Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.7.13

'n Nuwe beeld vir Charl

CHARL THOM skryf: Andries Botha se storie oor sy gesels met Dot Kruger het my eie gedagtes laat teruggaan na van my eie ervarings met die formidabele MVJ. Hy was inderdaad 'larger than life' soos die gesegde lui.

Een episode het plaasgevind rondom die tyd toe hy met die Hyman-broers in gesprek was oor Perskor se oorname van Repubkikeinse
Pers. Ek was toe redakteur van Tempo en Perskorburo in Natal en MVJ het laat weet ek moet hom op die lughawe kom haal.

Hy het 'n spesifieke suite in die ou Edward Hotel gehad waar hy altyd oorgebly het op sy Durbanse besoeke. Daar aangekom was die personeel reg vir die hoge gas. Toe ons uitklim op die derde verdieping wag so 'n bleek Engelsmantjie met uitstaan tandjies en kondig handevrywend aan: "Good day, Mr. Jooste. Welcome. My name is Jones and I'm the house manager." MVJ het net gesnork:"Yes,and my name is Jooste and I'm NOT the house manager!"

Later in die suite draai hy na my: "Gooi vir ons 'n dop en kyk sommer lat die vent my tas uitpak en lat hy nie steel nie."

Peugeot 404
Illustrasie
Ek het hom op die lughawe gaan haal met my goed geroeste ou Durban Volla. MVJ was duidelik nie beindruk nie. 'n Week of wat later kry ek toe 'n oproep van Willem Allen, Perskor se vervoerbestuurder. "Kan jy Johannesburg toe kom om vir jou 'n nuwe Peugeot-maatskappymotor te kom haal? Mnr Jooste is blykbaar bekommerd oor sy man in Durban se 'image' onder daai Engelse!"
  • Natuurlik het ek die eerste vlug gehaal!