Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.4.13

Koos en Louis se humor vermaak steeds

CHARL THOM skryf: So oor die jare het ek die voorreg gehad om met heelparty koerantmense saam te werk wat oor ‘n vinnige en baie skerp humorsin beskik het.

Twee van hulle was Koos (Koos Doep) du Plessis wat saam met my by die destydse Nataller gewerk het en Louis Mabille wat ‘n kollega was eers by Die Vaderland en later by die Kamer van Mynwese se Mynblad.
Albei is ongelukkig nie meer met ons nie.

Koos en ek was eendag saam iewers heen en toe ons by die kantoor terugkom, was die ontvangsdame in ekstase oor Koos se vrou, Mornay, wat glo na hom kom soek het.

Koos du Plessis
“O, meneer Du Plessis, jou vroutjie het na jou kom soek. Ai, sy is darem regtig bééldskoon. Sy slaan ‘n
mens se se asem sommer weg!” het sy laat hoor

“Ja” antwoord Koos toe droogweg. “Sy raak soms ‘n bietjie aggressief.”

Op ‘n ander keer stap ‘n baie selfversekerde kêrel by die nuuskantoor in en stel hom aan Koos voor. “Ek is Andries van de Venter van die FAK. Noem my gerus sommer Andries.” Waarop Koos antwoord: “Goed. Noem my dan maar sommer ook Andries.”

Dit was jare voor Koos bekend en selfs beroemd geword het. Baie van sy latere baie bekende treffers het ons eerstehands om ‘n braaivleisvuur gehoor. Nooit besef hoe bevoorreg ons eintlik was nie.

Louis Mabille
Louis was op ‘n dag in sy kantoor by Die Mynblad toe hy besoek ontvang van iemand wat AA-lidmaatskap probeer verkwansel het deur van kantoorgebou na kantoorgebou te stap. Toe hy by Louis instap en dadelik wegval met ‘n relaas dat hy van die AA is en dat hierdie Louis se groot geleentheid was, het lg sy draadjie blitsvinnig geknip:

“Nee dankie, ek drink mos glad nie!”

“n Baie jong vroutjie is aangestel as hulpsekretaresse, maar sy moes eintlik seker maar nog op die skoolbanke gesit het. So naïef het jy selde teёgekom. Een oggend kondig sy omtrent oorstelp van vreugde aan dat sy swanger is met haar eersteling. Toe Louis dit hoor is sy kommentaar: “Dis baie goed so. Nou kan sy en die kleintjie mos saam grootword.”

Toe iemand in die kantoor eendag kla oor hardlywigheid, had Louis blitsvinnig die oplossing. As ek daardie probleem het, gaan koop ek net vir my ‘n vleispastei by daardie vuil kafeetjie hier onder op die hoek.”

Dié twee het byna daagliks vir sulke juweeltjies gesorg.

Vir die diegene wat Charl (heelbo) nie herken nie, sal die foto regs van hulp wees.  Charl is links en sy vrou, Audrey, regs.  By hulle is senator Owen Horwood, destyds minister van Indiërsake en Toerisme, en leier van die Nasionale Party in Natal.  Dit het in Perskorhaan van September/November 1973 verskyn.

Die geleentheid was die eerste verskyning van Tempo, 'n Natalse koerant en opvolger van Die Nataller. Charl was assistent-redakteur en later redakteur.  Enkele jare later het hy assistent-tot-die-redakteur by Die Vaderland geword.

Arthur (Sam) Lake was Tempo se eerste besturende redakteur.