Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.7.13

Die wraak van Rooi Hans en die haker

PIET EBERSöHN skryf: Toe Herman le Roux vertel van die Engelse koerantman wat deur Wollie Wolmarans “Rockspider” gedoop is, dwing my gedagtes terug na my kortstondige rugbyloopbaan in die laer ligas van die toentertydse Transvaalse Rugbyunie.


Piet Coetzer
Van my kollegas – Piet Coetzer (tot die Parlementsitting begin het), Willie Buys, Gert van Rooyen en wyle Johann van Loggerenberg – het vir Pirates gespeel. Die klub was in Greenside gesetel, lekker naby van waar ek in Linden gewoon het en toe die rugbyseisoen aanbreek, het ek daar gaan aanmeld.


Sommer in die eerste oefening tref ek ‘n man met die naam Robbie Shaw, wat vir die Transvaalse Subunie gespeel het. Hy skrum my toe dat die die volgende dag seer het op plekke waarvan ek nie eens geweet het nie!

Johan van Loggenberg
Nietemin, ek kry darem later plek in die derde span teen Westelike Gebiede, of Western Areas soos die goeie Boeremense van Brixton en omgewing dit graag genoem het.

Willie Buys het gewaarsku: “Moenie met die mense sukkel nie. Hulle is ‘n moeilike spul wat nie twak vat nie.”

Maar wat, ‘n mens is jonk en voortvarend en het boonop iewers gehoor dat as jy jou
teenstander kan kwaad maak, kan hy nie rugby speel nie.

Gert van Rooyen
My teenstander het waarskynlik selde op stut gesak, met die gevolg dat ek baie asem oor had vir praat.
Pirates is as ‘n “Engelse” klub beskou en ek praat toe maar Engels met Western Areas se Boeremense, weliswaar gebroke, maar ek glo nie hulle het dit so erg agtergekom nie. En ek maak geen geheim daarvan dat ek hulle as ‘n spul “rockspiders” beskou nie.

Toe ons weer ‘n slag regmaak om te skrum, sien ek die teenstanders se agsteman, ‘n ouerige kêrel wat deur een en almal as Rooi Hans aangespreek is, sak nou teen my. En sommer met die sakslag vertel hy my ongesensor dat ek my bek moet hou of hy donner dit toe.

Willie Buys
Ek probeer nog terugkrabbel met ‘n “do you want to play rugby or do you want to box?” toe slaat hy en die haker met die beste sinchronisering waarop ‘n mens kan reken albei my oë meteens bot toe. Ek het eers later gehoor dit was twee verskillende houe.

Daar was geen noodhulpdiens beskikbaar nie en ek het maar langs die veld gewag tot die swelsel dermate gesak het dat ek darem weer effens kon sien, weliswaar nog dubbel, maar darem.

Met dié dat ek aan die skeidsregter beduie ek is reg om weer op die veld te gaan, dreig Rooi Hans: “Ref, as hy sy voet op die veld sit, donner ons hom dood.”

Soveel verantwoordelikheid sien g’n skeidsregter voor kans nie. “Vra jou kaptein,” het hy my aangeraai.
Ja, sê die kaptein, kom, maar los hulle liefs uit.

Só het ek darem die wedstryd voltooi en soos die gebruik destyds was ‘n dop saam met Rooi Hans en die haker gedrink – in Afrikaans – en die byle begrawe.

Toe reken die manne ek moet liefs eers ‘n draai by die destydse JG Strijdomhospitaal se ongevalleafdeling vir behandeling gaan maak. Ook maar goed so, want die dokter het dit nodig geag om ‘n paar steke in ‘n sny te sit.

En eers die tweede dag dat ek met ‘n donkerbril by die werk opgedaag het, het iemand gewonder waarom!
Gelukkig het ek kort daarna nagskof begin werk en is ek verdere leed op die rugbyveld gespaar.

Andries Botha skryf:Piet Ebersöhn se ondervinding op Westelike  Gebiede se rugbyveld , het sy gedagtes teruggevoer na ‘n geleentheid waar hy ook swaar gely het onder die wraak van die Brixton-hardebaarde.

Pas uit universiteit en nog nie seker dat ek nie nog eendag vir die Springbokke skrum- of losskakel sal speel of ten minste ‘n toerspan as veelsydige agterspeler sal haal nie, wou ek ondanks die laat ure wat ‘n mens as 'n junior by Die Transvaler moes werk tog nog my rugby-ideale najaag. Maar weens die tydfaktor moes ek toe maar by die naaste klub, die Spoorwegpolisie se klub op Sturrockpark, aansluit. Daar het ek die eerste span gehaal wat in die Transvaalswe tweede liga gespeel het.

Nou oor Western Areas (uitgtespreek in daardie geweste as “êriejas”). Hulle had ‘n groot slot wat vir die Transvaalse sub-uniespan (die span wat uit die tweedeligaspanne gekies is) gespeel het. As ek reg onthou, was sy naam Willem Botha. Ewenwel, dié reuse-man het teen die kantlyn afgesnel, reg op my af. Ek het dit vir hom onmoontlik gemaak om na binne te breek en toe hy so langs my was, het ek hom geskouer. Ongelukkig vir hom het ek hom op die verkeerde voet betrap en hy is die veld uit en het hom half disnis geval teen ‘n motor langs die veld.

“Merk daai Joodjie, vat sy nommer!” het stemme uit die skare gebulder. En van toe af is ek geskouer, geskop en geslaan, of ek nou die bal gehad het ofte nie. As ek die bal aan die agterlyn uitgegee het, was dit al amper by die vleuel toe ek onverhoeds betrap is deur ‘n Westelike-voorspeler wat ‘n groot grief teen Israel had.

Maar ek het wonderbaarlik oorleef en, soos in Piet se geval, daarna ‘n heerlike paar doppe saam met die êriejas-manne in die Brixton-hotel geniet.

Terloops, ‘n jaar of wat later, toe ek DT se Durbanse Verteenwoordiger was, is ek ook vir ‘n Jood aangesien toe ek vir Berea Rovers se eerste span teen Durban Collegians – met 14 Natal-spelers, onder wie Keith Oxlee, in hul span - gespeel het. ‘n Vriend het gehoor hoe iemand vir die Rovers-afrigter vra: “Wie’s daai Joodjie wat nou vir julle losskakel speel?”