Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.7.13

Wollie maak sy verskyning voor die Leeus

HERMAN LE ROUX skryf: Dis Saterdag, 19 Mei 1962. Op die lughawe van Salisbury, nou Harare, wag ek en ‘n stuk of tien joernaliste saam met ‘n paar rugbybeamptes en ‘n groepie rugbyondersteuners op die aankoms van die toerspan van die Britse Leeus.

Die vliegtuig het neergestryk en die voorste deur word oopgemaak. Ons wonder wie eerste gaan uitstap - die bestuurder, kommandeur
Brian Vaughan; die onderbestuurder, Harry McKibbin, of die kaptein, Arthur Smith?

Gert Wolmarans
Nee, dis Gert (Wollie) Wolmarans, rugbyskrywer van Die Vaderland, wat eerste sy verskyning maak; sy arms omhoog gooi en soos ’n wafferse Pous in Rome vir die “skare” waai. Wollie het ‘n paar weke vroeër na Engeland vertrek vir die Leeus se voorbereiding vir die toer en saam met hulle van die lughawe Heathrow vertrek.

Ja, dis tipies Wollie, sê ons vir mekaar – ‘n vriendelike, joviale kêrel met ‘n breë glimlag, wat ‘n gewilde reisgenoot vir ‘n paar maande sou wees.

Dit was ’n strawwe toer, vir spelers en die persmannne. Maar ons het tog tyd ingeruim vir pret en plesier. Só het vier van ons (Wollie, John du Toit van Die Transvaler, Neil Cameron van die E.P. Herald en ek) darem vier rondtes gholf gespeel – in Harare, Stilfontein, Windhoek en op Oudtshoorn. Die woelige Wollie het alles beplan en gereël.

Wollie het sommer vroeg op die toer goeie vriendskappe gesmee met al die rugbyskrywers, Afrikaans- en Engelssprekendes.

Hy het Neil Cameron “Rockspider” genoem – ‘n bynaam wat hierdie rugbyskrywer van die Baai nie kon afskud nie.

Uitslae van die 1962-Leeutoer na Suid-Afrika.
Wollie se besoek aan Engeland, waar hy die bestuur en spelers beter leer ken het, het hom ’n vroeë voorsprong gegee. Dit het dalk die weg gebaan dat rugbyskrywers daarna byna gereeld oorsee gestuur is om toerspanne se voorbereiding by te woon voordat hulle Suid-Afrika besoek.

Só het ek en Piet Nel van Beeld, en die Perskor-manne, Neil Steyn, Gerhard Burger, John du Toit en Wessel Oosthuizen, die kans gekry om voor die All Blacks se toere van 1970 en 1976 na Suid-Afrika ‘n hele paar weke in Nieu-Seeland onder meer rugbyproewe by te woon.

Brian Vaugh
Terug na die 1962-toer. Wollie was ‘n joernalis wat nie geskroom het om slae uit te deel nie. Hy het aanvanklik die deugde van kommandeur Brian Vaughan besing, maar toe die Leeus die toetsreeks verloor het, het Wollie geskryf: “Vaughan moet die skuld vir die toerspan se mislukking dra.”

Hy het ook geskryf: “Vaughan is verantwoordelik vir die soms patetiese spel van die agterspelers.”

Op so ‘n toer kry die persmanne genoeg kans om staaltjies en interessante voorvalle in hul loopbane uit te ruil. Een van Wollie se stories wat goed bekend aan sy tydgenote is, is die volgende:

Dana Niehaus
Hy en die bekende Dana Niehaus, eertydse sportredakteur van Die Transvaler, het op ‘n keer op ‘n Sondag saam gewerk of tydelik ‘n kantoor beman. Dana het nie baie lus gehad vir die Sondagwerkery nie. Hy het ‘n sigaret aangesteek en ná diep teue groot rookwalms na Wollie oorkant die lessenaar geblaas. Toe vra Dana: “Wollie, pla die rook jou nie?” Wollie het gedienstig geantwoord: “Nee, Oom Dana.” Maar Dana het nie tou opgegooi nie – en Wollie se antwoord was elke keer dieselfde. Toe kies Dana kortpad en sê: “Wollie, ek is seker daarvan die rook pla jou.”- en hy verdwyn stil-stil uit die kantoor om nie daardie Sondag terug te keer nie.

Gert Wolmarans se kwaliteite is vroeg deur dr. Louis Luyt raakgesien en in 1966 het hy hom van Die Vaderland weggerokkel om ‘n skakelbeampte vir sy sakebelange te word. Hy was veral baie gemoeid met Triomf.

Louis Luyt
Met al die ondervinding wat hy onder dr. Luyt opgedoen het, het Wollie die promosie-agentskap Wolmarans, Deans en Ferreira gestig. Dié maatskappy het genoeg borge bekom om die komitee vir “Fairness in Sport” in die lewe te roep en dr. Luyt is versoek om die eerste voorsitter daarvan te wees.

In daardie stadium het Wollie se loopbaan klopdisselboom verloop. ‘n Vriend het eendag gesê die geluk is so aan Wollie se kant dat hy nog goud in die straat sal optel. Ek was bevoorreg om een van die groot gelukskote in sy lewe te ervaar. In die laat jare sestig het ek op Schoemanpark in Bloemfontein ‘n rondte gholf saam met Wollie en twee plaaslike prokureurs, Marchand de Kok en Das van Deventer, gespeel. By die kort 6de putjie (146 m) het Wollie sy bofhou in die blikkie gespeel - ‘n volmaakte gelukskoot, ‘n droomhou op die gholfbaan. Wollie het weer sy hande omhoog gestoot – soos daardie dag op die Harare-lughawe.

• Wollie, wat leukemie opgedoen het, is op 4 November 1989 op 56-jarige ouderdom oorlede. Hy was getroud met Sue, suster van Hansie Oelofse, Springbok-skrumskakel van Tansvaal in die jare vyftig. Drie dogters is uit die huwelik gebore: Karen, nou mev. Malherbe, en ‘n tweeling, Lizelle (Van Dyk) en Somaré (Kruger).


Gert (Wollie) Wolmarans (middel, voor) van Die Vaderland, was een van die vyftien rugbyskrywers wat in 1962 saam met Arthur Smith se Britse Leeus getoer het. Hulle verskyn hier saam met dr. Danie Craven, voorsitter van die SA Rugbyraad. 
Agter (van links af): is: A.C. Parker (Cape Argus), Pat Marshall (Daily Express, Londen), Terry O’Connor (Daily Mail, Londen), Uel Titley (London Times), Tony Goodrich (Daily Telegraph, Londen), Neil Cameron (EP Herald).
Middel: Bryn Thomas (Western Mail, Cardiff), Herman Steytler (Die Burger), dr. Danie Craven, Vivian Jenkins (Sunday Times, Londen), John Reed (Sunday Express, Londen).
Voor: Herman le Roux (Die Volksblad), Ian Todd (Daily Herald, Londen), Gert Wolmarans (Die Vaderland), Pieter Coetzee (SAPA) en John du Toit (Die Transvaler).