Dit was waarskynlik nooit oorle’ Ma se bedoeling dat ek ’n loopbaan, ’n liefde en uiteindelik ook ’n lewe in die koerantwêreld moes vind nie. Sy het eintlik gehoop dat ek sinnigheid in hulle hubare jong dominee sou kry. Maar bedoeld of onbedoeld, dit was aan Ma te danke (of te wyte, afhangend
van hoe ’n mens daarna kyk) dat ek op 2 Januarie 1970 as ’n groentjie-verslaggewer by die ou Vaderland-kantore in Aucklandpark ingestap het.
Ek was van plan om in die buiteland te gaan werk. Ná ’n jaar in die onderwys, wat ek hartlik verpes het, wou ek die wêreld gaan verken. Onthou, dit was nog in die jare lank voordat elke ma se ooilam eers oorsee gaan au pair het. ’n Vriendelike uitnodiging van die Nederland-Suid-Afrikaanse Vereniging in Den Haag, met ’n belofte van werk, het my opgewonde laat planne beraam.
Moeder was minder opgewonde oor dié planne. Almal het immers geweet van die Hollanders se losse sedes en die blote gedagte aan haar enigste meisiekind in daardie Sodom (alleen nogal!) was kwalik te verduur. Slinkse vrou, wis sy wel dat sy my nie kon verbied om te gaan nie, maar daar’s meer as een manier om ’n dom muis te vang.
Die aas in die valletjie was ’n advertensie, netjies geknip uit Die Vaderland, vir jong rekrute om as verslaggewers opgelei te word. Dié wys sy toe vir my en vra, met die soete onskuld van ’n engel, of ek nie daarvoor wou aansoek doen nie, aangesien ek in die verlede ’n belangstelling in die joernalistiek verklaar het. Natuurlik trap ek toe mooitjies in die strik.
Hermie Hendriks |
’n Mens sou nogal ’n vinger op die fyn ironie daarvan kon lê dat ek toe in Gomorra tussen ’n span hardebaard-koerantmanne beland. Johannesburg het ek nie geken nie en ek was bra lugtig vir die plek. Voorbereid op die joernalistiek was ek, opgelei as Engels-onnie, ook nie. Kon nie eens tik nie. (Om die waarheid te sê, tot vandag toe tik ek met net twee vingers.)
Maar ai, die karakters wat ek daar leer ken het! Hoofredakteur was toe nog AM van Schoor. Frans du Toit was nuusredakteur en sy adjunk die immer-joviale André Verster (later van TV-faam). Johan Liebenberg was politieke redakteur, ’n man wat hom selde met die plebs in die nuuskantoor bemoei het.
Toe kunsredakteur Thijs Nel besluit om hom voltyds aan die skilderkuns te gaan wy, is hy opgevolg deur… Johan Liebenberg. Om verwarring uit te skakel, het ons maar na die twee Liebenbergs verwys as Johan Politiek en Johan Kuns.
Die altyd elegante Kitty Vermaak was ’n formidabele vroueredakteur met ’n paar bene wat menige model sou beny. Victor Ivanoff het die koerant se spotprente geteken. Hy was ’n kleurryke karakter wat gemaklik in een van sy eie kunswerke sou pas. Hy het oor ’n sonore basstem beskik en was inderdaad ook ’n lid van die beroemde Don Kossakke-koor voordat hy in 1937 uit Rusland na Suid-Afrika padgegee het. Hier het hy steeds gesing wanneer die geleentheid hom voorgedoen het.
Gerrie Fourie |
Die gevoelvolle Russiese volksmusiek het vir my nogal mooi op die oor geval, maar vir Gerrie, wat die vorige nag laat gewerk het, het dit bloot aan die slaap gesus. Kort voor lank het sy gesnork flukse kompetisie vir Ivanoff se sonore bas gebied. Die ou Rus was nie bietjie verontwaardig nie en het ’n ietwat verleë Fourie agterna behoorlik uitgetrap oor sy gebrek aan etiket.
Suzelle as 'n jong dame |
Ek besluit toe maar die man bedoel dit as ’n kompliment en gaan besoek hom ter gelegener tyd in sy kantoor. Victor het sy sketsboek uitgehaal en begin teken. Duidelik was hy nie tevrede met sy eerste poging nie en hy begin van vooraf. “Oy,” sug hy, “It is verry hard to draw your face.” Dit het my niks verbaas nie. Ek het daarna nog ’n hele paar keer vir hom gaan “poseer”, maar die ewige gesukkel om my bakkies vir die nageslag vas te lê, het my later laat besluit dat die wêreld maar sonder ’n skildery van my sal moet klaarkom.
Vandag het ek darem nog ’n baie mooi sepia-tekening wat Ivanoff gemaak het van ’n foto wat Gerrie in Langebaan (op ons wittebrood nogal!) geneem het van ene kaptein Livingstone – die laaste bevelvoerder van die walsvisstasie by Donkergat voordat dit in die vroeë 70’s gesluit is.
Onder die ander groentjies wat saam met my by Die Vaderland ingeval het, was August du Preez en Pierre Oosthuizen, wat wyslik besluit het om eerder fotograaf te word. En natuurlik die briljante Joan (Crafford) Kruger, later redakteur van RooiRose en deesdae ’n knap sakevrou aan die hoof van ’n reeks publikasies. Ons jonges het maar na die “ou hande” gekyk en geluister en gebid om te oorleef.
Suzelle en Evert van Niekerk op Kyalami. |
Evert het my telkens uit die moeilikheid gehelp. Ek het kwalik daar begin werk, toe ek die allervreeslikste tandpyn ontwikkel. Toe hy my in trane daar voor die Olivetti-tikmasjien aantref, het hy onmiddellik ’n afspraak met sy eie tandarts gereël, gesorg dat ’n persmotor my daar gaan aflaai en weer gaan haal.
Gerrie en Suzelle Fourie |
Gerrie was ’n rustelose siel wat immer op soek was na daardie mitiese pot goud aan die einde van die reënboog. Dit het daartoe gelei dat ons sowat twee jaar later Die Vaderland en Johannesburg verlaat het om nuwe weë te bewandel. Mettertyd het dit ons teruggelei na waar ons begin het en in 1977 het ek weer by die redaksie aangesluit nadat ek intussen die ma van tweeling-seuns (vanjaar al 39 jaar oud!) geword het. Dié keer het ek “features” geskryf en later die koerant se TV-blad behartig.
In 1979 speel die noodlot weer ’n troefkaart: Lourens Schultz, bekende radio- en filmpersoonlikheid en ook die stigter en uitgewer van die Weslander, gemeenskapskoerant op Vredenburg aan die Kaapse Weskus, sterf skielik. Dis die wêreld waar Gerrie grootgeword het. Ek wis toe sommer, dis weer inpak en trek. Weslander sou ons koerant vir die volgende 20 jaar word.
Maar dit is nou weer ’n héél ander storie.