Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.7.13

Aksiefoto? Aikona!

PIET EBERSöHN skryf: Philip Deetlefs se storie oor die polisierugby in Johannesburg herinner my toe aan ‘n polisieman wat saam met my in die geslote liga by Oostelike in Pretoria gespeel het. Dit was ‘n liga waar kantoorspanne teen mekaar gespeel het sonder om te oefen. Dis meesal die “sosiale liga” genoem, maar behalwe die kuiers na die wedstryde was daar niks sosiaals aan nie.


Die polisieman van my storie was ‘n lekker rugbyspeler en ek glo nou nog hy kon dit ver op die rugbyveld bring as hy nie te lui was nie. Hy het eenvoudig alles daarvoor gehad, die liggaamsbou, die talente, die vaardighede – net nie die werkywer nie. Dié dat hy die polisierugbyklub vermy het.

Die Bobbies het hom wel later opgekommandeer, maar hy het nooit sy potensiaal verwesenlik nie.
Terwyl ek sportredakteur was van Perskor se latere Pretoriase koerant, Metro, het hy op ‘n dag (in die laer ligas) vir een van die baie Polisiespanne in die eindstryde van die Noord-Transvaalse klubligas gespeel.
Metro het as gemeenskapskoerant tot oor die die laagste liga berig.

Ek dag toe ek sal my vriend ‘n guns bewys en ‘n mooi aksiefoto van hom in die koerant plaas. Lekker objektief, nè.

Die fotograaf is Loftus Versfeld toe met die versoek, darem onder meer, om ‘n goeie aksiefoto van Polisie se nr 5-slot in die bepaalde wedstryd te kry.

Die fotograaf se verslag (Maandag): “Jammer, ek kon nie die aksiefoto neem nie. As hy nie geloop het nie, het hy baklei.”

• Johann de Jager se verwysing na die blitsige fotograaf Neville Langley het my aan ‘n teenstellende kollega laat dink.

Ons moes in Transvaler (die latere een sonder die “Die”) se dae oor ‘n rugbywedstryd op die Oud-Studente-veld in Prinshof verslag doen.

Hy skrop toe ewe langs die middellyn nes en, net soos oorlede Santam, dek hy alles van daardie enkele kolletjie af!

Ek wonder nogal of Neville aan die Springbok-hekkiesloper van die vroeë jare sewentig, Dave Langley, verwant was. Dit klink na eenderse gene aan die werk.