help, omdat die twee vroue daar nie te geneë was om nagdiens te werk nie en die subs saans foto’s en koerantknipsels benodig.
Daarbenewens moes ek hom saans huis toe neem. Andries, toentertyd se misdaadverslaggewer, het my gebruik om ongelukslagoffers se foto’s by familie te gaan bedel. Dit het die subs nie lank geneem om my tussen in as stuurjong tussen hulle en die fabriek in te span nie. ’n Sekere mnr. Gordon was die fabrieksvoorman. Een van die subs het hom Flash Gordon gedoop na aanleiding van ’n gewilde strokiesverhaal van destyds.
Een van die subs het my op ’n aand fabriek toe gestuur om na ’n voorbladopskrif te gaan kyk wat glo volgens die kwasterige oom Flash te lank is en oorgeskryf moet word. Die betrokke sub wou hê oom Flash moes dit aan my bewys omdat hy seker is die opskrif sal pas.
Flash Gordon |
Nodeloos om te sê oom Flash was van toe af, wat my betref, mnr. Gordon.
Een aand trek een van die subs my nader om, wat vir na ’n wolhaarstorie gelyk het, op te volg. Ek moes Hillbrow toe om ’n wenk te bevestig van ’n Oos-Randse gesin wat saam met Ouma in Johannesburg by familie kom kuier het. Ouma het glo in die motor die tydelike met die ewige verwissel. Die vrou en kinders was histeries en het geweier om verder te ry. Die man sou besluit het om die voorval by Hillbrow se polisie aan te meld. Die vrou en kinders het by ’n padkafee gewag.
Terwyl die man die sterfte aangemeld het, is die motor met Ouma in glo gesteel. Ek het dit betwyfel, maar is aangesê om dit by die polisie te gaan bevestig, omdat die waarheid vreemder as fiksie kan wees. Ek het dit steeds nie geglo nie, maar in elk geval gery. ’n Sersant by die polisie (wat deur die sub by die versinsel betrek is) het dit bevestig dat ’n man so ’n voorval aangemeld het, maar my verseker dis nie ’n storie nie, omdat die blitspatrollie die motor en die oorledene klaar opgespoor het.
Ek is terug kantoor toe, half oortuig as die polisie dit dan bevestig. Die res van die subkantoor het in daardie stadium hul aandete geëet of gedrink en net die steensub was daar, Hy het my aangesê om die berig te skryf en dit op die voorblad ingemerk met die wete dat oom Flash die versinsel sal keer en my sal uittrap. So gesê, so gedaan.
Oom Flash het nie gedink dis snaaks nie, omdat ek die soveelste groentjie is wat met dié slap riem gevang is. Hy het die berig ingepak en ’n nat proef boontoe gestuur, maar intussen met die masjienman gereël om ’n klompie eksemplare van die koerant met dié berig te druk. Dis met die regte berig vervang voordat die koerant regtig gedruk is.
Die steensub met die nat proef in die hand het my met ’n hartlike lag en ’n „Uitgevang, sucker!” begroet.
Toe daag oom Flash koerant in die hand op om te verneem of daar nie oorgegiet word nie en hy plak die koerant voor die sub neer. Die kêrel sien die berig en skrik hom uit sy geloof uit. „Oom Flash, is jy van jou sinne beroof!” gil hy „Jy weet mos dis net ’n grap. Stop die masjien!ˮ „Flou grap,ˮ sê oom Flash. „Dis klaar reggemaak. Moenie my tyd mors nie.” Al wat ek toe kon sê is: „Uitgevang, sucker!”
Wat ek verswyg het, is dat oom Flash my ook uitgevang het.