Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.4.13

Merkwaardige Niki het dinge op háár manier gedoen

Oudkollega Leoni Benghiat (regs) het K’rant laat weet dat nog ‘n gewese Vaderlandkollega,

NIKI WESSELS (links), op Vrydag, 5 April 2013, oorlede is. 

“Niki se kanker was uitsonderlik aggressief en dwarsdeur haar liggaam versprei en die laaste paar weke kon sy ook glad nie meer self loop nie. En tog het sy haar humorsin deur dit alles behou! Merkwaardige mens gewees!”

‘n Ander gewese Vaderlander, MARISKA SPOORMAKER, bring hulde aan Niki:
Mariska Spoormaker
Om die een of ander rede het ek gedink dat Niki baie, baie langer as ek sou leef. En dat daar weer genoeg tyd vir ‘n “onthou-jy-nog-kuier”sou wees.

Nou kan dit net neergepen word.

Niki Wessels, Vaderland-kollega in die jare tagtig, wat selfs die heilige koeie aan die giggel sou kry met haar hoe-hoe lag oor kwansuise “belangrike” dinge en “insiggewende” uitsprake.

Dis die feite wat tel, ou pel. Dan bly sy rustig, rook sigarette pff-pff op haar manier terwyl die ander op en af en heen en weer oor wat die implikasies van die “belangrike” en “insiggewende”dinge sou wees.

Vir my was dit altyd die lekkerste om haar wetenskap-berigte te lees. Moeilike onderwerpe, verstaanbaar en lekker leesbaar vir my plat brein aangebied.

Niki, só het ek haar beleef, was verlief op die wêreld waarin sy gewoon het. Iemand met haar eie uitgangspunte en reëls, nie dié van die Voorskrif-Samelewing nie. Dié dat ek, ‘n honderd jaar later, nog van die “merkers”onthou.

‘n Manlike kollega (ja, ek is nou al oud en wys genoeg om sy naam te verswyg) het die nare gewoonte gehad om ons vrouens aanhoudend aan die boud te knyp. Dan gaan ons aan oor vroueregte, eerskending en sulke goed en hy het die reaksie wat hy wou gehad het. Te midde van dit alles sou Niki óf vooroorgebuig by nog interessante (wetenskap)lektuur gesit, óf behaaglik gerook, óf op en af, op en af geloop en dink het hoe sy die storie sou skryf. Die kletters van haar tikmasjien was dan later die “dead give away” dat sy die regte aanslag en woorde gevind het.

Dit was asof sy nooit eens van die boudknyp-probleem geweet het nie.

Toe eendag, loop sy weer peinsend op en af. Mnr Boudknyper loop verby. Steek vas, knyp haar boud. Niki staan stil, draai woordeloos om, kyk na Boudknyper. Sonder verandering in gesigsuitdrukking of ‘n enkele woord, neem sy Boudknyper se kroonjuwele in haar hand. Staan net so. Hy staan net so. Sy gesig word rooi, hare nie. Sy “squeeze”. “Is dit lekker?” vra sy naderhand. Boudknyper prewel weer iets. “Is dit lekker?” Weer geen antwoord. “Jy moet daarvan hou, anders sal jy dit mos nie doen nie?” Hy het dit nooit weer gedoen nie.

Die kantoorpartytjie: Altyd ‘n goeie rede om opgewonde te raak. Die skyfies en doopsous, olywe, ander eetgoed, coke en brandewyn, wyn, en wat nog. Joe wat stil in die hoekie ernstig gaan aansit vir spys en drank, Weyni en André wat ons weet weer “sports” gaan maak en die misdaadverslaggewers en fotograwe wat kompeteer vir die grillerigste verhale. Dié dag moes ek en Niki die tafel voorberei. Ek gooi die olywe in die bord uit en die swart olie in ‘n glas, sit dit eenkant. Toe alles klaar is, sê ek: “Niki, dê, hier’s vir jou solank ‘n Coke en brandewyn, ons verdien dit.” “Dankie!” lag sy en neem ‘n behaaglike sluk. Besef dis die olyfolie. Dinges my nie uit nie, maar spoeg dit in ‘n boog oor my uit. En toe kuier ons lekker verder. Vandag nog kan ek nie olywe eet sonder om aan haar “pan face” en moeitelose terugkry te dink nie.

Scrabble is lekker, maar as jy Niki daarmee wou klop, was genoeg rooiwyn (vir haar) belangrik. Tyd het sy belangrikheid verloor, gevolglik het ons baie oggende met dikgeswelde oë en kloppende koppe gaan werk. Die “trap” was dat ons so naby aan mekaar in Hillbrow gewoon het. ‘n Mens loop mos sommer “netnou” huis toe. Of jy dop om en slaap oor. Selfs die oor loop om toiletpapier te leen, was ook kuiergeleenthede. Altyd ‘n lekker wharra-wharra oor enige ding onder die son. Nooit enige gewroegery nie.

Natuurlik het Niki se intellektuele roem haar vooruitgeloop. “Het julle gesien hoe sy sommer so tjoef-tjaf ‘n blokraaisel in die lengte en breedte invul?” het Aletta op ‘n dag gevra. Naderhand kry Die Vaderland ook ‘n blokraaisel. Niki sal een van die opstelmeesters wees; ‘n vryskutbedrag word beklink. Niki maak haar somme en gaan koop ‘n kar. Harald sê sy moet versigtig, want netnou droog dit op en dan het sy nog ‘n kar om te betaal. Niki lag en sê dan maak sy maar ‘n ander plan. Buitendien moet sy nog eers leer om te bestuur. Intussen kan haar suster maar met die kar ry. Ek weet nie of sy toe ooit ‘n rybewys gekry het nie. Miskien weet iemand.

Niki aan die tik: sy sou haar sigaret diep pff-trek en dan dirigent oor die tikmasjien se klawers speel.
Donderend. Dreunend. En wanneer die sigaret brandend in die wit piering langs haar lessenaar bly lê het, het ons geweet: A, Niki is op volle spoed, die storie vloei alweer by haar vingerpunte uit. Dan het Chris Louw voor in die groot redaksiekantoor met die alewig vuil vensters gaan staan. “Niki! Los daai tikmasjien! Hy het jou niks gedoen nie!”

Nadat ek weg is by Die Vaderland, het ek en Niki nie weer saamgekuier nie. Ons was meer kantoorgenote. En sou ons weer mekaar raakloop, sou dit in elk geval net ‘n nuwe hoofstuk in dieselfde boek wees wat ons sou kon oopslaan en verder saam aan lees. Só het dit ‘n paar jaar later by Republikeinse Pers gebeur. Sy was by Rooi Rose, ek by Keur. Niki nog altyd in haar eie wêreld. Weer ‘n wonderlike kantoorpel. Eers was sy in die groter redaksionele kantoor, later in haar eie.

Sy kon mos nooit koerante weggooi nie. Toe al was die mense ook meer rooksensitief. Naderhand het syhaar eie kantoortjie gekry. Niki was toe ook al rooksensitief. Dié dat daar altyd ‘n kers op haar lessenaar gebrand het - om die rookreuk se impak te versag. Om die kers het ons bolle gestook, weer gewharra-wharra. Ja, daar was bekommernis oor brandgevaar in haar kantoor en Joan het al gevra sy moet kyk of sy nie ‘n paar koerante kan “uitship” nie, maar sy sal dit later doen …

Ek is weer weg by Republikeinse Pers voor Niki gegaan het, maar het haar stories bly volg. Veral die ene wat sy die aand nadat sy in haar huis beroof is, geskryf het. “Is jy mal, Niki?” wou ek weet. “Hoekom?” het sy gevra, “dis mos wat gebeur het.”

Heelwat jare later loop ek haar weer op Facebook raak. Jip, nog presies dieselfde Niki. Toe het ek al gewonder of sy al atome begin splits het, maar ek het nie gevra nie. Het maar net aangeneem sy haal nog steeds die beste uit haar lewe. Op die Niki-manier.

Sê maar ek is een van die mense wat baie van Niki onthou, maar min van haar lewe geweet het. Selfs ook nie dat haar siekte so terminaal was nie. Oplaas het sy dit reg gekry om my vir die eerste keer die skok van my lewe te gee.