Dié van julle wat my dalk nog kan (of wil?) onthou, sal weet dat my loopbvaan by Perskor in die vroeё sewentigs begin het as sportredakteur by Die Nataller, later as redakteur en nog later as redakteur van Tempo, Die Natallerse opvolger.
By Die Nataller het ek oorgeneem by Barend Venter wie se termyn in die stoel tot ’n dramatiese einde gekom het toe hy in ’n hoofartikel die Broederbond tromp-op geloop en in die proses ’n paar heilige koeie probeer slag het. In daardie dae was dit natuurlik fataal en arme Barend moes kies tussen summiere ontslag of ’n minderwaardige pos by Die Transvaler. Hy het laasgenoemde maar aanvaar totdat hy weer kon terug na sy heimat in die Kaap waar hy later redakteur van Die Oosterlig geword het.
Sammy Lake, van wie ek oorgeem het by Tempo, is natuurlik bevorder na Hoofstad as redakteur daar. By Sam het ek waarskynlik meer geleer as by enigiemand anders.
Om ’n Afrikaanse koerant in Durban te probeer uitgee, was klippe kou om dit sagkens te stel. Al het ek met baie goeie joernaliste en besonderse mense kon saamwerk soos o.a. Louis du Buisson, Leroux Terblanche, Koos du Plessis, Wim van der Berg en Ben le Roux. Ek het die skrif aan die muur gesien en toe Vaderland-redakteur,Dirk Richardm my ’n pos aanbied as sy assistent, het ek die see vaarwel gewuif en Sodom toe getrek. Tempo het ook nie baie lank daarna nie, gesneuwel.
Maar voor ek verder gaan, moet ek vertel van die dag toe baas Marius Jooste my Johannesburg toe ontbied het. Rina Joubert, toe sy sekretaresse, het geskakel en gesê die baas wil my „gisterˮ sien.
Gelukkig kon ek vinnig ’n vlug kry en skaars drie ure later is ek dood benoud in Aucklandpark waar Rina my „deurgewuifˮ het na die leeu se hok. Hy het opgekyk met ’n vraende uitdrukking op sy gesig en voor ek iets kon sê, laat waai met: „Moenie lat die Engelse jou ronddonner nie gehoor!”
En glo dit as julle wil, dit was dit. Ek is direk terug lughawe toe, verlig dat ek nie „gefire” is nie. Het hy bloot vergeet hoekom hy my wou laat kom? Ek wonder vandag nog.
Dirk Richard |
Dit was elke oggend my taak om saam met Len die spotprent vir die dag uit te werk. Len was ’n briljante tekenaar, maar ’n mens moes die idee help plant. Sesuur in die oggend is nie my beste kreatiewe tyd nie.
Len se humor het darem altyd gehelp. Soos die oggend toe hy daar ingestap kom, hom neerplak in in die ledelam ou gemakstoel in my glashokkie en laat hoor: „My maag het vanoggend 3-uur begin werk. Net jammer ek het eers 5-uur wakker geword”. So was Len, soos almal wat aan die ontvangkant van sy poetse was sekerlik sal onthou.
In 1979 is ek na die Kamer van Mynwese waar ek die volgende amper twee dekades lank betrokke was as redakteur van verskeie van hul publikasies. Die bedryfsjoernalistiek was nie so opwinded soos die dagbladwêreld nie, maar ek het twee kinders gehad wat moes skoolgaan en later universiteit toe. Hoef ek meer te sê …
Daar het ek wel ’n sort mini-Perskor bymekaar gemaak met mense soos Louis Mabille, Lianda Beyers, Euna Eston, Jakkie Groenewald en Matt Jamneck as kollegas. Manfred Benz, wat aan die hoof was van publikasies was, en by wie ek later oorgeneem het, was ’n oud APB man.
So het ek my „vonnisˮ in Sodom uitgedien. Deesdae is ek „werkloosˮ aan die Weskus en sit meesal vir die see en kyk. Skryf nog so hier en daar ’n rubriekie en verder ’n onbetaalde huishulp.
Kom soek my op as julle ooit hierlangs kom. Asseblief!