Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.6.12

Terugkyk is soos 'n begraafplaas-wandeling

THIJS NEL was meer as 40 jaar gelede kunsredakteur van Die Vaderland. Sedertdien het sy skilderwerk internasionale aansien gekry.

Afbeeldings van sy skilderye is hieronder.

Thijs het al meer as 40 uitstallings wêreldwyd gehou en van sy kunswerke is in talle museums en private versamelings opgeneem waaronder:

  • Die Rupert- en Oppenheimer-versamelings,   Johannesburg-Kunsmuseum,  
  • Roodepoort-Museum,
  • Lichtenburg-Kunsmuseum,
  • Pietersburg-stadsraad-versameling, 
  • Die Nasionale Museum van Botswana,
  • Die Cité-Internasionale-des-Arts in Parys, Frankryk, ,
  • Musée des Beaux Art in Montreal, KanadaLonghouse Foundation Trust in New York, VSA en
  • Private versamelings in Engeland, Skotland, die VSA, Frankryk, Holland, Israel, Ethiopië, Japan en Suid-Afrika.

Benewens pottebakker en beeldhouer is hy ook die skrywer van 'n aantal kortverhale en boeke waaronder 'n Annerster Soort, Sluitsteen en Oor Skeppingsdrif oftewel Kreatiwiteit
Thijs woon in Oudtshoorn.  Hier vertel hy van sy wel en weë. 

Die afbeeldings hieronder is skilderye van Thijs. 
 
Dit is nog altyd vir my ironies dat ek met Veeteelt as hoofvak aan die Hoër Landbouskool Merensky naby Tzaneen gematrikuleer het.

Daarmee saam had ek Afrikaans (onderskeiding en glo hoogste punte vir die letterkundevraestel in die land) Engels, Duits, Geskiedenis en Biologie... universiteitstoelating, maar geheel en al ongeskik om enige werk te kry, soos ek ’n jaar later ná my militêre diensplig moes vasstel.

My pa wou hê ek moes predikant word, maar die periode in die burgermag, het my van alle geloof in die kerk en oorgrote mensdom genees ... ek wou toneel speel en nie op ’n preekstoel nie! My pa het geweier om vir universiteit "geld te mors" en my sonder seremonie by ’n veraf familielid van hom in Johannesburg afgelaai.

Ek moes self opsnork en werk soek... skoene deurgeloop vir ’n maand en uiteindelik by die destydse Departement van Arbeid in De Villiersstraat, regoor Piel’s Cold Storage (die stank van daar het baie bygedra tot my besluit in later jare om lakto-vegetaries te leef) in wanhoop as klerk begin werk. Saamgegooi in ’n algemene kantoor met ’n groep baie ouer verrinneweerde mans wat soms nugter was. Ek moes meestal van kantoor tot kantoor lêers soek, afhaal en elders besorg.

 
Na ses maande was ek op die rand van selfmoord en het die nywerheidsielkundige my getoets en aanbeveel dat „jy met al jou verskillende aanlegte miskien in die joernalistiek ‘n heenkome moet vindˮ. Ek neem 'n dag verlof en sit af na Die Vaderland en spreek mnr. Len Lindeque wat as personeel- beampte geageer het.

"Jy het geen ondervinding nie,ˮ was sy verweer toe ek vra om asseblief daar te mag werk.
 

"Hoe kry ‘n mens die nodige ondervinding as niemand jou ’n kans gun nie?” het ek parmantig teëgekap.

"Ek sal sien wat ek kan doen en jou binne vier dae laat weet.”

Op die vyfde dag, ’n Vrydag, bel ek hom: „U het beloof om my binne vier dae te laat weet: ja of nee?”
 

"Nee ons hoofkantoor in Pretoria moet nog besluit.”

Maar dieselfde middag skakel hy my terug met die nuus dat ek Maandag kon begin, maar ek moes eers ordentlik bedank by Arbeid wat my summier laat gaan het en kon ek die Maandag aanmeld.

Daar was slegs vyf mense op die algemene redaksie, behalwe die klomp by sport en natuurlik die vroueblad. Ek het vullers vertaal en teaterartikels uit Duits vir Chris Barnard (kunsredakteur) en later ook vir Abraham de Vries. Ek het die landlynmasjien hanteer en is ook saam met Jan Hoeksema op sy draaie na die hof. Het selfs vir die vroueblad iets gedoen en vir almal tee aangedra. Ná na ’n jaar het ek besef ek moet terug Universiteit toe anders gaan ek nie die mas opkom nie.

Teen dié tyd het my pa besluit dat ek net so hardkoppig was soos hy en het hy bes gegee. Ek is vir drie weke na UP, maar terug in ’n koshuis saam met jong manne wat drie jaar jonger as ek was en die stikkende koshuis dissipline het my laat besluit om liewers na Wits te gaan. Daar het ek besluit op BA Beeldende Kuns met Afrikaans by as een van my hoofkursusse.


In my laaste jaar het Aletta (destyds Lettie) Greyling (later Pakendorf) wat toe kunsredakteur was, besluit om te trou en is sy en Harald oorsee na die perskantoor ... ek meen in Londen. Ek is gevra om die blad oor te neem.

Ek begin op ’n Maandag, sonder enige leiding van enigiemand met net ‘n paar lêers vol publisiteitsmateriaal van reklamemaatskappye. Op die kop 8-uur plaas Frans du Toit pagina 2 voor my met: „Jou blad sak 12-uur.” Ek het my gat afgeskrik, maar daardie blad het nog voor twaalf gesak. 

Ek was vyf jaar lank kunsredakteur met ’n onderbreking van vier maande in 1969 toe ek Londen en Europa toe vertrek het om my sangloopbaan te probeer vorm. Die ontdekking dat ek outosklerose (soos dit oorerflik my hele familie aan beide vader en moederskant getref het) as lotgeval had, het my laat besef dat die opera verhoog nie vir my bestem was nie en is ek terug Vaderland toe. In 1969 het ek op ’n tweede besoek aan Europa om my „verlore psigeˮ terug te vind, besluit om vir ten minste ’n jaar terug te keer na Parys. Dit het dan ook gebeur en het ek van 1970 tot 1975 in Parys gestudeer en gewerk.

Terug in Suid-Afrika: ná vyf jaar moes ek besluit of ek vir die res van my lewe „un értrangerˮ wou wees of liewer ’n identiteit in ’n Vaderland wou hê ... het ek teruggekeer. Ek het besef dat ek nooit weer ’n vaste betrekking sou kon aanvaar nie en maar my genade kunstenaarspotjie as lot moes aanvaar.

 "As jy kunstenaar wil speel, gaan jy van honger omkom,’” het my pa gebrom. Tot nou toe het ek redelik oorleef ... wel soms moes uitspring en in die sewentiger jare het ek soms vir periodes van 10 ure per dag by die SAUK-TV voor ‘n monitor gesit en vertaalwerk doen vir oorklanking van ’n hele boel Franse dramas en sepies en ook dokumentêre goed. Dit was soos ook in die joernalistiek, bloedgeld, maar soos die Ingelse sê: 'Beggars can’t be choosers'.ˮ

Ek is egter nie "kwaadˮ nie. Dit was alles wonderlik. My ou sangonderwyseres, Madame Leah Williams het my deeglik laat verstaan: "My darling, life is not what you make it, it is how you take it.”

Ek kyk nie dikwels terug op die verlede nie. Dit is soos om deur ’n begraafplaas te wandel. Wat verby is, is beter agtergelaat. Ek probeer om die lewe sinvol te verwerk (of te besweer ... miskien dieselfde ding?) deur alles vir myself te probeer "mooi" maak. Ek wil nie betrokke raak by protes-enigiets nie, veral nie in die kunste nie, want ek kon my weg nog nooit oopsien om geld te maak uit ander mense se ellende nie. Ek verkies dat my werk mense gelukkig moet maak ... die lewe leefbaarder stem.

Ek glo vas: Dit wat mooi is, is go(e)d. Sela!

Besondere prestasies:
  • In 2003 ontvang Thijs die Universiteit van Pretoria se Erepenning vir sy bydrae tot kuns in Suid-Afrika en die KKNK se Kanna-toekenning vir die beste visuele-kunste-bydrae. 
  •  In 2005 ontwerp Thijs die Kanna-trofee. (Die Kanna-toekennings vereer nie net die gewildste en beste opvoerings nie, maar erken ook prestasie deur kunstenaars, regisseurs en tegnici in ’n verskeidenheid kunssoorte.) 
  •  Ook is hy in 2005 benoem as internasionale visuele kunstenaar van die jaar deur die International Biographical Centre in Cambridge. 
  • Onder opdragwerk tel die 1971-muurskilderye in die eetkamer van die Amadeus Mozart-skool in Bois d’Arcy, Frankryk, die dekor vir Pacofs se produksie van Don Pasquale, en etlike fonteine vir bekende tuine, onder andere die Vrede vir Afrika-fontein op die kampus van die Universiteit van Pretoria. 
  • Thijs skryf enkele dramas wat deur Potchefstroom Universiteit se Drama-department opgevoer word: Fleur de lys (1985), Fluit vir die vlieë (1987, met Sandra Prinsloo en Ben Kruger, regie Ilse van Hemert. Prinsloo is bekroon met die Vita en Dalro vir beste aktrise), In memoriam patris (1988) en Brief vir die Harlekyn (2007, met Paul Eilers en vir die KKNK). 

    Thijs Nel se Credo   For as long as I can remember, painting and other disciplines of the creative process, has been for me a means of coming to terms with my immediate environment. I have to find a balance between nature and that which is man made, including the artefact itself. Something universal and satisfying -- something beautiful, should enter into this balance. Working in the service of these qualities, is a dynamic process which should keep me occupied for the rest of my life.
    In die laaste kwartier van my lewe is dit met dankbaarheid dat ek as ’n skeppend denkende mens mag besig bly: dat die skeppingsproses as lewende meditasie, ’n genadegawe is waarmee ’n mens die lewe sinvol kan verwerk. 
    Alles wat mooi is, word uiteindelik go(e)d.