Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.7.13

My pa, Andries Botha

Lani Botha, wyle Andries Botha se dogter, het dié besonderhede verskaf.

Andries Jakob Botha (72) van Rooseveldt Park, Johannesburg, is in die vroeë oggendure van Maandag 22 Julie, 2013 in sy slaap oorlede. Gebore op 28 September 1940 te Steynsburg in die Oos-Kaap met Ronnie en Ana Botha as sy ouers, is hy op 17 Desember 1970 getroud met Elna Delport. Sy oorleef hom.

Ook word hy oorleef deur sy dogters Lani Botha, Anita Stohr en Elmi Botha van Johannesburg; sy skoonseun Robert Stohr; ses kleinkinders Kyle, Anja, Ruben, Jani, Zandre en Leia; een suster Nellie van Straaten, twee broers Hennie en Sito Botha, asook verskeie neefs en niggies. Andries se ouer broer, Vic Botha, het hom voorgegaan in die dood.

Nadat hy sy skoolopleiding op 18-jarige ouderdom in Vereeniging voltooi het, het hy gegradueer aan die Potchefstroomse Universiteit. Sy joernalistieke loopbaan het in 1963 begin en hy het later die posisies van politieke korrespondent, nuusredakteur en assistent-redakteur by vooraanstaande koerante beklee. Daarna het hy sy loopbaan in ontwikkelende kommunikasie en bemarking voortgesit. Wyle Andries het die laaste dekade van sy lewe aan sy groot liefde, die skryfkuns, gewy.

In 1978 het Andries ‘n toekenning vir ondernemende joernalistiek vir nasionale koerante verower vir ‘n projek wat gelei het tot die vrylating van dr Nthato Motlana en Aggrey Klaaste. Laasgenoemde het later die redakteur geword van The Sowetan. Hulle was in die tronk waar hulle sonder verhoor aangehou was in die nadraai van die Soweto-opstande in 1976.

Hy was medeskrywer van ‘n boek oor wildsvleisresepte, wat onlangs die lig gesien het. Hy was ook redakteur van die aanlyn bewaringsjagters-nuusbrief Pot Shot, en ‘n resepte-nuusbrief What2Cook. Hy was ook een van die medeskrywers van ‘n e-publikasie vir afgetrede joernaliste, K'rant.

Wyle Andries was versot op lees en tot in sy laaste dae ‘n toegewyde gholfspeler. Hy het tyd saam met sy familie getroetel en was ‘n toegewyde eggenoot, vader, broer, oupa en vriend. Hy sal veral onthou word vir sy ononderdrukbare sin vir humor en ‘n gees wat hom laat uitstyg het bo gemiddeldheid.

‘n Gedenkdiens is Vrydag 26 Julie by die NG Kerk Vergesig, Putneyweg 43, Brixton, Johannesburg, gehou.