Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.7.13

Viljoenskroon verloor sy glorie

WILMA DEETLEFS skryf: In die dae voordat ek, Philip Deetlefs en Piet Ebersohn saam ‘n huis in Westdene gehuur het, het ons en ook Frans Scheepers, almal ons eie woonstelletjies in Suncliff Terrace in Troyville gehad. Ons het ook al drie daardie tyd by Die Transvaler gewerk. Dit was eers later wat Piet by the Transvaalse Landbou-unie aangesluit het, Philip Sake-Beeld toe is en Frans sy kragte agter die SAUK gegooi het. Ek het alleen by Die Transvaler agtergebly.

In Troyville het ons baie lief en leed gedeel en die manne was maar te gewillig om my aan die mooi sowel as die skadukant van Hillbrow en Berea voor te stel.

In die laat sewentigs was daar niks so lekker soos om nagskof te werk en dan steeds Hillbrow toe te kon gaan om deur Exclusive Books te drentel tot die vaak ‘n mens huistoe gedryf het nie.

Ons het ook gereeld vir Laurika Rauch en ander kunstenaars, wat toe nog gehoop het om naam te maak, gaan luister. Ek onthou Laurika het graag Jacques Brell-liedjies gesing en dit was vir my baie mooi!

Toe kom kuier een van ons kollegas se broer van Viljoenskroon in Johannesburg en ‘n hele nuwe stad verrys vir my en vir hom. Pleks van Exclusive Books en Laurika Rauch gaan kyk ek saam met die manne en die broer na my eerste strip show in Hillbrow.

Ontkleedans klink nie so lekker soos strip show nie. Arme Oom Angel spin seker rond in sy graf?

Afgesien daarvan dat ek stomgeslaan was oor wat die meisies met hulle tieties-tosseltjies kon regkry – dis voorwaar ‘n kuns – is een van die dansers toe my naamgenoot, Vanessa Rudman. Rudman was my nooiensvan en tot vandag toe kon ek nie uitvind van watter Rudmans sy was nie!!

Maar dis toe Vanessa se vrouewales wat die broer, ‘n mielieboer van Viljoenskroon, se voete skoon onder hom uitgeslaan het.

Vir die res van sy verblyf in Johannesburg het hy nie weer een keer saam met ons uitgegaan nie. Hy is elke aand terug om vir Vanessa te gaan “bestudeer” en dit was met ‘n swaar hart wat hy uiteindelik die pad teruggevat het Viljoenskroon toe.