Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.6.12

Die dag toe Len Lindeque deur Jooste gefaaier is

ANDRIES BOTHA het as assistent-redakteur en politieke skrywer by Die Vaderland baie tyd saam met Len Lindeque deurgebring om die daaglikse spotprent te bedink. Soms kon 'n mens hulle ver af hoor lag soos hulle die humor opgetower het. Hier vertel Andries van sy ervarings met Len.

Min mense weet dit, maar Len Lindeque, in sy tyd gewis die top spotprenttekenaar in die land, is deur Marius Jooste gefaaier oor ‘n grappiein die gange. En Dirk Richard moes lelik bontstaan om Len se loopbaan te probeer red.

Met sy uithanghemp kon Len ‘n grap soms te ver voer vir sy eie welstand. Soos die dag toe Richard ten aanskoue van Jooste vir hom sê: “Len, wys bietjie vir mnr Jooste hoe Dr Nic Diederichs (Minister van Finansies) loop as hy ‘n militêre parade inspekteer.”

Dr Diederichs was ‘n besonder kort mannetjie en Len stap toe met sulke klein treetjies en buig sy kop so op en af asof hy elke troep se hoed, wapen en die blinkheid van sy stewels inspekteer. Dit was uiters koddig.

Jooste het heerlik saamgelag en toe in Engels opgemerk: “Len, but you never say anything nice about me.”

“But that’s not true, Mr Jooste, just the other day Mr Richard said that you don’t have the brains of an ox and I came up for you – I said you did.”

Bloedrooi en sonder ‘n woord draai Jooste op sy hakke om en binne minute ontbied hy Richard en met die intrapslag sê hy: “Dirk, jy moet daai trêmp onmiddellik faaier. Ons kan nie toelaat dat daar so met ons ministers gespot word nie.”

Richard: “Maar meneer, ek kan nie die beste spotprenttekenaar in die land faaier nie.”

“Ek sê jy moet hom faaier en klaar.”

Van links af: Marius Jooste, Len Lindeque en Dirk Richard.
Richard het toe vir Len gaan vertel om maar vir ‘n paar dae uit Jooste se pad gebly. Wanneer Dirk Jooste wel teëgekom het, het hy die hele faaierstorie sommer so weggepraat. Jooste het uiteindelik na maande darem sy vete teen Len laat vaar.

Dit was van die aangenaamste en opwindendste dae van my lewe om saam met Len aan die daaglikse spotprente te werk. Trouens, ek sal ‘n dekade van my lewe prysgee om weer saam met Len te sit en werskaf aan die spotprent van die dag. Die bepaling van die tema en die absoluut verspotte gesprekke wat daarop gevolg het, sou die manne met die witjasse genoop het om ons so spoedig moontlik in ‘n sanatorium opgesluit te kry.

Len was waarskynlik die veelsydigste mens met die breedste verwysingsraamwerk wat ek geken het. Behalwe rolle in Suid-Afrikanse, flieks het hy ook ‘n draai in Hollywood gemaak waar hy ‘n paar mindere rolle gekry het.

Hy was klavierspeler, sanger, humoris, openbare komediant en kunstenaar sonder weerga wie se spotprentstyl skaamteloos deur ander nageaap is. En die onnutsige wurms! Soms het hy gewag totdat mnr Richard die spotprent goedgekeur het en dan teruggegaan en die wurms iets baie gewaagd laat sê. As dit nou ietwat te ver gevoer was, het ek ook aan die pen gery en ek moes hom dus maar fyn dophou totdat die spotprent finaal subs toe is.

Eendag het hy Dirk Richard lekker onverhoeds betrap. Ons was besig met ‘n hoofredaksievergadering en Len het skielik sy kop by die deur ingesteek: “Ek is jammer ek is laat, maar ek belowe ek sal vroeg loop.”

“Nee, dis goed so, Len,” het Richard geantwoord sonder dat dit hom getref het wat Len eintlik gesê het.

Jy moes maar altyd paraat luister as Len iets te sê gehad het. Soos die dag toe ons gesels het oor mense uit ons verlede en Len opgemerk het: “Jong, name kan ek nie onthou nie, maar gesigte vergeet ek onmiddellik.”

Twee spotprente waaraan ons gewerk het, sal ek ook nooit vergeet nie. Die een was oor Sir de Villiers Graaff, Opposisieleier, wie se adjudant destyd Marais Steyn was. Graaff het toentertyd gesê “Marais Steyn is my linker- en my regterhand”.

En toe loop Marais Steyn oor na die Nasionale Party.

Ek en Len werk toe ‘n spotprent uit van sir De Villiers wat op ‘n fiets met die steil De Waalpad in Kaapstad teen ‘n afgrond afjaag – loshande – en sê: “Look Ma, no hands.”

‘n Ander enetjie wat ek onthou, is dat ons albei nou nie veel erg gehad het aan PW Botha en die grensoorlog nie. Ons het ook nie geglo dat Rusland oor Suid-Afrika wou heers of ons sou inval nie. Ons het toe ‘n prentjie geteken van die Russiese beer wie se skadu so oor Afrika hang met sy pote op Suid-Afrika en die onderskrif: “It paws, but it never reigns”.

Selfs mnr Dirk Richard het gemeen dis darem te gewaagd teen die agtergrond van daardie tyd en dis nie gepubliseer nie.

Ek en Len het ook heerlike verbeeldingsvlugte gehad oor ‘n karakter in cowboy-boeke. Sy naam of van was Slade en hy was so ‘n skimfiguur wat dikwels onverwags sy opwagting gemaak, ‘n waarneming gedoen en dan verdwyn het.

Eendag staan Len toe daar in Aucklandpark in die kantoor wat ek met Johan Liebenberg gedeel het voor daardie halfmaanvensters – wat mens‘n erker (bay window) noem - en tuur na die koppies daar waar Jooste se huis was en met ‘n tipiese cowboy-aksent sê hy toe: “There’s gold in them thar hills, Slade, an’ I’s gonna go out I’s gonna gemme some.”

Saam het ek en Len ook in die begindae van TV ‘n paar kort sketse geskryf. Daar was so ‘n reeksie oor ‘n bedremmelde bankrower wat voor so ‘n kougomkouende blonde Jan Marais-Trustbankkassiere kom staan het, sy rewolwer uitgehaal het en gesê het: “Dis ‘n bankroof. Gee al die geld wat jy het.”
Die meisie het eenvoudig die gordyntjie by haar hokke toegetrek en gesê: “Sorry, it’s my lunch time.”

Die ander keer het die meisie eenvoudig gevra: “Hoeveel wil jy hê?”

Rower: ”Als wat jy het.”

Meisie: “Jammer, meneer, dis meer as R10 000 en daarvoor sal jy die bestuurder moet gaan spreek.”

* Ek is seker daar is nog baie – en beter – stories oor Len wat aan die vergetelheid ontruk kan word. Laat gerus van julle hoor.

"God Bless and thank you for letting my Daddy live another day" -- Leneque Lindeque

Leneque en Marie Lindeque
Die foto’s en prente ter illustrasie is deur Len en Marie se dogter, Leneque, aan ons gestuur. 

Sy skryf daarby:

 “Nothing brings me more joy than meeting people who knew my father and even more so hearing stories of his life! So, you can imagine that this initiative of yours means the world to me and I vow to help you in any way possible. 

“Unfortunately I have very few remnants of a life that seemed so rich and full but I am sorting through all the photos and newspaper clippings and scanning them in as we speak! 

 “I will forward you what I have so far, and please let me know if there is anything specific that you are looking for. I can't put names to a lot of these faces but am also recruiting my mother to share her vault of memories. May God bless you for letting my daddy live another day.” 

Ons innige dank en waardering aan Leneque en aan Marie, wat soveel mooi herinneringe met ons deel. - Andries Botha.