Ek en Johan Vosloo, ‘n universiteitsmaat wat ek na Die Vaderland
gelok het en wat later Rapport toe is, en Abel Jones het saam op ‘n plaas in Oakdene, vyf minute van die middestad van Johannesburg af, ‘n huis gehuur. Abel was versot op klassieke musiek, maar het hy sonder gehoorapparaat daarna geluister. Gevolglik moes almal van Pretoria tot Vereeniging sy musiek verduur.
Ons twee is in Julie 1969 saam Europa toe waar ons vier maande lank getoer het. Ons het op die Southampton Castle daarheen gereis. Aanvanklik het ons by vriende in Londen gekuier en toe die tog oor die kanaal na België aangedurf. Ons sou verder deur Europa ryloop, maar het die gedagte gou laat vaar. Ons het die Rynvaart meegemaak en is daarna per trein na München. Langs die pad het ons afgeklim, wyn té goed geproe en die volgende oggend onder ‘n standbeeld van Karel die Grote met ons rugsakke en al wakker geword toe die toeriste oor ons moes trap om by die besienswaardighede uit te kom.
München was vir ons ‘n fees en ons sou later daarheen terugkeer vir die Oktoberfest. Daar het ons toe ‘n motor gekoop – ‘n Opel Rekord vir R140 of 700 Duitse mark wat ons tot ons groot vermaak onder die hoof “Wagen zu Verkaufen” in die kleinadvertensies van ‘n koerant raakgeloop het. Ek het ‘n internasionale rybewys gehad. Abel ook. Maar ek het hom nooit van myne vertel nie. Hy was dus op ‘n tog van 16 000 km my amptelike bestuurder. Ons het ook ‘n tent gekoop en meer dikwels in kampeerplekke geslaap. As ons nou regtig moeg daarvoor was, het ons in hotelle geslaap, wat teen 65 sent vir ‘n dollar nie onbekostigbaar was nie.
Ons het onder meer in ‘n kampeerplek aan die voet van die Alpe gebly toe ons die berg op is na Jungfrau Joch, al Alpe-oord, is my vertel, waar jy in die somer kan ski. Ons het onderweg na Jungfrau Joch gestap na ‘n restaurant waar ons middagete geniet het onderwyl die Switserse meisies tradisionele danse gedoen en gejodel het dat die Heidi’s die berge invlug. Teen die tyd dat ons om ‘n magtige koppie na die volgende treinhalte gestap het, was ons goed geolie met ‘n fles warm koffie wat ons in bekers geskink het. Ons het toe vir elke beker koffie, soos Abel dit gestel het, “’n wiel aangesit”. In die herberg bo-op die berg het Abel foto’s van alles geneem. Buite was die sneeu tot teen die vensters opgehoop. Ek het by die venster uitgelê en Abel het foto’s van my weerkaatsing in die ruite geneem. Daarvoor moes ek ver uitleun en klou dat ek bars. Die volgende dag sou ons sien dat daar ‘n geweldige afstand tussen daardie venster en die aarde was. Abel het gesê: “As jy gisteraand uitgeval het, sou ek nie eens na jou gaan soek het nie.”
In Parys het Abel sy vloekwoordeskat totaal uitgeput. Hy het om die eerste verkeersirkel sy gehoorapparaat met geweld uit sy oor gepluk toe die toeters om hom begin gons. Uiteraard moes dit verskriklik in sy oor weergalm het as die apparaat “aan” was.
In Madrid het hy my lekker gevang toe ek my hare (waarvan ek toe nog ietsie gehad het) by ‘n barbier wou laat skeer. Die barbier wou weet hoe hy dit moes skeer. Abel het buite my gesigsveld die een palm so bo-oor die ander hand gevee. Nodeloos om dit oor te vertel, ek is sonder hare daar uit.
San Sebastian |
Aan die buitewyke van Burgos gewaar ons toe ‘n smidwinkel met ‘n outydse domkrag in die venster – die soort wat ‘n mens nog onder die motor se as insit en dan met ‘n slinger opereer. Ons is in om die domkrag te koop, maar die eerlike Bask wou dit nie verkoop nie, omdat dit nie ‘n slinger gehad het nie. Ons het egter gesien ‘n mens sou hom met ‘n skroewedraaier kan opereer. Onderwyl ons betaal, sien Abel toe ‘n wynsak (‘n bôta) teen die muur hang en beduie daarna. Die Bask dink toe ons wil wyn hê. Abel laat hom
demonsteeer hoe ‘n mens die apparaat gebruik en probeer toe self. Bespuit sy hele gesig en klere daarmee. Ek was ook nie links nie en spoedig het die Bask beduie die bôta is leeg. Ons bied toe aan om dit te laat volmaak en stap saam met ons nuutgevonde vriend na die naaste kroeg, waar hy dit uit verskeie vate laat vul. By ons terugkeer, roep hy sy werkers agter in die winkel om in die vreugde te deel. Tussen my en Abel het ons die bôta vyf keer laat hervul. Daarna het ons afgestrompel na die stad waar ons ons eie bôtas gaan koop en laat vul het.
In Rome het ons ons ambassade besoek. Ons wou liewer stap, want dit raak te moeilik om te ry en gedurig rigting te vra, veral weens Abel se gehoorprobleme en die afgeskakelde gehoortoestel. Ons besluit toe om ‘n plek te kry wat ons maklik weer sou kry – ‘n soort baken. Toe sien Abel die ware Jakob – ‘n kerk waarop geskryf staan: “Catedrale di Roma”. Ons het fluks aangestryk ambassade toe en dikwels die aanwysings verkeerd verstaan. Uiteindelik het ons tog daar uitgekom. Op pad terug soos wat ons die pad onthou het, het ons die heerlikste roomys op sypaadjies gekoop en uiteraard was daar heelwat kroeë – verpligte aandoenlokale.
Laataand begin die karsoekery toe. En Abel ontdek ‘n “Catedrale di Roma” en ons stap rondom hom, maar g’n spoor van die kar nie. Ons drentel toe maar aan en kom by nog ‘n kerk – nog ‘n “Catedrale di Roma”. Nes nog ‘n halwe duisend ander katedrale in dié Roomse Katolieke domein. Ons het die Opeltjie darem so teen drie-uur die oggend opgespoor en afgesit na ons kampeerplek.
In Londen het ek en Abel op ‘n bus staan en wag: En Abel se geduld was vroeg op. “Wanneer kom die donnerse bus? Die f….. Engelse is ook altyd f….. laat met alles.”
‘n Deftige vrou het toe nadergestap en gesê: “Meneer, die bus sal stiptelik oor tien minute hier wees. Kalmeer maar intussen.”
Vir eens was Abel bloedrooi en baie stil. Dit blyk toe dat haar man ‘n tandarts in Londen was.
Hoewel ek met ‘n Union Castle-skip sou terugkeer, het Die Transvaler my gevra om vroeër per vliegtuig terug te keer, want daar was ‘n politieke krisis toe Jaap Marais en dr Albert Hertzog van die Nasionale Party weggebreek het. Abel moes in Londen agterbly om die Springbokke se betogertoer deur Brittanje te dek.
Laat ek dit ten slotte van Abel sê: hy’s die lojale soort man met wie ‘n mens enige tyd saam oorlog toe kan gaan, maar ek sal nie alles doen wat hy doen nie. So sal ek byvoorbeeld kan hoor as die vyand sê: “Hensop!”