Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.7.13

Jaap help ’n boemelaar rehabiliteer

PIERRE COETZEE het in Oktober 1972 in Perskorhaan vertel van ‘n tipiese Jaap Swanepoel-storie in Die Vaderland. Die storie se aanloop is ietwat geredigeer:

"Hierdie storie is nog beter as my eerste storie oor Johannesburg se boemelaars. Ek het nou die hoofboemelaar ontdek, met die weligste
baard.

Hy was op sy dag 'n groot kokkedoor. Hoofkok op die Bloutrein. Kok in die Parlementshuis."

Wanneer Jaap Swanepoel só onstuitbaar oor sy volgende storie redeneer, is hy onstuitbaar. Hy en fotograaf Pierre Oosthuysen het 'n artikel vir Die Vaderland se middelblad oor Joeys se boemelaars gaan doen.

Dié man was oom Frikkie Niewoudt wat eens 'n befaamde kok was alvorens hy, soos 'n wafferse Robinson Crusoe, padloper en parksitter geword het.

Met die snuf van 'n goeie opvolg in sy neus, is Jaap en Pierre toe hier weg om onder die lae stof en verwante produkte te gaan grawe. Om die ware Frikkie Niewoudt onder die Robinson Crusoe te gaan opgrawe. Om 'n boemelaar te help rehabiliteer.

Dit het ons manne 'n uitgerekte besoek aan die badkamers op die stasie gekos. En 'n nuwe handdoek, seep, skeergoed.

Eers toe was oom Frikkie gereed om self te proe hoe vandag se kokke kook. Die restaurant was Tony Amaral (die Koning van Garnale) se befaamde eetplek, die Coimbra.

En net hier word Groot Tony se hart klein: Oom Frikkie was wel silwerskoon, maar sy klere was nog dié van 'n baasboemelaar. Maar eers daardie boskasie en baard bykom -- dit wat die stasie se badkamer nie kon uitwis nie.

Tony Amaral se persoonlike haarkapper was onoortuig. So 'n joppie was effens buite sy bestek en persoonlike smaak. Uiteindelik willig hy daartoe in om oom Frikkie se gelaatstrekke teen die kontantprys van R4 te herstel.

Toe neem Groot Tony weer oor. Uit die liefde van sy hart neem hy oom Frikkie na sy persoonlike uitruster toe. Meer ar R100 se klere verwissel van eienaar. Oom Frikkie lyk soos 'n splinternuwe Krugerrand.

Bennie van Delft
Toe die garnaal-ete. Oom Frikkie knik. Hierdie kok ken sy slag! Vyfster. Maar nog is dit nie die einde van hierdie moderne Robinson Crusoe-verhaal nie.

Met sakgeld in sy nuwe broeksak, en 'n treinkaartjie Kaap toe, sit ons manne oom Frikkie daardie selfdeaand op die passasierstrein. In die Kaap is ons man Bennie van Delft teenwoordig om te sien hoe oom Frikkie se dogter hom omhels. "Jy is welkom, Pappie! Ek vergewe jou alles."

Dis nie net 'n goeie storie nie; dis ook 'n MOOl verhaal. Maar dit bly Jaap se storie.