GERT COETZEE skryf: EK het opdrag (by K’rant se redaksie) gekry om ’n CV deur te stuur, wat ek so bondig moontlik doen – eintlik het ek iets heeltemal anders op die hart!
Nietemin (in geen besondere volgorde nie): leerlingverslaggewer (Die Vaderland, Aucklandpark), Landdroshofverslaggewer (DV), Hooggeregshofverslaggewer (DV),
Vaaldriehoekse Verteenwoordiger (DV), Oos-Randse Verteenwoordiger (Die Transvaler), Senior Verslaggewer (Beeld), Nagnuusredakteur (Beeld), Verre-Noord-Transvaalse Verteenwoordiger (DT), Redakteur (Noord-Transvaler), Hoofsub (Klerksdorp Rekord), Afrikaanse skrywer, TV-Nuus (SABC), Vryskut (wie ook al nie geweet het wat om met hul geld te maak nie, onder meer AngloGold, Rapport, OFM, landboukoöperasies). Tussendeur het ek ’n hele klompie nuustafels beman – nie uit verdienste nie, maar net uit afsterwe en siekte. Dié jaar is ek 40 jaar in die, soos hulle sê, "game".
Wat ek eintlik te vertel het: My oudste spruit nooi my om in die Kaap te kom kuier vir sy verjaardag. Hy praat my toe om om in die Kaap te kom bly, wat nogal gaaf was. Toe sit hy af Binne-Mongolië toe waar hy Chinese leer Engels praat – en ek sit steeds in die Kaap, amper drie jaar later.
Ek is ’n ou wat maar altyd rooimiere gehad en geswerf het. Maar hier het ek die eerste keer in my lewe rigting gevind. Hulle noem dit die "trance scene". Dis nou psigedeliese, elektroniese musiek en kleure (regs) wat deur al jou sintuie en breinlobbe wriemel en oerinstinkte in jou opwek. Ek verstaar my op "trance parties" in die woude tussen die boorde en wingerde na die jonges wat ’n riel trap soos selfs die Khoi verleer het. En die spul is vuil – so ’n partytjie duur altyd ’n klompie dae. En die musiek kerm by jou en kry die amper bejaarde ledemate tussen die mooi jongetjies in aan die gang. Dit maak jou kop skoon en jou karkas moeg; die hersteltyd is minstens 36 ure se vas slaap.
So nie vat ek vir Beechie en Chappie, ’n woelige worshond/Jack Russell-paartjie, strand toe. Ek bedoel, as Wolraad Woltemade mense soos ’n moderne taxi-bestuurder (en die gepaardgaande lewensgevaar) uit die oseaan kon strand toe piekel, kan ek die brakke seker maar na sy strand toe vat (of die Metro nou daarvan hou of nie). Ek weet wat sal gebeur as hulle uiteindelik ’n seemeeu vang – die goed koggel hulle en probeer hulle die dieptes van die see in lok. Ek weet nie wat sal gebeur as hulle ’n muggievliegtuig vang nie. Die pilote (rym nogal mooi met „idioteˮ, of nie?) van dié goed sien die oulike hondjies doer onder en vind dit amusant om om te draai en laag oor hulle te skeer sodat die honde hulle jaag.
Om genoemde gefinansier te kry, werk ek as ’n vertaler/sub by die Daily Voice, ’n koerant vir die armste mense van die Kaapse Vlakte en Wes-Kaapse platteland. Ek vertaal hoofsaaklik stories oor die sport van die antichris uit die taal van die antichris in die mooiste taal. As ek dié kool en pampoen klaar geëet het, kry ek darem poeding by wyse van iets te vertaal/sub oor rugby, krieket en motorwedrenne.
Ek het besluit ek trek nie weer nie. Die seuns sal my wel ná ’n laaste reis daar op Ellispark se middelkolletjie gaan uitskud, terwyl Elvis Presley oor die manjifieke klankstel vir my An American Trilogy sing. Verstaan mooi, ek is nie ’n Kapenaar nie; ek is net hier met ’n werksvakansie.