Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.6.12

Slukkie wyn vir vis-en-tjips-liga se pyn

WILLIE BUYS roep die jaarlikse Perskor-rugbyderby oor die Jukskeirivier heen in herinnering.

In hierdie tye wat professionele Super15-rugby op die hoofspysaart is van amper al wat ‘n Suid-Afrikaanse man – veral Afrikaners, maar lees ook vroue – is sien en lees ons elke dag van verwoede mededinging op die strydarenas van rugbyvelde in verskillende lande.
Ons lees en sien dan ook dikwels van die rugbyderbies tussen die verskillende lande se interne rugbyunies wat mekaar met sidderende intensiteit en geweld takel.

Oud-Perskoriane wat sport-sensitief is, sal dan dikwels met nostalgie terugdink aan die dae toe Perskor nog rugbyspanne gehad het. Toegegee, dit was sommer saamgeflansde spanne wat nie naastenby op dieselfde professionaliteit kon roem as die Superrykes van Superrugby nie. Perskorspanne van Johannesburg en Pretoria het bestaan uit ‘n klompie manne wat mekaar warm gepraat en gedrink het in kroeë soos die San Souci en Vegkop in Johannesburg (waar ek my joernalistiek gepleeg het).

Drink-fiks

Ek weet nou nie waar die Pretorianers mekaar fiks gedrink het nie, maar aan geesdrif vir die jaarlikse derbie, wat om die beurt in die twee stede gehou is, het dit nie ontbreek nie Een jaar was Pretoria die gasheer wat vir alles moes instaan en uithaal en wys. Dit het ingesluit die rugbyvelde en die drank wat partykeer sommerso voor, tydens en na die wedstryd ruimskoots afgesluk is. Sommige ouens was partykeer so gekletter op die veld dat hul of verkeerde kant toe gehardloop het of ‘n paar katjies staangemaak het op die veld – natuurlik uit pure opgewondenheid!


Die hoogtepunt was die onthaal na die wedstryd waar daar vleis gebraai en allerhande eetbare goetertjies saam met liters bier en drank van alle soorte verorber en afgespoel is. Die volgende jaar was dit natuurlik die ander publikasiehuis se beurt om nog gasvryer te probeer wees.

 Siekteverlof

Die wedstryde: ag, ek onthou nie meer so lekker nie behalwe natuurlik dat dit ‘n rooiletter-dag was op al die Perskoriane se almanakke. Dit was ‘n gebeurtenis waarna party ouens ‘n paar dae se siekteverlof moes neem om te kon herstel. Natuurlik van al die stampe en stote en ongewone grond toe sloegery en nee, gladnie van al die gebrassery nie!

Gemanipuleerde foto
Die wedstryde self? Dit was ‘n chaotiese getjommel: ‘n gestamp en gestoot, ouens wat uit die spel gehaal is terwyl die bal wie weet waar was, ‘n ref wat moeg word en die fluitjie blaas vir ‘n likiede verposing. Een jaar het die bevooroordeelde ref glads geweier om ‘n legitieme drie toe te ken en die driedrukkende span summier gestraf omdat hulle die voorbarigheid gehad het om aanspraak te maak op wat die wendrie sou wees!

Plettervat

Ekself het een jaar ‘n teenstander geduik dat hy hik. Niks verkeerd daarmee nie, behalwe dat hy lankal van die bal ontslae geraak en al amper in die stort gestaan het toe ek hom so verwoed loop dat hy sweerlik vandag nog met los tande sukkel.

Maar dit was een groot lekkerte. O-ja, ons het darem ook teen ander instansies, soos die SAUK-span onder aanvoering van Hein Jordaan, gejôl. Darem met spanne wat aan albei kante met fikse ligaspelers gelaai was want dié vis-en-tjips-liga het later ernstige sake beginner word …

 Miskien wil ander deelnemers aan dié sirkus verder uitbrei met staaltjies wat wetenswaardig is?