Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.7.13

As die hoogste sport nie vergenoeg nie

JOE VAN BUUREN skryf: Ons hier in Suid-Afrika is maar ver van die res van die wêreld, maar so elke dan en wan sit daar ‘n buitelander hier voet aan wal wat dan sommer vir baie skindernuus sorg.

Een van dié mense was dr Mario Chiavelli, die Italiaanse miljoenêr van Summer Place-faam.

Dr Chiavelli het pas na sy aankoms hier in die vroeë jare sewentig ‘n groot onthaal vir al die plaaslike glanspersoonlikehede, onder wie ook talle skoonheidskoninginne, in die Carlton-hotel in Johannesburg se middestad gereël en natuurlik ook die pers uitgenooi.

Daardie aand het ek en dr Chiavelli sommer dik tjommies geword.

Die storie het ‘n paar jaar vroeër begin, nog voor ek my per abuis in die joernalistiek begewe het, toe ek in ‘n dapper dog vergeefse poging om my aandele by die skoner geslag te laat styg, by Jannie Beetge se gimnasium in Braamfontein in Johannesburg aangesluit het.

Ek en Jannie het mekaar so leer ken, maar ons paadjies het geskei nadat ek die stryd by die gimnasium gewonne gegee het.

Jare later word ek as verslaggewer by Die Transvaler aangesê om ‘n storie van die groot onthaal by die Carlton te skryf.

Daar loop ek toe Jannie Beetge en sy aanvallige vrou raak.

Hulle is in hulle hoedangheid as bekende sosiale vlinders na die onthaal genooi.

Ek en Jannie het gestaan en gesels, toe ek merk dr Chiavelli beduie vir my om neffens hom op die rusbank stelling in te neem.

Dr Chiavelli was eintlik ‘n gawe omie.

Toe ek so tussen al die mejj Suid-Afrika en ander skoonhede langs hom gaan sit, plaas hy ewe vriendelik sy hand op my knie.

Intussen is die ander gaste deur Jannie en sy vrou op die dansvloer vermaak.

Jannie was wel ‘n spierbouer, maar hy was nie een van daardie ouens wat na ‘n opgestopte gorilla lyk wanneer hy ‘n aandpak dra nie.

Hy en sy vrou het hulle danspassies geken en hulle het ‘n wonderlike vertoning gelewer onderwyl die nuutgevonde vriendskap tussen my en Oom Mario gedy het.

Daardie aand was Jannie Beetge op die kruin van die golf.

Groot was my verbasing dus toe ek later lees hy is van sy vrou geskei en dat hy ‘n verhouding met ‘n bekende mannekyn en glanspersoonlikheid, ene Bubbles Mpondo, aangeknoop het.

Bubbles het haar op soek na haar droom na die Goudstad begewe, nes haar voornaamgennoot, Bubbles Schroeder, ‘n kwarteeu vroeër gedoen het.

Die 18-jarige Jacoba Schroeder, ‘n boorling van Lichtenburg, se lyk is in Augustus 1949 in Birdhaven, ‘n voorstad van Johannesburg, gevind. Twee ouens is van haar moord aangekla, maar hulle is onskuldig bevind en haar dood is tot vandag toe ‘n raaisel.

So ook het Bubbles Mpondo se soeke na geluk haar lewe geëis.

‘n Verhouding oor die kleurgrens heen was in daardie dae heeltemal taboe en Jannie en Bubbles se liefde was gedoem.

Hulle lyke is later in ‘n woonstel in die middestad van Johannesburg gevind. Jannie het albei van hulle geskiet.

‘n Mens wonder steeds wat destyds in Jannie ingevaar het. Hy het in sy wêreld die hoogste sport bereik, maar was oënskynlik steeds onvergenoeg.