Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.7.13

Die vingers halfslyt, maar die joernalistiek verslaaf nog

JOAN KRUGER, onder meer gewese joernalis by Die Vaderland, tydskrifredakteur van die Transvaler en redakteur van Rooi Rose, skryf: Op versoek van K’rant, so ietsie oor wat sedert Perskor in my lewe gebeur het.

Die vingers mag al halfslyt wees, maar in die gees is ek steeds die joernalis wat vars van die plaas (en Potch was ook maar plaas) meer as
veertig jaar gelede by Die Vaderland ingeval het.

Daardie eerste paar maande het ek taks saans met 'n glimlag van innige plesierigheid op my gesig aan die slaap geraak. Wonderlike kollegas. Ongebreidelde joernalistiek. Die kans om wild en wakker te skryf. En om verskriklike blapse te begaan sonder dat jy gekruisig word.

Ná so 'n soet en verslawende begin, hoe kan 'n mens dan ooit van jou dwelms 'af-kick', soos dit op Hollands heet?

Jy gaan maar net aan. Van dagga na kokaïen, en nou hier op die Kaapse vlakte, na tik.

Daar is skaars 'n gedrukte medium waar ek nie gaan snuif het nie. Al was dit net vir die skop wat vars ink op papier 'n mens gee. Koerante. Bylaes. Tydskrifte. Boeke.

En die afgelope dekade, die opwinding van kliëntepublikasies en die uitdaging van die web, elektroniese nuusbriewe en sosiale media. Walms uit 'n tik-lollie!

En dit nou van iemand vir wie warm lood en strippers eens op 'n tyd genoeg was.

Behalwe dat ek InDesign onder die knie moes kry, en met apps en ander digitale dinge moes leer werk, kom daar toe ook Excell, PowerPoint en B-BBEE-telkaarte by. Maar dit darem eers sewe jaar gelede toe ons ons eie maatskappy gestig het.

Daar was, glo my, meer as genoeg rede om herhaaldelik 'cold turkey' te gaan wat dié bedryf betref.

Eers was daar die skade en die skande van Die Transvaler se roemlose syfergeknoei. Ons het ons hart en siel vir "die saak" gegee, net om te besef ons bydrae het skaars so lank gehou soos 'n koerantplakkaat in 'n donderstorm. Einde van 'n illusie. Nooit weer nie, dag ek.

Maar dis toe nie so maklik nie. Ek gaan werk by Beeld, daarna by Sarie. Die jare tel op. Miskien, sê ek vir myself, is dit tyd om 'n skoon lewe te begin lei.

Ek studeer so tussendeur verder, gaan op veertig as eerstejaar terug universiteit toe, kry 'n meestersgraad in taalkunde.

Maar loskom van die verslawing? Moenie glo nie.

Toe ek my kom kry is ek by rooi rose en moet ons die sukses van Sarie agternasit. Eers by Perskor, met 'n gideonsgroepie, maar met groot vreugde. Toe op die ope mark verkoop aan Caxton. Minder gelukkig, daar. Hoor ook ná 'n tyd: jy's te oud. Oor die muur.

Ek lees duidelik die skrif aan daardie muur, pak 'n doktorsgraad aan en hoop die akademie bring genesing.

Maar die lus gaan nie verby nie. En toe Irna van Zyl sê, kom werk by New Media Publishing, toe pak ek op. Sak en pak Kaap toe. Die eggenoot bly in Johannesburg agter. Ons vlieg op en neer en kuier naweke by mekaar.

Ek leer die wêreld van kliëntepublikasies ken. En raak weer saans met 'n glimlag op my gesig aan die slaap. Ons werk met groot en klein maatskappye, leer ken hul bemarkingstrategieë, maak seker hul tydskrifte is in diens van hul doelwitte. New Media doen uitstekende werk. Ons oes elke jaar meer Pica-toekennings in. Die klein maatskappy met 'n handvol tydskrifte bars gou uit sy nate. Woolworths. Edgars. Sanlam. Santam. Alexander Forbes. Mercedes-Benz. Ackermans. Die Hartstigting.

Ek is redaksionele hoof en vat skaars grond. Tyd vir aftree? Ek is reeds op pad na sestig en die vingers raak halfslyt. Daar kom 'n geleentheid om 'n maatskappy saam met 'n kollega te stig. Ons wil klein bly, besluit ons, self by elke publikasie betrokke wees en nie net leiding gee en vure doodslaan nie. Ons sou ook verkies om meer tyd vir onsself te hê.

Fout.

Niemand waarsku jou dat die begin van 'n nuwe maatskappy 'n dag-en-nag bedryf is nie. Daar is drie van ons by Tip Africa Publishing. Aan die begin doen ons alles. Verf ons kantoor by die Old Biscuit Mill self uit. Was skottelgoed. Gaan koop voorrade aan. Skryf en lê uit, sub en proeflees. Meestal op Engels. Ons soek nuwe werk en die rawe bring aan. Ons hou skaars by. Ons begin nuwe tydskrifte vir Media24, hier en in Oos-Afrika. Ons kry kontrakte: die Wild Card- kommunikasieprogram vir SANParke, Stellenbosch Universiteit se Bestuurskool, Liberty, die Health Professions Council. Vital Health Foods. Momentum.

Ons help nuwe maatskappye met hul sake-voorleggings en ontwikkel PowerPoint-aanbiedings tot 'n fyn kuns. Kort duskant Spielberg. Ons skiet voorblaaie vir tydskrifte en doen stilerings. Plakkate. Plakkers. Advertensies. Ons doen als en ons groei. Ons kry selfs 'n regeringskontrak of wat.

(En waarvoor is ek in hierdie tyd die dankbaarste? Dat ek op hoërskool boekhou geneem het. En dat ek nog kan onthou watter kant debiet en watter krediet is.)

Ná die voorspoedige begin tref die sware tye in die publikasiebebryf ons ook. Media24 maak tydskrifte toe en ons verloor 'n groot deel van ons inkomste op een slag. Maar ons maak planne, werk al harder en oorleef.

Wat het geword van ons planne om tyd vir onsself te hê?

Ek is op pad na 65 en besluit: Dis tyd vir 'n sabbatsjaar, indien nie vir aftrede nie. Daar is bekwame jongmense wat kan oorneem.

Boonop is ek met 'n paar boeke besig wat ek graag wil klaarmaak. Ek beding 'n gedeeltelike sabbatsjaar, sit nou minstens vier dae per week voor my lessenaar by die huis (Soutrivier, in 'n klerefabriek wat in woonstelle omskep is) en skryf aan twee historiese manuskripte.

Wat dit gaan oplewer weet ek nie.

Maar die vingers wil besig bly. Die gemoed soek sy daaglikse 'fix'. En nie een van die twee is al genoegsaam afgeslyt om tot rus te kom nie.

Die rus, soos ons weet, is buitendien altyd elders.

(Vir dié wat lus het om te kyk, hier is Tip Africa Publishing se skakel: http://www.tipafrica.co.za)