Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.7.13

Koos du Plessis se koerantstreke

WIM VAN DER BERG skryf: As jy by ʼn weekblad werk wat laataand sak, moet jy maar so naastenby dieselfde opofferings maak as ʼn oggendkoerant se redaksielid, skryf Wim van den Berg.

Die bespreking van wat by dié uitgawe van die weekblad skeefgeloop het (of soms nié!) is immers ʼn manier om soortgelyke probleme in die toekoms te voorkom. En by die dagblad is die gewag vir die finale proef van die steen af maar altoos n langdurige proses – maar jou plig is
egter jou plig.

Koos du Plessis
Tussen die baie lekker ure oor ʼn ou ietsie in die laataand om die vroeëre spanning te help verjaag, was
daar by Oggendblad, méér as by die Durbanse weekblad Die Nataller, die karakter Koos du Plessis.

Dis hý wat laataand in Durban waar die Afrikaner moes veg om vastrapplek te kry en ook in Pretoria die ghitaar uitgehaal het. Dit was lekker, ondanks die laat bly en dan die volgende oggend se swaarkry.

Min het ons toe geweet dat dié man binne ʼn jaar of twee die land met sy lirieke sou verower – ‘songs’ wat ons toe al hier en daar saamgesing het.

Ek onthou hom egter benewens hierdie lekker-sing in die laat-ure ook vir die dinge wat hy aangevang het. Daar is vele, maar die volgende twee is tipies van sy streke.

In dié betrokke jaar het Die Nataller, volgens gebruik, die lesers volgens gebruik in ʼn kassie regs bo langs die mashoof weer gewaarsku dat Die Nataller nie op Goeie Vrydag sou verskyn nie.

Die bewoording wat Koos vir die kassie goedgedink het, was naastenby die volgende: “Aangesien dit aanstaande week Goeie Vrydag is, sal Die Nataller dan nie verskyn nie en miskien nooit weer nie.”

Dié koerant, sterk op die plattelandse lesers gerig en weens omstandighede nie te sterk op nuus ingestel nie, het op ʼn dag die foto van een of ander wenkoei (bees?) by Weenen se landbouskou gepubliseer, kompleet met ʼn yslike roset en die trotse eggenote van die Landbouvereniging wat die dier lei.

Die tannie se naam kan ek nie onthou nie, maar Koos se byskrif het gelui: “Mev XYZ (links) lei die wenkoei by die kampie uit.”

Daar is nog vele ander stories van hierdie platjie wat ook baie ernstig kon wees. Dié dinge is deel van die lekker terugdink aan jonger jare ...