Thys Human en sy vrou, Kewpie. |
Ek sal nou-nou die storie vertel van die Pot(gieter)-trofee wat tot een van daardie "in"-stories aanleiding gegee het wat net ’n paar mense van geweet het, maar eers bietjie agtergrond oor wie en wat DT was.
Die Transvaler se kantore was daar aan die bopunt van Jorissenstraat geleë – net ’n paar treë bokant Biccardstraat. Kwalik 100 treë verder af was die ou Devonshire-hotel wat ons watergat was. Lekker naby.
Die Hoofredakteur was Jannie Kruger, ervare joernalis en skrywer wat vir Dr. H. F. Verwoerd as redakteur opgevolg het toe lg. as minister in Malan se kabinet aangestel is. Hy het later hoof van die eerste Publikasieraad geword en van sy beslissings word vandag nog as omstrede beskou.
Kittie Vermaak was sy sekretaresse en sommer ook deeltydse vroue-redaktrise – as ek reg onthou maar dis bleddie lank terug!
Die adjunk-redakteur was dr. G.D. Scholtz, geskiedkundige, politieke kenner van formaat, skrywer van werke soos sy nege volume magnum opus: Die Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner. (Sy seun Leopold is vandag Naspers se korrespondent in Europa). Ons het hom maar selde gesien, want hy was altyd besig om te lees en skryf in sy kantoor, maar altyd ’n hoflike mens.
Oom Angel Engelbrecht was assistent-redakteur en taalghoeroe van die blad – en hy het my goed geleer!
Fritz (Pottie) Potgieter was die Nuusredakteur. Ervare en deeglik, maar bewaar jou as jy skeef trap! Hy kon vloek dat dit na swael ruik! Hy het in 1955 sy doktorsgraad in Aardrykskunde aan PUK behaal. Later van jare was hy mede-redakteur van DT, maar hy is toe as professor by PUK aangestel en in die 80's het hy ook in die destydse Presidentsraad gesit.
Dit was met die Randse Paasskou van 1956 dat Klaas Steytler, latere skrywer en eggenoot van die dalk meer bekende skryfster Elsa Joubert, by Pottie ingestap en vir hom so 'n klein emalje potjie gegee het wat ’n uitstaller op die skou daai jaar gemaak het – so ’n duimnael groot piepotjie.
Pottie het dadelik in die subkantoor gestap en die potjie aan Hennie Kotzé, Eerstesub, gegee as die trofee vir die grootste blaps van die maand! (ek kan nie meer onthou wat dit was nie). Dit was seker Frans du Toit, Tweedesub, met sy lekker humorsin wat die ding begin het, maar net daar word besluit om die skenking ’n vaste instelling te maak.
Frans wat handig was met houtwerk, het 'n mooi rakkie gemaak waarop die trofee vasgesit kon word, met 'n naamplaatjie daarby wat gelui het:
Die Pot(gieter)-trofee vir dieBlaps van die Maand.
Daar is gereël dat ons die Vrydag almal vroeër sou inkom sodat ons so teen vyfuur die middag die onthulling van die "groot" beker op gepaste wyse kon vier.
Klaas het die trofee formeel aan Pottie oorhandig met ’n paar gepaste woorde soos dat daar eintlik nie genoeg emalje in die wêreld sal wees as daar 'n potjie vir elke blaps in die koerant gegee moet word nie. As die junior vertaler in die nagkantoor was dit my voorrreg om die geskrewe sitaat te lees en Pottie het Hennie gelukgewens as die eerste ontvanger en toe ’n vol dop weggesluk. Prieur du Plessis, fotograaf, was byderhand om net op die regte oomblik ’n foto te neem.
Dana Niehaus |
Daarna is daar goed fees gevier. Hulle was almal daar: Mac MacDonal(d, nagnuusredakteur, E.C. Pienaar (hoofsub), Sarel van der Walt (senior verslaggewer), Jan Hoeksema (hofverslaggewer), Marius Jansonnius (nuuskantoor), Otto Krause (vertaler), Fritz Ferreira (sportkantoor en later skrywer oor kos en kookkuns), Rooies(?) Muller (assistent-sportredakteur), Witte Engelbrecht, Jannie van Rensburg, en nog enkeles wie se name ek wragtag nie meer kan onthou nie.
Dit was seker toe Prieur die foto van Pottie wat die eerste sluk gee later die aand op Oom Mac se tafel neersit dat die ding begin het. Net daar is besluit om ’n spesiale uitgawe van die koerant uit te gee. Ek dink dit was Otto wat die berig geskryf het oor die trofee se instelling en wat almal die dag gesê het, maar daar is toe in samewerking met oom Flash Gordon ’n drie-kolom blok van Pottie se foto gemaak en op die voorblad BOKANT die vou met die berig daaronder geplaas. Net 'n stuk of dertig eksemplare is gedruk en die afval-eksemplare het ek en nog iemand laatnag op ’n oop stuk veld gaan verbrand sodat dit nie in vreemde hande kan val nie.
Daar is met die sirkulasiemanne gereël dat 'n eksemplaar van die spesiale uitgawe vroegoggend by Pottie se huis in Alberton afgelewer sou word.
Later die dag het hy vertel dat sy tuinman vroeg die oggend die koerant vir hom gebring het met die woorde: „Au, die baas hy is hier by die koerant!ˮ
Pottie het na die foto (wat hy nog nie gesien het nie) gekyk en die byskrif gelees. "Ek het eers gedink dis dr.Potgieter, hoof van die Afrikaanse Seuns Hoër in Pretoria, maar toe sien ek die berig en ek besef: ‚My God, dis EK!’ Ek het byna ’n hartaanval gehad, julle bliksems!"
Ek glo nie daar is ’n eksemplaar van die spesiale uitgawe in die argiewe gebêre nie en ek het myne nog vir baie jare gehou totdat dit in al my trekkery later in ’n kartondoos vol dokumente weggeraak het. Jammer, want dit is eintlik Africana en deel van die geskiedenis van DT en van Perskor. En ek vermoed ek (en Kittie) is die laaste van daai jaar se DT-redaksie wat nog oor is.