Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.4.13

‘Kan jy daai woord ooit spel?’

FRANS ESTERHUYSE, gewese spotprentkunstenaar van Oggendblad, Hoofstad, Die Transvaler en Die Vaderland, skryf: Ek stap in die gang af. Elke koerant het ‘n gang waarin jy moet stap. Dis hoe koerante werk. Tikmasjiene kletter links en regs en fotograwe skarrel heen en weer. Die nuusredakteur skree uit die nuuskantoor. Dis hoe koerante werk!

Perskor in Pretoria het sy eie karakters gehad met wie jy moes saamwerk. Ek onthou hulle: Harald en Herman, dis nou Pakendorf en Snyman, Koos Liebenberg, Koos Doep, wat later gesing het, nes Lucas Maree wat’n fotograaf by Oggendblad en ewe bekend was.

My gedagtes maak ‘n sprong na die verlede.

PG du Plessis
Thys Human
Ek’s in standerd sewe aan die Hoërskool Fakkel innie “suburbs” van Johannesburg. ‘n Jong meneer wat pas begin skoolhou het, gee vir ons Afrikaans, ene mnr PG du Plessis. In die klas sit die slim ouens gewoonlik voor en die dommes heelagter! Ek sit so innie middel. Meneer vra oppie ry af wie wat gaan jy word in die lewe. Hy kom by my. Ek wurm regop en antwoord: “’n Handelskunstenaar, meneer.” Hy kyk my so en vra: “Kan jy daai woord ooit spel, wat nog te sê een word?”

Jare later is Thys Human Oggendblad se redakteur en vra my of ek Hoofstad se redakteur, ‘n sekere dr PG du Plessis, wil gaan spreek. Hy wil glo weet of hy die dienste van Oggendblad se spotprenttekenaar kan bekom. Sal glo baie geëerd wees indien so ‘n moontlikheid kan bestaan.

Die daaropvolgende gesprek verloop min of meer so:

“Dag, meneer Esterhuyse. Sit. Tee?”

“Dag, meneer Du Plessis, ja, dankie!” (Onthou, almal in die redaksie noem hom “dok” ek bly hom “meneer” noem!)

“Dit is vir my ‘n besondere eer om u dienste te mag gebruik en ek is besonder verheug dat u ingestem het om vir ons ook te werk!”

“Dis reg so, meneer.”

“Ons kan oor die vergoeding gesels. Sal u dieselfde pakket aanvaar as wat Oggendblad u bied?”

“Dis reg so, meneer.”

“Ek sal met ons sekretaresse reël en as daar enigiets is wat u pla, moenie huiwer om my te kontak nie.”

“Dis reg so, meneer.”

Hy kyk my aan en verstaan nie die gemeneerdery nie. Dis of hy iets van die “suburbs” in my raaksien.

“Wie de donner is jy eintlik” Waar was jy op skool? Hoekom bly jy my ‘meneer’noem?”

“Fakkel, meneer!”

“Wat?!! Wanneer?”

“Dok, jy’t my so ongeveer 1956 gevra of ek ‘handelskuns’ kan spel. Jy’t getwyfel. Ek het toe ook een geword en my later ook bekwaam in die teken van spotprente!”

“Jou bliksem!”

Daarna, tot vandag toe, is ons groot vrinne!

Baie name in die koerantbedryf bly my by: Niel Steyn, Jan van Vreden, Dirk van der Walt, Louis Roux, Thys Human. As ek nie by Oggendblad begin het nie, het ek nie by Hoofstad of Die Vaderland of Die Transvaler of by Beeld uitgekom nie en nou, bykans 45 jaar later, is ek steeds besig om dieselfde ding te doen. Die koerantink het regtig in my are beland!