Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.6.12

Leroux Terblanche, ’n karákter soos min


CHARL THOM, voormalige assistent-tot-die redakteur, Die Vaderland, skryf: EK was ‘n jong laaitie by Die Nataller in Durban toe Leroux Terblanche, toe al ’n veteraan, my onder sy vlerk geneem het om my die „ropesˮ te leer.

Een van my eerste „lesseˮ was toe daar ’n storie gedoen moes word oor ‘n plaaslike NG Kerk se halfeeufees, of iets in dier voege, en ek saam
met hom soontoe is om ’n onderhoud met die dominee te voer.

Laasgenoemde het heeltemal meegevoer geraak met die belangrikheid van die okkasie soos hy dit gesien het en presies vir ons vertel hoe die berig geskryf moet word, dat dit beslis op die voorblad moes verskyn met ’n foto en nog foto’s op binneblaaie en ook natuurlik die kop.

Leroux het hom net so bly kyk en skaars ’n aantekening gemaak. Toe hy klaar is, kyk Leroux hom vierkantig in die oё en sê in sy kenmerkende Swartlandse bgei: „Dominee, kom ek maak jou ’n „dealˮ. Jy skghyf nie my stoghie nie, en ek bid nie vigh jou nie!” Die predikant was stom geslaan. Later het hy by Barend Venter, redakteur, gekla. Barend het hom glo probeer paai en onderneem om Leroux aan te spreek maar self heerlik daaroor gelag.

******

Soos almal wat hom geken het, weet, was Leroux baie lief vir die perde speel en natuurlik ook ’n vermaarde „racing editorˮ soos die Engelse sê. Dus was hy gewoonlik óf ryk óf arm. Niks tussenin nie. Dit sou alles afhang van hoe goed of hoe sleg sy perde gehardloop het.

Ons lessenaars het kop-aan-kop gestaan en ek sien Leroux trek sy laai oop, haal ’n klomp papiere uit en stapel hulle op mekaar. Toe trek hy ’n paar lukraak een-vir-een uit die bondel en skryf elke keer iets neer.

Na ‘n rukkie plaas hy meeste van die papiere terug in die laai. Ek vra nuuskierig waarmee hy besig is. „Hieghdie is my maandelikse dghaw (draw). Dis ghekeninge van die ouens wie ek geld skuld. Almal kghy ’n kans. Die ouens wat ek dghaw word betaal. Dis billik, dan nie?”

„Klink vir my so“, antwoord ek, „maar wat sê daai ouens wat nie betaal word nie?”

Met ’n groot glimlag antwoord hy: „Die wat vigh my lelike bghiewe skghyf, stghaf ek. Hulle kom vi dghie maande glad nie eeghs in die dghaw nie!”

Dit moes een van Leroux se „armˮ maande gewees het.

******

Een aand teen saktyd was ons taamlik kort van kopie. As jongeling was ek erg bekommerd. Nie Leroux nie. „Confucius say you put in big photy you don’t lite stoly”. En so is die probleem opgelos.