Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.7.13

Johnny onslaan Hendrik en Sipke tegelyk

SIPKE DE VRIES skryf: Oorlede Andries Botha se verwysing na Danie Scholtz, die redakteur van Vleis/Meat, laat my terugdink aan die dag toe Hendrik Vorster en ek summier deur Johnny Johnson ontslaan is.

Hendrik was The Citizen se nuusredakteur en ek was assistent- nuusredakteur.

Danie het een keer per maand sy legendariese middagetes aangebied in sy historiese kantoor in Newtown naby die ou slagpale. Daar was gewoonlik reusagtige biefstukke wat vir 'n week lank ryp geword het en in jou mond gesmelt het. Dit het saamgegaan met uitstekende wyne en mildelike hoeveelhede bier, whisky en brandewyn.

Danie was 'n fantastiese gasheer en sy middagetes is dan ook met groot geesdrif bygewoon deur ons joernaliste, en daar is lang ure gesuie.

Toe kom die dag dat Hendrik besluit het ons moet altwee na Danie se middagete gaan.


Ons het gekuier en gekuier tot seker so ná vyfuur in die middag en so teen sesuur die aand in 'n uitgelate stemming by die kantoor opgedaag.

Daar teruggekeer, vind ons 'n deurmekaar redaksie en Johnny wat byna woordeloos van woede was.

Ons moes hom toe in sy kantoor gaan spreek en, na wat ons later verneem het, is die gebulder glo verdiepings ver gehoor.

Ná 'n interessante woordewisseling is Hendrik en ek summier ontslaan. Onder omstandighede seker nie onbillik nie.

Hendrik en ek is toe saam Vegkop toe waar ons ons ontslag tot in die vroeë oggendure gaan vier het. Teen huistoegaantyd het ons mekaar plegtig belowe ons sal Johnny nooit weer sien nie. Ons was klaar met hom.

Die volgende oggend egter maak 'n bestuurder sy opwagting by elkeen van ons se voordeur met 'n nota van Johnny dat ons dadelik kantoor toe moet kom.

Ons daag later by die redaksie op vir 'n tweede gesamentlike onderhoud met Johnny waar hy op sy robuuste manier weer eens op ons tekortkominge gewys het. Die uiteinde van hierdie teregwysing was dat Hendrik dadelik gedemoveer word tot assistentnuusredakteur en ek bevorder word tot nuusredakteur.

Johnny se laaste grom was: “Change desks and get back to work!”

Johnny Johnson was eintlik 'n bakgat redakteur en The Citizen was nie 'n plek vir sissies nie.