In die vroeë jare tagtig van die Noord-Transvaler was hy nuusredakteur. Op ‘n goeie Vrydagmiddag omstreeks drie-uur stap ‘n boer by ontvangs in en bulder: "Ek wil die redakteur sien."
Hy’t die ontvangsdame se protes opsy geveeg en by André, wat besig was met ‘n telefoongesprek met Cas Jones, skakeloffisier van die polisie, se kantoor ingestorm en “die reus van ‘n boer kom staan in my kantoor se oop deur. “Is jy die redakteur?”
Ek draai my rug vir hom en praat verder oor die telefoon.
“Is jy die redakteur?’” vra-skree hy.
Ek lui af en skud net my kop: “Nee, ek is nie die redakteur nie.”
Maar
die groot boer besluit ek ís die redakteur. Hy storm skielik op my af
en gee my ‘n opstopper op die kakebeen dat ek vir ‘n wyle of wat sulke
pienk kolle sien.
Nou is ek vies en die boer gluur my aan.
“Ek gaan die polisie bel,” laat ek gebelgd hoor.
“Jy sal nié die polisie bel nie.”
“Ek gaan,” en tel my foon se gehoorbuis op.
Hy forseer my hand na onder en ek is gedwing om die gehoorbuis neer te sit.
“Julle wil hê dat die mense nie moet vergeet nie.”
Ek het nie die vaagste benul waarvan hy praat nie.
Hy draai om, vat ‘n koerant en kom na my toe aangeloop. Hy slaan my daarmee oor die kop. Ek loer na hom.
“Jy moenie so na my kyk nie, ek sal vir jou %$#@.”
Toe laat sak ek my kop en kyk na die vloer.
Intussen
kom Frank Laubscher, die destydse redakteur, by my kantoor ingeloop en
ek verduidelik aan hom die storie en die ontstoke boer is daarna vort
uit my kantoor.
So ‘n halfuur later is hy nog steeds in Frank se kantoor en ek waag ‘n kans om uit te vind waaroor alles nou eintlik gaan.
Dit
blyk toe dat die boer beswaard was oor die feit dat ons die bevinding
van die prokureur-generaal geplaas het dat hy nie sou vervolg nie ná ‘n
skietongeluk waarin sy seun doodgeskiet is.
Dit het toe ook geblyk dat die boer ‘n dop of twee te veel ingehad het.
Cas Jones-hulle wou gehad het ek moes ‘n klag teen hom indien, maar ek het die saak daar gelaat.
Sjoe, daai ou kon hard slaan.