Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.7.13

Andries Botha se oud-kollegas bring hulde

Andries Botha, immer-gewilde en joviale Perskor-joernalis is verlede Maandagoggend onverwags in sy slaap oorlede. Hieronder is huldeblyke van oud-kollegas.

Wyle Andries Botha en sy vrou, Elna, vroeër vanjaar by die Perskor-reünie.
Foto:  Peet Simonis.

GERHARD BURGER skryf: Die Franse het ʼn goeie beskrywing van iemand soos Andries Botha: Bon vivant. Iemand met verfynde smaak; iemand wat van voortreflike kos en drank hou.

Dit is hoe baie mense Andries sal onthou. Die woord “joviaal” spring ook dadelik uit wanneer jy aan hom dink. Maar agter die groot glimlag en die bruisende lewensvreugde was daar ook ʼn besondere skerpsinnigheid, ʼn wye kennis – veral mensekennis – en ʼn voortreflike vermoë om te kommunikeer; ook deur die joernalistiek.

Omdat hy omtrent nooit neerslagtig, pessimisties en moerig was nie, het hy mense aangetrek – net soos een van my hoërskool-onderwysers en krieketspanmaats, Marius Heyns, wat byna op dieselfde tyd as Andries gesterf het.


PIET EBERSöHN skryf: Andries Botha se dood het ‘n gat uit K’rant en sy mense se hart geruk. Soveel keer het ons die afgelope jaar iets meer as per e-pos gesels, dikwels meer as tien keer op ‘n dag, dat dit ‘n bewuste handeling verg om nie die knoppie vir Andries se e-posadres te druk soos wat dit tweede natuur geraak het nie. En soms dit nog doen. ‘n Vingerfout, soos Andries dit so mooi gestel het. Ons sal sy kwinkslae mis.

Sy besondere humor was so deel van sy lewe. Tog was hy geen ligsinnige mens nie – soos uit sy bydraes op K’rant blyk. Bydraes wat besonder waarde tot K’rant gevoeg het en wat tot in lengte van dae as monument vir Andries sal bly staan. Hy was so dikwels ook die soberende invloed as ons op loop wou sit met ‘n storie. ‘n Besondere mens, ‘n buitengewone groot gees, iemand wat sy stempel gelaat het op diegene met met wie hy omgegaan het. Wat die lewe met vreugde gelewe het en die vreugde met ander gedeel het. ‘n Vol lewe gelei het met ‘n nalatenskap wat wyd strek. ‘n As joernalis het sy keurige taalgebruik en gemaklike omgang met woorde, maar bowenal sy ondernemendheid, sy werk gekenmerk. Om Andries te kon ken, het onteenseglik ‘n spesery of wat tot my lewe bygevoeg waarvoor ek immer dankbaar sal wees.


PEET EN ESTHER SIMONIS skryf: Ek het pas van Andries se heengaan gehoor. Sjoe! Eina!

Dit maak baie seer ... ons koerantmanne het ook harte al lyk dit partykeer nie so nie. Verlede nag het Andries s’n besluit dis genoeg en ophou klop.

Myne pyn op die oomblik.

Ons vriend en kollega is nie meer met ons nie.

By die onlangse reünie-ete het ons skuins oorkant mekaar gesit en ek het 'n mooi foto van Andries en Elna (heelbo aan dié berig) geneem. Só sal ek en Esther en baie ander julle twee onthou. Altyd ‘n glimlag en ‘n grappie.

Eintlik het ons Andries die beste leer ken in sy K’rant-stories. Ek was verbaas oor wie hy werklik was – ‘n man van soveel kennis en gawes en ervaring. Dankie dat jy dit met ons gedeel het Andries – ons is verryk daardeur.

Elna, ons bid jou en die kinders en kleinkinders die Here se besondere seën en vertroosting toe.


KOOS BOTHA skryf: Ek het Andries Botha meer as 'n halfeeu gelede die eerste keer in die gange van Die Transvaler se redaksiekantoor in Jorissenstraat, Braamfontein raakgeloop.

Hy het in 1963 vir DT begin werk. Aanvanklik was hy misdaadverslaggewer, maar het later politieke korrespondent geword. Oor sommige van sy ervaringe in die parlement se gange het hy self al vir K’rant geskryf.

Dit bly nog vir my 'n groot skok dat hierdie lieflike mens skielik nie meer met ons is nie. Dit voel absoluut onregverdig dat hy te vroeg vertrek het. Maar dit is ook so dat Dries so baie dinge en episodes in sy lewe ingepak het, dat die liewe Vader gedink het dit is nou genoeg.

Vir Elna, sy vrou, en sy dogters, Lani, Anita en Elmi, kan ek sê ek is baie jammer dat julle nou sonder julle ou groot pêl moet klaarkom. Maar gelukkig was hy 'n mens wat julle baie lief gehad het en vir wie julle baie lief was/is. Daarom sal hy altyd deel van julle lewe bly en sal die geweldig baie herinneringe aan hom julle nog baie lank besig hou.

Drie dae voor sy dood het ek vir hom in 'n e-posboodskap gevra om self sy eie verhaal saam met koerante en die res vir die K’rant te skryf.

Ek self kan nie naastenby reg laat geskied aan wat daar te sê is oor hierdie dierbare kollega en pêl nie. Daarom skryf ek net oor enkele episodes in die lewe saam met Andries. Eintlik behoort almal wat hom geken het hul bydraes vir K'rant te gee.

Dit was waarskynlik nog in die jare sestig toe ons mense wat vir DT en Die Vaderland gewerk het, op 'n aand daar in Dries en Elna se huis in Vyfde Laan, Linden volkspele gedoen en gesing en gelag het tot omstreeks vieruur die oggend. Ek onthou dit as een van die heerlikste episodes van my lewe. Baie van diegene wat die aand daar was, het ons jare gelede al ontval.

Net 'n week of wat gelede skryf hy oor 'n nogal buitengewone byeenkoms hier by my huis in Ferndale in 1978. Hier kort voor Kersdag was ons sestien ouens wat die aand om die swembad gehelp het om van dop en braaivleis lewensvreugde te maak. Ek en Dries het die middag al 'n vuurtjie gemaak en Andries het twee swaarde, elk met 'n halwe skaap ingeryg, staangemaak sodat die vleis baie stadig en baie sag gaar geraak het. En ons selwers het ook gaarderig geraak.

Totdat Sieg van Niekerk, lugvaartkorrespondent van DT en Piet Klein,skakelman van die SAL hul klere uitskop en in die water spring dat die water oor alle kante stroom. En oubaas Reyneke, toe al oor die tagtig, self sy klere laat waai en in die water spring. Toe Andries in Natal vir die KwaZulu Ontwikkelingskorporasie gewerk het, het ek nogal kere in die Elangeni-hotel gebly waar Dries kom kuier het.

In 'n stadium so dertig jaar gelede het ek in Kaapstad 'n kursus vir joernaliste bygewoon en daarna met Ben Blanckenberg se Volksie vol daisies by Dries en Elna in die Paarl gaan kuier. Hy het toe skakelwerk vir die KWV gedoen en ek het op 'n katel in sy wynkelder met vier mure vol bottels wyn geslaap.

En daar het Dries so tien jaar gelede 'n yslike ding gereël met onder meer lugballonne en allerhande dinge. Eers baie jare later het hy my vertel van die groot terugslag toe hy hul huis en strandhuis as gevolg van ongewone kinkels verloor het.

Terug in Transvaal het hy weer planne beraam en dinge gedoen tot hy ook so drie jaar lank redakteur van 'n koerant op Pietersburg was.

Terug in Johannesburg het die resepteboek vir wildsvleis saam met Willem Krog probleme gebring maar daar was goeie hoop. Pas 'n week gelede het ek per e-pos vir hom vertel dat Pieter Dirk Uys so twee jaar gelede op 'n pers-ete gesê het dat daar toe al 70 000 van sy resepteboek verkoop is. As hy R30 per boek gekry het, moes dit mos so naastenby R2m beteken het. Twee dae voor sy dood, kry ek sy e-pos oor die boodskap.

En gisteraand lees ek in 'n boek van Aldous Huxley van byna 100 jaar gelede: Dit is 'n groot wonderwerk van die lewe dat die mens se gees bo alle terugslae kan uitstyg en met die lewe kan voortgaan.

Daarom sal ek nog baie lank kan dink aan hierdie ou pêl wat altyd blymoedig en vol planne vir die dag van môre was. Dit voel glad nie reg dat hy op die Grootpad anderkant ons dink vertrek het sonder dat sy resepteboek se sukses gekom het nie.

Ook oor baie dinge saam met Elna en sy kinders en kleinkinders voel dit nie reg nie.


SUZELLE FOURIE skryf: Dit was ‘n erge skok en groot hartseer om vanoggend van Andries se dood op die K'rant-webwerf te verneem. Die man was maar ses jaar ouer as ek, wie’t nou kon dink hy sou so onverwags en vroeg gaan?

Ek het nooit saam met Andries gewerk nie, maar het hom destyds leer ken toe hy skakelwerk vir die KWV gedoen het. KWV het aanvanklik die jaarlikse kompetisie vir gemeenskapsjoernaliste geborg en Andries het dit gereël. Ek was gelukkig genoeg om een van die pryswenners van die heel eerste kompetisie, in 1984, te wees en het só met Andries kennis gemaak.

Later het ons heeltemal kontak verloor toe Sanlam die kompetisie oorgeneem het. Dit was gevolglik so ‘n gawe verrassing om weer via K'rant van hom te hoor.

Dalk is dit ‘n goeie manier om te gaan: so stil in sy slaap. Maar hy sal gemis word deur ons wat agterbly.


PIET COETZER skryf: So onthou ek my vriend en mentor, Andries Botha

Toe ek in Desember 1969 by Die Transvaler se nagkantoor as “papierskeurder” (van die teleksmasjiene af) en vertaler van “vullers” uit Sapa-berigte, ingeval het, was Andries Botha, wat ek tevore tydens vakansiewerk daar skrams gesien het, nie daar nie. Die parlement was in reses, politieke kongres-seisoen verby en die politieke korrespondent met vakansie.

Ek sou hom eers teen die middel van 1970 regtig ontmoet. So twee jaar later had ek die voorreg om onder sy leiding die “ropes” van politieke verslaggewing te begin leer, en woeste, bakleierige HNP- en ander vergaderings by te woon.

So ‘n jaar of wat later woon ek ook saam met Andries my eerste NP-kongres in Durban, wat hy as vorige verteenwoordiger daar goed geken het, by. Ons reis met die trein en op die terugreis pak ons laataand die pad met die smal treingangetjie uit die eetwa/kroeg terug na ons koepee. Dit was ‘n lang pad daardie tyd van die nag, maar dit is in die rigting van die lokomotief. Toe kon ons die grappie deel dat die trein darem gelukkig in daardie rigting ry!

Enkele jare later, nou al goed 30 jaar gelede, is ons vir ‘n tyd bure in Windsorpark toe Elna hul eersteling verwag. Dit was in die dae voordat sonar 'n mens van die afwagting van die geslag van ‘n baba beroof het. Toe ek hom die dag ná die geboorte so oor die heining na die geboorte van die kleinding se geslag vra, lig hy my in dit was ‘n dogter en voeg dadelik by: "Nou is dit my vrou, ‘n dogter, die hond is ‘n bitch en die kar neuk ook maar.”

Dit was ook gedurende daardie tyd dat ons en die Bothas mekaar beter leer ken en ek sy spesiale doepa vir ‘n stuk bees op die kole leer ken het. Hy het die resep gekry by sy pa, ‘n Argentynse Afrikaner wat dit eers saam met hom na Zambië geneem het. Dit is hier waar Andries ook sy kinderdae deurgebring het.

Professioneel deur-en-deur, wye algemene kennis en ‘n wonderlike humorsin. Meelewend en ‘n soliede vriend wat ‘n baie sterk vormende invloed op my persoonlik gehad het; dit is hoe ek Andries onthou en sal bly onthou.

Ons sou verlede Desember, toe hulle op Hermanus gekuier het, bymekaar kom. Toe loop die reëlings skeef. Ek wens ek kon my eie gat skop omdat ek nie harder probeer het nie, maar hy moet dit maar doen wanneer die tyd vir my kom om by hom aan die anderkant aan te sluit.


STELLA NIEMAND skryf: Dit blyk dat ek die laaste kollega is by wie Andries Botha gekuier het voor sy skielike en hartseer dood. As een van die vier redakteurs het hy stories vir my gestuur om voor plasing in K'rant te sub. Hy was die enigste redakteur wat ek nie persoonlik geken het nie.

Hy het op 3 Julie laat weet hy is in my omgewing en gevra of dit geleë was om te kom koffie drink. Ons het heerlik gesels en gelag. Dis 'n middag wat ek nooit sal vergeet nie. Ek het besef hy was 'n mens wat ek graag as vriend sou wou hê.

Andries het my geweldig beïndruk met sy vlymskerp verstand en heerlike humorsin. Ek kon toe in lewende lywe meemaak wat ek uit sy bydraes vir K'rant besef het: hy was 'n hiperintelligente, wyse en welsprekende man. Hy het immers al oor en oor bewys dat hy 'n onontbeerlike aanwins vir K'rant was. Dit was die grootste plesier om sy berigte te sub. En om alles te kroon, het hy my vertel hoe hy my bydrae as sub waardeer; hoe dit waarde tot K'rant voeg. Ek het dit geweldig waardeer dat hierdie uitsonderlik slimme man eerstens die moeite gedoen het om persoonlik met my te kom kennis maak en my boonop vir my beskeie werkie te prys.

Hy het ook nog soveel verdere planne vir K'rant gehad. Hy wou onder meer hê dat die redaksie die beste stories kies wat reeds geplaas is sodat dit in boekformaat uitgegee kon word. Hy het vir my 'n voorbeeld gewys van die wildsvleisresepteboek wat hy help skep het en dit was heel indrukwekkend.

Sy dood is vir my 'n geweldige skok. Ek kon nie glo dat hierdie op en wakker man so skielik weg is nie. Toe ek die nuus hoor, het ek sommer in trane uitgebars. Ons het, trouens, beplan om mekaar weer te sien.

Andries, ons het mekaar net kortstondig geken maar ek sal jou nooit vergeet nie. Ek salueer jou en sal ons vlietende vriendskap ewig koester. En K'rant gaan baie armer sonder jou wees.


WILLIE BUYS skryf: As joernalis en mens het ek die dood met die verloop van ‘n gebeurtenisvolle, lang lewe al meer kere ervaar as wat ek graag sou wou beleef omdat dit elke keer die verganklikheid opnuut by ‘n mens tuisbring. So was dit dan ook met die skielike afsterwe van ‘n geliefde vriend en kollega, in lewe bekend as Andries Jacob Botha.

Ek het Andries oor baie jare leer ken en waardeer as mens en kollega. Dit strek terug tot sover as die sestigerjare toe ons albei aan die redaksie van Die Transvaler verbonde was. Andries was ‘n joviale kuiermens en, soos ‘n ander kollega opgemerk het, hy weet nie of hy Andries al ooit teneergedruk gesien het nie! Altyd opgeruimd en gereed met ‘n kwinkslag. Dit word onderstreep deur die vermelding van sy goeie humorsin wat soos ‘n goue draad deur almal se herinneringe aan hom, vleg.

Andries het ook ‘n barmhartigheid aan my betoon in my vroeë vormingsjare as kadetjoernalis by Die Transvaler wat maar ‘n skrapse salaris verdien het. Ek was in ‘n geselskap van kollegas toe hulle besluit het om ‘n dop te gaan steek. Ek is saamgenooi, ten spyte van my teëstribbelinge dat ek maar ‘n armgat is. Wie het hom oor my ontferm? Andries, wat geldelik ruim bygedra het tot my daropvolgende intoksiekasie!

Soos die gekuier tot gekletterdheid gevorder het, is die manne oorval deur die groot hongersnood en daar is terstond besluit om ‘n lekker, sappige biefstuk (met klippe oftewel tjips) in een van die nabygeleë restaurante te gaan nuttig. Lang storie kort: daarvoor het Andries ook betaal. Dit is die soort mens wat hy dwarsdeur sy lewe was.

My en Andries se paadjies het later geskei terwyl elkeen vir homself ‘n lewe in verskillende rigtings uitgekap het. Tog het ons paaie herhaaldelik en partykeer op onverwagse tye en plekke gekruis met steeds volgehoue warme kollegialiteit. So kon ek hom ook ‘n barmhartigheid bewys toe hy jare later aansoek gedoen het om ‘n pos as joernalis-assistent by die Redakteursforum vir Gemeenskapskoerante, waarvan ek destyds die voorsitter was. Ek was instrumenteel in sy suksesvolle aansoek.

Soos voorheen gesê, was Andries se humorsin een van die uitstaande kenmerke van sy karakter. Hy was die verpersoonliking van die gesegde dat ’n mens nie jouself te ernstig moet opneem nie. Dus was dit amper onvermydelik dat hy en wyle Lou Henning, spotprentkunstenaar van faam, ‘n humorkombinasie sou vorm. Hulle het groot aanhang geniet vir onder andere die karikature Mike en Kallie wat Andries met sy vlymskerp humor in samewerking met Lou se vaardige sketspen geskep het.

Andries was ‘n woelgees wat nie die woord stilsit geken het nie. Hy was altyd aan die gang met die een of ander iets. Toe hy genader is om deel te word van die redaksionele bestuurspan van K’rant het hy sonder huiwering ingestem. As daar gepraat is oor werkverdeling was sy motto: As jy iets gedoen wil hê, gee dit vir ‘n besige man!

Andries was een van die grootste bydraers tot K’rant. Dit het bestaan uit ‘n wye verskeidenheid onderwerpe waaroor hy met gesag kon skryf. Veelsydig is nie die woord nie! So het hy vir ‘n wêreld-scoop gesorg met sy reeks tot dusver ongepubliseerde memoires wat dr Willem de Klerk oor sy Perskorlewe voor sy dood geskryf het. Daardie reeks het inligting bevat wat oor die hele spektrum van menslike emosies die gemoedere gaande gehad het. Jammer Andries kon nie sy ideaal verwesentlik om dié reeks en ander verdienstelike bydraes tot K’rant in boekvorm te laat verskyn nie.

Hoe oud was Andries, vra vroulief Estelle my. Ek weet nie, sê ek toe, want as jy met so kleurvolle mens te make het, is ouderdom nie ter sake nie. Eers later kom ek agter hy was 72 jaar jonk!

Laaste, maar nie die minste nie: Aan Elna, hul dogters en die ander nabye familielede: Innige simpatie en baie sterkte op jul lewenspad vorentoe. Ons gaan hom mis, maar ons weet julle dubbeld so.


HANS LOMBARD skryf: Die skielike heengaan van Andries Botha is ‘n geweldige skok. Ek het in die laat sestigerjare vir die eerste keer met hom in die persgalery van die parlement kennisgemaak. Hy as politieke korespondent van Die Transvaler en ek politieke redakteur van die SA Financial Gazette. As nuweling het hy my baie staaltjies van die politici vertel en hoe om die “red tape” waarin baie van hulle toegedraai was te omseil. Ek onthou hom altyd vir sy vriendelike glimlag en sy kollegiale menslikheid. So het ‘n lang vriendskap ontwikkel. Wanneer die parlement nie in sessie was nie, het ons eenkeer woonstelle gehad in dieselfde blok in Hillbrow. Daar het ons baie lekker saam gekuier.

Later jare het hy vir ‘n ruk uitgewyk na Pietersburg maar met sy terugkeer na Johannesburg het ons weer die drade opgetel en was hy een van ons komiteelede van die Perskorhane en behulpsaam om die jaarlikse reünie te reël.

Ons sal hom mis. Ons diepe medelye gaan uit na Elna en die familie.


JOAN KRUGER (links) skryf: In ons klein Gideonsbende was Andries 'n ware kryger en bondgenoot. Nog water onder die brug deur; ons het Desember nog beplan om te kuier en dit toe nie gedoen nie. Hoe jammer tog.

RETHA FITCHAT skryf: Selfs in die Vaaldriehoek was wyle Andries Botha ‘n bekende figuur. Retha Fitchat, ‘n redakteur van MooiVaal Media se publikasies op Vanderbijlpark, het aan Willie Buys gevra: Is dit ons Andries? Dit blyk toe dat sy Andries leer ken het deur albei se betrokkenheid by die kompetisie vir uitnemendheid in die gemeenskapspers. Andries het ook sy skoolloopbaan in Vereeniging voltooi en was betrokke by die reëlings vir sy skool se reünies. Dus het hy haar gereeld gevra om sulke kennisgewings in haar koerante te plaas.

Elke keer as hy in die omgewing was, het hy by haar kantoor ingeloer: “ek hoor nou nog daardie liewe ou skor stem as hy sy grappe vertel het – ons maagspiere was altyd letterlik seer van die lag as ons ‘n paar ure in sy teenwoordigheid was. “

Uiteraard was Retha baie geskok om van sy dood te verneem en het haar innige simpatie en meelewing met sy gesin en familie uitgespreek.

JOE VAN BUUREN skryf: Ek is geweldig geskok om van Andries se heengaan te verneem. Ek, hy en ons metgeselle het by die Perskor-byeenkoms vroeër vanjaar ‘n tafel gedeel en Andries was behoorlik op sy stukke, vol grappe soos altyd. Hy en sy vrou het daarna ‘n mooi boodskap aan ons gestuur en laat weet dat hulle die geleentheid geniet het. Voorwaar slegte nuus.




GERT COETZEE skryf: Ek het met skok kennis geneem van Andries se oorlye. Ons paaie het nooit ernstig gekruis nie omdat ek donkiejare in buitekantore was, maar ek het hom goed geken uit hoofde van die aansien wat hy geniet het in ons geledere en sy reputasie wat hom vooruitgeloop het. My innigste meelewing met sy geliefdes en vriende.

Ns: Ek dreig al lank om iets te skryf na aanleiding van Andries se pragtige reeks oor dok Wimpie. Ek is jammer hy sal dit nie kan lees nie.


JAPIE BOSCH skryf: Andries kón lag, skaterlag. Hy kon ‘n mens se dag van bedruktheid omdraai. Hy was ‘n antidepressant. Ek onthou nog hoe ‘n mens hom en Len Lindeque van ver af in die gang in Aucklandpark kon hoor lag as hulle saam die dag se spotprent bedink het.

Verlede maand het ek en my vrou, Myra, die groot voorreg gehad om twee dae na mekaar saam met hom en sy vrou, Elna te kuier en te eet. Een keer het hy die kos gemaak en ons het gepráát. Die volgende dag was ons in ‘n restaurant, ‘n volle ses uur lank.

'n Geruime tyd vóór dit het ek en Andries ons liefde vir Johannesburg en veral die Emmarentia-dam gedeel (en die Goue Leeus).

Toe ons by Andries aankom, was sy eerste woorde: “Kom ons gaan dam toe”. Nog vroeër het ek en Andries eendag amper gelyktydig vir mekaar vertel dat ons eendag, ná ons heengaan, ons as daar gestrooi wil hê. Ten tye daarvan, het Andries vertel, moet sy naastes vir hom sing: “What a wonderful world”. Ek wil “Hey Jude” hê.

Dis hoe Andries geleef het – hy het die wêreld vir homself en vir ander aangenaam gemaak.

Wees gegroet, my vriend. Sien jou eendag by die dam. Dan sing ons.


KARIN PRETORIUS skryf: Dit is met groot hartseer en deernis dat ek van kollega Andries Botha se afsterwe verneem. Ek het op 20 Julie hom nog geluk gewens met sy boek, 'Dis Wild' wat hy en Willem Krog saam gepubliseer het. Hy het vertel van sy liefde vir kosmaak en sy gelukkie dat sy skoonseun 'n jagter is wat sorg dat hul vrieskas altyd vol wildsvleis is.

As groentjie by Die Transvaler in 1970, toe Andries parlementêre verteenwoordiger was, kon ek altyd op sy steun en raad as ervare verslaggewer reken wanneer ek vasgehaak het met 'n berig.Wanneer dit sy beurt was om saans die nuusredakteurstoel te beman, onthou ek altyd sy sagte stem - skaars hoorbaar - oor die telefoon wanneer hy met iemand gesels en hy't altyd gesê die groot geheim is om duidelik - nie hard nie - in die gehoorbuis te praat. Ek onthou ook hoe Elna soms daar gesit en wag het vir Andries om sy werk af te handel en hoe sy kleur verleen het aan die sombere nuuskantoor met haar vriendelike glimlag.

Andries en Elna Botha as my gaste in 1974 by 'n onthaal
van Ster-films in Johannesburg toe ek skakelbeampte was.
Iets wat my ook altyd sal bybly van Andries, is sy lekker en aansteeklike laggie. Wanneer ons klomp honger koerantmense die kantien in Braamfontein bestorm het vir 'n 'goedkoop' middagete, het jy soms Andries se lekker laggie bo die lawaai kon hoor vir een of ander grappie wat hy graag vertel het.

My innige simpatie gaan aan Elna en sy drie dogters en hulle families. Andries se nalatenskap is groot en ek is seker dit sal hulle die nodige morele steun gee gedurende hierdie moeilike tyd.


SIEG VAN NIEKERK skryf: Andries Botha was een van die lojaalste en eerlikste koerantkollegas denkbaar. Hy het bittermin vyande gemaak, maar kon op sy joviale manier van omgang nogtans sterk standpunte inneem – sonder om aanstoot te gee.

Hy het in die laat jare sestig van die Puk af by Die Transvaler se redaksie in Braamfontein aangesluit. Hy wou bittergraag ‘n sportskrywer word, maar het spoedig sy merk in die politiek gemaak. Andries het hom ook vroeg reeds in die verligte kraal tuisgemaak.

Heel onverwags het hy die uitdaging aanvaar om in Ulundi as Buthelezi se skakelman te gaan werk om hoofsaaklik die Zulu-leier se beeld en spraakvermoë te verbeter. Ná Ulundi het die Paarl aan die beurt gekom waar hy die KWV se skakelhoof geword het.

Met sy terugkeer na die Noorde het Andries hom hoofsaaklik op skakelwerk toegelê waar sy veelsydigheid hom toegelaat het om wyd te werk. Met sy afsterwe het hy steeds heelwat ysters in die vuur gehad.
Wat veral tydens die laaste klompie jare opgeval het, was veral Andries se geesdrif vir die joernalistiek en sy oudkollegas. Hy het onbaatsugtig aan die oudPerskor-aktiwiteite gewerk en deurgaans oudkollegas aangespoor om deel te neem. Hy het besef daardie “goeie ou dae” is verby, maar wou bittergraag daardie kollegialiteit oor en oor beleef.


ANDRÉ SCHEEPERS skryf: Die onverwagse heengaan van 'n vriend en oud-kollega, Andries Botha, het mens tot nadenke gestem.

Nadenke in terme van hoe sinvol jy vir die lewe was. Of daar volheid was en of jy ewewigtigheid behaal het?

Andries weet ek, het die vrae en antwoorde geken. Jy het in sy geselskap altyd gemaklik gevoel. Sy rustigheid het soos 'n wye landskap om hom gestrek. En hy het altyd, maar altyd geglimlag.

Hy was meelewend met 'n wye algemene kennis. Sy lewe het hy in een woord vervat: LIEFDE.

Ons is almal soekers na geluk en innerlike vrede. Andries glo ek, het al die paadjies geloop en geken.
Soos Willem de Klerk het hy Koos du Plessis aangehaal: "Julle sal my tent tussen sterre in die melkweg sien staan." Die woorde het my geruk. Dit was net 'n bewys dat hy sy pad geken het. Dit het my aangespoor om die onderstaande gedig te skryf wat ek aan Andries opdra. Die dood bly per slot van sake net 'n onbetrokke vonnis, maar ek weet dat God weer eens vir Homself 'n goeie man gegee het.

EGGO's

Geen bivak beloof hemel of rus.
Ek soek na tekens
tussen lampligte en sterre
gesink tussen kulture
se lou mere en palms,
na holtes
van die vrugteland.
Een vir een
soek ek die paaie
en luister opnuut
uit elke hoek en kant
na die eggo's
uit die ander land.

GERT BASSON skryf: Jammer om van Andries Botha se dood te verneem. Het sowat twee maande gelede nog met hom gesels. Hoe stel Andreas du Plessis dit: ‘Hulle kap nie in ons bos nie – hulle kap nou in ons ry!’

SIPKE DE VRIES skryf: Dit spyt my om te hoor van Andries se afsterwe. Ek spreek graag my simpatie uit teenoor Andries se naasbestaandes. RIV.