behalwe ’n sosiale rugbyspan is en twee teenswoordige provinsiale spelers bevat in die persone van die
Suidoos-Transvalers Willie Meintjes (senter) en Hecules du Preez (agsteman). Schalk homself was op sy dag die Springbok Daan du Plessis se stutmaat in ’n omgesukkelde Blou Bulle-o.20-span. Verder het ons nie uitgevra nie.
Wat nou gedoen?
Schalk-hulle staan toe twee van hul spelers – en moenie dink dis van die uitblinkers nie – aan Perskor af en soos wafferse rugby league-spanne draf ons 13 aan ’n kant teen mekaar uit.
Willie Buys |
En toe ek die volgende dag op kantoor kom, ná my eerste dag siekteverlof in langer as drie jaar wat ek by Die Transvaler werk, toe trap die ongenaakbare nuusredakteur my terstond uit omdat my private bedrywighede met my werk inmeng!
Nie wie nie – Willie Buys!