Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.7.13

Herinneringe van Piet Roos, sportskrywer

PIET ROOS skryf: Gerhard Burger se storie het my teruggevat Aucklandpark in Johannesburg toe.

Ek was nog 'n vars verslaggewer toe Gerhard een dag by my kom staan en sê:

"Wil jy nie bietjie in die sportkantoor kom skryf nie? Dis voor jou gewone werk."

En daar is ek in die sportkantoor om meestal vertalings te doen.

My ondervinding van sport was, behalwe perskes steel, hoofsaaklik tennis en ek het geluister hoe my pa-hulle rugby oor die radio luister.

Verder het ons saans, toe ek al 'n bestuurslisensie gehad het, by die padkafee, die Burger Box in die hoofstraat van Vereeniging bymekaar te kom.

Daar het ons gepraat van SU-kabereiters, Webers, Banana-branch en sulke dinge en dan gewoonlik 'ge-dice' van robot tot robot in Voortrekkerstraat.

Ek was verlore in die sportkantoor maar het moedig probeer. Die sportterme en dinge het ek nie geken nie. Drie dae later kom staan Gerhard by my en so sag en diplomaties as wat hy is, sê hy:

"Piet, dankie vir jou werk. Ons is nou weer voltallig en jy hoef nie meer terug te kom nie."

En minister Dirkie Uys. By die Landbou-unie-vergadering op Harrismith staan een boer op en sê:

"Meneer die voorsitter, ek stel 'n mosie van wantroue in teen Dingaan."

Dis stil in die saal. Die voorsitter vra nou hoekom, en wat het Dingaan te doene met die landbou?

"Hy het die verkeerde Uys doodgemaak!"