Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.7.13

MVJ op soek na waar David die wortel begrawe het …

Meegaande is die laaste storie wat ANDRIES BOTHA verlede week nog vir K'rant geskryf het.  
Hy is Maandagoggend, 22 Julie 2013, oorlede.

ANDRIES skryf: Ons Transvaler-manne was altyd op goeie voet met die manne van die Rooivleisbedryf. Danie Scholtz, wat nou op George woon, was hul segsman en redakteur van die tydskrif Vleis/Meat, vir wie ek gereeld geskryf het om op te maak vir die Krismishoenders (reg gespel) en ander Perskor-streke om ons op ons plek te hou – aan die onderpunt van die voedselketting.

In elk geval, die manne aan die stuur van die rooivleisbedryf was desjare Fred (ook bekend as Tjol, nie die Springbok nie) Lategan. In daardie dae was WL Ochse een van die sterk maatskappye in die bedryf en hul baas was Oom Jaap Reyneke – oor wie ek ook ‘n storie sal moet vertel. Onder oom Jaap het die gewese Springbok-kaptein Abie Malan sy geldjies verdien. Abie had so ‘n pragtige vrou, gewese joolkoningin op Stellenbosch. Ai, ek was sy diaken (ook Jaap Swanepoel s’n wat langs Abie gewoon het) en dan moet ek daar gaan kollekteer waar sy in haar tennisrokkie sit. Dit het tot verskeie swak vedrskuilde oortredings van een van die Tien Gebooie gelei, dié een wat dit teen begeerte het.

David Meades
Marius Jooste
Hoe dit ook al sy, een aand nooi Tjol ons vir ‘n vleisbraai by sy huis. Dit was in 1978. Loop daar toe ‘n storie rond dat Perskor besig is met een of ander geheime onderhandelinge oor een of ander iets wat my ontgaan daar ek 75% van my geheue aan Google verkoop het. David Meades het die storie ook gehoor en toe die volgende dag daaroor gepraat. Dit het tot Jooste se oor gekom en hy het David ontbied.

Onder druk van Jooste oor waar hy die storie gehoor het, noem hy toe my naam.

Die volgende wat my toe onverhoeds tref, is ‘n boodskap van MVJ dat ek hom onmiddellik moet kom spreek. Dog ek toe in my onskuld dis dalk oor ‘n verhoging of ‘n bevordering van een of ander aard.

Maar toe ek instap en hy met ‘n bose uitdrukking op sy gesig oor my troon en my beveel om op die stoel voor sy lessenaar te gaan sit, het ek gewis die hel is los.

“Wat loop jy so en skinder oor uiters vertroulike onderhandelinge waarmee Perskor besig is? David Meades het gesê hy’t dit gisteraand op ‘n partytjie by jou gehoor. Mannetjie, ek wil nou weet waar jy dit gehoor het. Die een wat hierdie inligting laat uitlek het, gaan gefaaier word. En jy beter in jou pasoppens wees of jy word ook gefaaier as jy nie die waarheid praat nie. Toe, wie’t jou die stories vertel?”

Ek het so iets hoegenaamd nie verwag nie. Maar ek moes maar net aanhou ontken dat ek enigiets van die aard gesê het. Jooste was nie tevrede met my verskonings nie, maar hy moes my uiteindelik weens gebrek aan getuies laat gaan.

Ewenwel, ek was slangboos vir my goeie vriend, David. Ek het hom in die kantoor bestorm en Vegkop toe gevat waar ek hom deeglik uitgevreet het – tot elfuur daardie aand. Daarna het ek hom saam met my na my huis in Linden geneem en in my studeerkamer, wat gelukkig los van die huis gestaan het, tot drie-uur die oggend uitgetrap! Onnodig om te sê dat die uittrappery groot skade aan ons onderskeie lewers gedoen het.

Maar ná so ‘n uittrappery het ‘n man nie veel van ‘n keuse nie – die bande word hegter gesmee.

Van oom Jaap Reyneke gepraat. Daar was ‘n legendariese aand toe die vleismanne vir ons ‘n skaap geskenk het wat ek op die Argentynse manier gebraai het (my ouers is in Argentinië gebore en getroud) aan ‘n assador (daai staal swaard waardeur jy die skaap ryg en vasheg en dan in die grond steek met boude na bo en ‘n gesellige vuurtjie onder).Daarmee saam het ek ‘n bottel salmuera gehad wat my Ma nog gemaak het wat ‘n mens oorgiet wanneer die skaap gereed is.

Dit was by Koos Botha se huis en daar was net mans, onder meer Sieg van Niekerk. Ons het al geselliger geraak en naderhand het almal poedelnakend in die swembad staan en drankies drink, oom Jaap, wat ‘n groot man was, inkluis.

Oom Jaap het daarna gesê dit was die lekkerste wat hy in sy lewe gekuier het, wat ons as ‘n kompliment vir ons Perskoriane beskou het.