Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.6.12

Oor Soweto se Godfather en ander karakters en kaskenades


ANDRIES BOTHA, voormalige assistent-redakteur van Die Vaderland, vertel van sy ervarings in Soweto.

Een van die kleurrykste karakters wat ek in my lewe as joernalis raakgeloop het, was Godfrey Moloi, eienaar van die Blue Fountain-restaurant in Soweto, wat eintlik as die Godfather bekend was en oor wie se
lewe daar twee boeke verskyn het.

Godfrey Moloi
In sy jonger dae was hy 'n bendeleier en in daardie dae het hulle mense nie met rubberslangetjies of goggatjies bang gemaak nie, nee, hulle het mense bang gemaak deur hulle dood te maak. Voortbestaan was desjare 'n oorlewingstryd. En bendes was genadeloos.

Maar hy was dwarsdeur sy lewe ook 'n musikant van formaat, wat veral die saksofoon kon bespeel en enigiets kon sing van Nat King Cole tot Satchmo, of te wel Louis Armstrong.

Dit was 'n lang pad van die bendedae af toe drank nog onder swartmense verbode was en hulle in paraffienblikke hul eie alkohol gestook het van enigiets van turksvyblare tot perskes en appels. Enigiets, solank daar net suiker was om die alkohol uit te bring. Die kanne is dan vir die polisie begrawe en net uitgehaal wanner dit gebruik gaan word. Alles baie skelm.

My pad het met die Godfather s'n gekruis toe ek en Ben de Kock, 'n oud-Burgerman van Kaapstad, 'n projek vir die Wynstigiting aangepak het om beskaafde wynverbruik in die townships te bevorder. 'n Deel van die projek was 'n lewenstyl-maandblad waarvan Perskor vir ons 150 000 per uitgawe gedruk het wat dan in die townships van die Vaaldriehoek tot in Pretoria versprei is.

Daarin het ons al die "movers en shakers" van die townships belig en ook TV-programme laat maak oor Brenda Fassie, Yvonne Chaka Chaka, Mara Louw en 'n horde ander wat langs hul swembaddens of by 'n vleisbraai of in hul sitkamers verkondig dat wyn 'n ideale metgesel vir kos is en dat dit tot die algemene gesondheid bydra.

In die proses het ons feitlik elke sjebien besoek, van Soweto tot Sharpeville tot Mamelodi – waar die aktrise, Nakedi Ribane, ons na haar gunsteling-sjebien geneem het.

En Godfrey Moloi ontmoet. Hy het toe al heeltemal bedaar en was 'n respektabele sakeman. In sy Blue Fountain was daar 'n spuitfontein en foto’s van bekende persoonlikhede soos Pik Botha en talle buitelandse ambassadeurs wat al daar besoek afgelê het.

Maar Godfrey het ook die rol van gemeenskapsleier gespeel. Hy het straatkinders bymekaargemaak en hulle leer musiek speel. Hulle was deel van sy orkes wat uitmuntende jazz-musiek gespeel het.

Hy het ‘n “Night of the Stars” in die Blue Foutain aangebied waar hy TV-persoonlikhede soos Joe Stewardson en Sandra Prinsloo vereer het. Ek en my vrou was gelukkig genoeg om daarheen genooi te word. En later, toe sy seun sy BComm-graad verwerf het, het ek my dogters saamgeneem. Dit was 'n fees.

Een ding is seker: as jy jou motor by die Blue Fountain geparkeer het, sal hy nog daar wees as jy watter tyd van die oggend ook al daar uitkom. Niemand steel in die omtrek van die Blue Fountain nie.

Moloi is in 1998, toe 65 volle lewensjare oud, met fanfare heen, maar baie van sy projekte leef voort. Een daarvan is die Soweto Goodwill Games, wat al meer as 'n kwarteeu aan die gang is.

Lucky Michaels
Maar Moloi was nie al karakter wat ek in Soweto leer ken het nie. Daar was ook Lucky Michaels, voorsitter van die SA Taverners Association. Lucky was flambojant – in kleredrag en in persoonlikheid. Hy het ons eendag die storie vertel van sy besoek aan Amerika, wat aldus getipeer het: “Apartheid is alive and well and living in the United States”.

In New York, het hy vertel, het hy in 'n restaurant gaan sit om iets te ete te bestel toe 'n kelner na hom toe stap en bars sê: “We don’t serve Niggers.”

“And I don’t eat them either,” het Lucky geantwoord. Maar, seg hy, hy is toe maar vinnig daar weg.

In Dallas het hy by 'n kroeg ingestap en 'n paar kroeggangers het hom skeef aangekyk. Die kroegman het hom gevra: “What do you want, Nigger?”

“A double brandy and Coke,” het Lucky geantwoord.

Die kroegman het omgedraai, 'n glas halfvol brandewyn geskink, die Coke langsaan neergeplak en gesê: “Now you pour that Coke into that brandy, gulp it down, get the hell out of here and never come back.”

Lucky het 'n Afro-Amerikaner met hom saam teruggebring en hom in die lewe van Soweto ingelei. Ek het die Amerikaner self hoor sê: “In the states we just live next to each other. Here you are neighbours.”

En dit is tog, o, so waar van die townships. As daar 'n begrafnis is, is almal genooi. As daar 'n bruilof is, is almal welkom. Ek ken 'n sakeman in Tembisa wat jaarliks 'n fees hou wat deur 5 000 mense bygewoon word en hulle kry almal gratis kos en meer.

Samesyn by 'n stokvel
En dan die stokvels. Dis mos nou waar elkeen 'n bedrag bydra en een kry die lot en so maak hulle beurte sodat almal een of ander tyd ‘n lekker vet som geld kry. Maar ‘n stokvel is 'n sosiale geleentheid, veral in 'n gebied soos Orange Farm waar die armste van die armes woon. Woon 'n stokvel by en daar is netjies pakkies vleis wat te koop aangebied word. Braai jou eie vleisie en skep vir jou uit die gemeenskaplike pot pap en sheba (gewoonlik tamatie en uie met brandrissies by). Daar is een besondere vrou wat vis aanbied as die stokvel by haar huis is en daarmee saam 'n verskeidenheid slaaie soos wat jy nie maklik in 'n vyfster-hotel sal kry nie.

En dan’s daar musiek en daar word gesels en almal is almal se pêl.

'n Goue herinnering is een aand toe ons 'n groep joernaliste na die Blue Train geneem het, 'n uitsoek nagklub-disko in Orlando naby aan waar die spoghuis vir Nelson Mandela gebou is nadat hy vrygelaat is. Een van die meisies in die disko het met een van die joernaliste gedans en het langs hom gaan sit en haar hand ewe vertroulik op sy been gesit.

Die kêrel was erg in die verleentheid. Wat sou sy kollegas dink?

Ek merk dit toe, roep hom eenkant en sê vir hom as hy wil hê sy moet die wyk neem, moet hy vir haar sê: “Ke wa rata Ngwana. Ke tla go nyala.”

So gesê, so gedaan.

Maar toe klou sy eers aan hom. Hy het my vraend aangekyk. Maar ek het stom gebly. Want wat hy in werklikheid vir haar gesê het, is: “I love you, baby, I’m going to marry you.”

Een van die mense wat die aand daar was, was Ona Lombaard, voorheen van Die Transvaler, wat toe by die Wolraad in Pretoria was. 'n Mens hoor haar nog dikwels uit Port Elizabeth wol- en sybokhaarstories oor RSG praat.

Ongelukkig het van die beste klubs in die townships om een of ander onverklaarbare rede na 1994 eenvoudig agteruitgegaan en baie het totaal verdwyn.

Madala Mphahlele
Maar as ek aan Soweto dink, dink ek ook onwillekeurig aan gholf op die plaaslike baan. Daar het ek baie vriende gemaak. En een van die bestes was wyle Madala Mphahlele, in lewe 'n voorste advertensieman en later hoof van die destydse TV4 van die SAUK.

Eendag speel ek en hy saam in 'n beterbal-kompetisie waarin die beste van ons twee se tellings tel, toe ek net-net kort van die setperk lê. Madala raai my toe aan om 'n sethou te speel, maar ek hou vol ek wil eerder 'n kaphou met my sewe-yster speel. Maak ek toe so, slaan die pen raak en die bal kom op die rand van die putjie tot rus.

Staat Madala met sy lang, maer lyf toe so agteroor en sê: “You’re not only a pretty face, hey!”

Op 'n ander dag het ons teen mekaar gespeel en op 'n lang vyfsyfer-putjie slaan Madala sy bofhou in die middel van die skoonvel en ek beland diep in die ruveld in die lang gras. Madala slaan toe sy tweede hou ook reguit in die skoonveld af en laat vir hom 'n wigyster na die setperk.

Maar ek slaan toe my tweede hou 'n droomafstand ver, maar steeds in die ruveld. Madala slaan intussen sy derde hou op die setperk en ek trek los met 'n wigyster wat nie meer as 'n tree van die pen te lande kom nie.

Madala slaan toe sy bal met twee sette in vir syfer en ek slaag met die maklike sethou vir 'n voëltjie 4.

Hy kyk my ongelowig aan: “Hoe de hel het jy dit reggekry.”

Seg ek toe: “I did a Liberace on you.”

Madala: “What do you mean a Liberace?”

“I came from behind,” antwoord ek.

Voordat die Soweto-gholfklub se klubhuis goed aan die loop was, het alle gholfspelers na die spel by Nana Simete se sjebien gaan dors les.

Eintlik het haar sjebien “Airport” geheet. Hoe so? Simete het vir die manne na “Smuts” geklink en van “Smuts” het dit ontwikkel in “Airport”!

Terug na die beskaafde-gebruik-van-wyn-veldtog. Dit het eenvoudig nie geslaag nie. Redes:
  • As 'n mens van openbare vervoer gebruik maak en jy stap ver om by 'n sjebien uit te kom, dan wil jy eers jou dors les. Jy soek bier, nie wyn nie, want met wyn sal jy dronk wees voordat jy jou dors geles het. 
  • Sjebiengangers kan nie bekostig om dronk te word nie. Dan is hulle 'n maklike teiken vir tsotsi’s as hulle huis toe stap. 
  • Tuis drink ouers nie voor hul kinders nie, want dan stel hulle, so glo hulle, 'n slegte voorbeeld. Die gedagte van die beskaafde gebruik van wyn saam met etes sneuwel ook dus. 
  • Eweneens drink kinders nie voor hul ouers nie, selfs as hulle al mondig is.
Ek moet erken ek het my op my togte deur die townships meestal laat lei deur die verteenwoordigers van drankmaatskappye, maar dit het dikwels gebeur dat hulle nie beskikbaar was nie en die spertyd my gedruk het. Dan’s ek maar alleen daar in. En my gesin was bekommerd. Buitelandse toeriste het al in Soweto verdwaal en is dan vermoor. Wat laat my glo dat dit nie met my sal gebeur nie?

Vra ek toe eendag in 'n sjebien die vraag: Waarom voel en is ek veilig in Soweto?

“Dis omdat jy ‘n vry mens is.”

“Wat bedoel jy met 'n vry mens?”

“Jy is vry van vrees, want jy weet jy het niemand te na gekom nie.”

Verwonder ek my toe daaraan. En tref dit my dat ek die gewoonte ontwikkel het om in 'n sjebien in te stap asof ek al jare daarheen gaan en almal taamlik luidrugtig te groet, al is dit die eerste keer dat ek dit besoek.

'n Laaste gedagte: as 'n mens net na die nuus luister en lees wat politici sê, sal jy in wanhoop verval dat ons land in sy malle moer in is. Maar as jy met mense praat en luister wat hulle te sê het en uitvind dat hulle maar dieselfde kwellings as jy het, gaan daar 'n lig op. Soos 'n Afro-Amerikaner (hoe polities korrek kan ek tog nie raak nie!) nog in die apartheidsjare aan my gesê het: “Een-tot-een is verhoudinge tussen die rasse hier beter as by ons, maar, ai, dis 'n bliksem as dit op groepe aankom.”

* Terloops, as daar enigiemand is wat graag wil spog dat hy of sy op die Soweto-baan gholf gespeel het, gesels met my.