Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.6.12

Bloedvlekke en spanning in die nagkantoor

PIET EBERSÖHN skryf: Toe ek onlangs in die George Herald van Herman Gouws se dood lees, het ek onwillekeurig teruggedink aan my eerste kennismaking met Herrie, soos almal hom geken het. Hy het in 1974, kort voor my, by Die Transvaler in Aucklandpark begin werk.

Saam met Martin Jansen, nou van uitsaaifaam, is ons, aan die voete van wyle oom Mac McDonald, om die vertaaltafel in die basiese dinge van die
joernalistiek ingelei.Ons had nog nie juis by die res van die joernalistegroep se sosiale lewe ingeskakel nie, en met sy ruie, windverwaaide boskaas en toutjiesbaard was Herman, ’n predikantseun uit die koue dele van die Oos-Kaap, vir die res van ons grootliks ’n enigma.

Só stap daar op ’n aand ’n omgekrapte kêrel met ’n bloedbevlekte hemp by die nagkantoor in en dring daarop aan om Herman Gouws te spreek. ’n Doodse stilte het oor die nagkantoor neergedaal. Dit was destyds ons juniors se opdrag om die foto’s of blokkies te gaan haal wat die subs uit die biblioteek nodig kry. Gelukkig was Herman op so ’n sending toe die man instap.

„Hy is nie hier nie, kan ons help?” wou nagredakteur Mike van Niekerk versigtig weet. Nee, het die besoeker adamant verklaar, hy soek Herman Gouws, punt en klaar. Intussen het Mike iemand anders biblioteek toe gestuur om die foto te gaan haal en Herman te waarsku dat hy in die biblioteek moet bly.

In die nagkantoor wag iemand om hom op te neuk. In die nagkantoor het die stilte ongemakliker geraak. Die natuurlike spanning wat rondom bladsy een en vier (destyds die oorloopbladsy) se saktyd om die subtafel heers, het intenser geraak. Mike het weer probeer, maar is bruusk meegedeel dat die besoeker daar is om Herman Gouws te spreek – niemand anders nie.

Bladsy een en vier is fabriek toe. Met daardie druk uit die weggeruim, het die besoeker, as’t ware nou die nagkantoor met sy teenwoordigheid gevul. Hy het steeds net binne die deur gestaan soos hy ingekom het – die donderweer op sy gesig, bloedvlekke aan sy hemp.

Mike het vir oulaas probeer help. Sonder sukses.

Teen dié tyd was Herman se geduld in die biblioteek ook op en die volgende oomblik stap hy die nagkantoor met sy vinnige stappie binne en konfronteer die kêrel terwyl almal asem ophou.

„Ek is Herman Gouws. Kan ek help?” wou hy weet.

Sowat van verligting as toe die man sy storie vertel, kan ’n mens nouliks jou indink. Die besoeker is in ’n huismoles verontreg en wou sy storie vir die koerant vertel. Die misdaadverslaggewer, Rika van Graan, was nie op kantoor nie en hy wou by die sekuriteitswag weet wie saam met haar werk wat hy in sy vertroue kan neem.

„Herman Gouws,” het die sekuriteitswag geantwoord, onbewus van die drama wat sy antwoord sou verwek. ’n Persmotor het die gestremde Rika saans huis toe geneem en Herman is aand vir aand saamgestuur om haar te ondersteun.

In die oë van die sekuriteitswag was hy die logiese man om vir Rika in te staan. By geleentheid het ’n paar van ons jonges by die restourant Lili Marlene in Braamfontein geëet. Ons het toe al lekker gekuier en teen die tyd dat die kos bedien is, was Herrie om die een of ander rede nie tevrede met sy bestelling nie.

Hy wou iets anders hê, maar kon nie besluit wat nie. „Kies jy vir my iets,” het hy die verbaasde kelnerin meegedeel. Nou ja, die eetplek was nogal bekend vir sy wiener schnitzel en die kelnerin het haar daarop verlaat. Sy was in die kol.

„Mán, hierdie vis is nou vir jou lekker!” het ’n genoegsame Herrie verklaar toe hy ’n rukkie later aan die goed voorbereide kalfsvleis weglê.