Die lewenspaadjie met sy legio vertakkinge om jou van koers af te lei, bring mee dat ’n mens met oop gesperde oë verby geleenthede loop
omdat jy só gefokus is op jou doelwit.
In die proses verhoed jou oogklappe jou om die groter prentjie raak te sien. Om ander se sienings te evalueer, in ag te neem, die feite teen mekaar op te weeg en dan ’n besluit te neem wat hopelik die korrekte een is.
Die einde van die Durban July in 1963. Vandag lyk dit nog so. |
Om bogenoemde stelling te bewys, vertel ek ’n staaltjie van my en Mike Hessenauer (wedrenredakteur van The Citizen) met ons jaarlikse July-dekking. Die proses om alle deelnemers teen mekaar op te weeg om uiteindelik met ’n keuse vorendag te kom is ’n doolhof van feite wat jy moet sif om ’n sekere mate van helderheid te verkry sodat jou motivering sinvol is. Daarom is dit net menslik om in die oogklappe-sindroom te verval. Vra maar vir iemand wat verslag oor ’n rugbywedstryd doen. Met net twee spanne, nie 20 nie, is dit steeds moeilik om die wenner te kies!
Oudergewoonte met ons Durban-July-trippie daag ons so net na vyfuur die oggend — dis nou die Maandag voor die July en elke oggend daarna tot Vrydag -- by Summerveld op. Summerveld is die tuiste van meeste van die July-kandidate en is so 30 kilometer van Durban tussen die heuwels geleë, so 20 kilometer duskant Pietermaritzburg.
Met ons aankoms skuins ná vyf kon ons eintlik bestempel word as die agterosse. Daar het reeds tussen 40 en 50 motors gestaan – en geen goedkoop modelle nie. Die sport van konings sukkel nie met rande en sente nie. Die deelnemers kry gereeld oproepe van hulle bankbestuurders af: “Maak nog ’n rekening oop, asseblief, die ander is almal vol.”
Om terug te keer na die voertuie – die Pers se Peugeot steek maar sleg af, maar ons is al verby die Jannie-jammergatfase.
Ons hoofdoel is om vas te stel of die perd wat ons gaan kies om die July te wen fiks is en hoe hy in die oefenlope vertoon, en of die afrigter tevrede is met sy vordering, voorts sommer ook om na die ander kandidate te kyk wat na ons mening ’n kans staan om te wen.
Maar eers moes ons vasstel waar “ring” Bertie Sage. Aan elke afrigter word ’n sirkelvormige kamp toegeken. Daar saal hulle die perde vir die oefenlope of en af.
Om so vroeg by Summerveld op te daag, is ’n belewenis. Die voëltjies tjirp en baljaar, die verfrissende bries waai jou wakker en jy asem suiwer suurstof in. Dan hoor jy die die hoewe van die perde wat klink soos ’n wegholtrein, maar jy sien niks. Eers ná sowat 15 minute begin jy fokus. Die perde se silhouette neem vorm aan wanneer die dag besluit om te breek. Dit is verkwikkend vir die siel en jou sintuie is ’n paar kerwe skerper.
Nadat ek en Mike tot verhaal gekom het, mik ons sommer na die eerste afrigter se silhouet. “More,” sê ons beleefd.
“Good morning chaps.”
Mike se Engels is beter as myne. “Hi. We are looking for Bert Sage. Can you show us where he is ringing?”
“Sure, chaps. But before I tell you, what do you think of my horse. Can he win?”
Mike begin stotter en stamel. “Sorry. Please forgive me. I’ve got no idea who you are.” Ek beaam dit byna onhoorbaar.
“My name is Gail Thompson,” seg hy. “Oh, hi, Gail” sê Mike. “Sorry, it’s still a bit dark and it’s a bit early to focus after last night’s ... oh well, you know. Had a few too many.”
“No problem, Mike. So, can he win?”
“ Sorry, Gail. What’s your horse’s name.”
Teen dié tyd begin ek koorsagtig deur Computaform blaai om te sien wat die hel die perd se naam is; en net om iets te sê wat sin maak, want ons is besig om kraters van onsself te maak, veral Mike.
“Jamaican Rumba!” skree-sê ek.
Mike kom tot verhaal. “Oh, yes, Gail. It must have an undeniable chance” lieg hy.
“Well, we think we can win with a little bit of luck in the running” sê Thompson. “I have told the owners to have more than a flutter on it.” (In Afrikaans beteken dit hy het die eienaar gesê om ’n hele paar rand op sy perd te verwed.) Dit is byna ongehoord dat ’n afrigter soveel inligting kwytraak.
Nadat ek tot verhaal gekom het, sien ek die perd hardloop die een wedren met oogklappe en dan weer sonder oogklappe. Met oogklappe wen hy of lewer ’n goeie vertoning. Sonder oogklappe is sy vertonings skokkend. Ek pols toe die afrigter oor die feite. Sonder om te skroom vertel hy ons die perd se geskiedenis met en sonder oogklappe. In sy oefenlope is hy ’n yster en loop almal onder stof sonder oogklappe en met oogklappe is hy lui. Maar op wedrendag is dit omgekeerd om die een of ander onverklaarbare rede. Die wedren wat altyd ’n goeie rigtingwyser vir die July was, The Republic Day Handicap, het Jamaican Rumba gewen met oogklappe aan en die daaropvolgende wedren sonder oogklappe het hy amper laaste geëindig. Dit was juis dié vertoning wat my genoop het om hom as ’n moontlike wenner uit te skakel.
Ek en Mike is ná ’n lang gesprek daar weg oppad na óns keuse vir die July, Sweet Wonder. Soos opgewonde kinders in ’n speelgoedwinkel babbel ons oor die storie van die oogklappe. “Hel, Mike. Ons kan ’n paar rand op hom waag.”
Mike beam dit. “Pappie, we can make some money. I did not even give this horse a hope in hell. We might have to change our selections.” Vergete is die wingerdgriep met die nuutgevonde hoop om ’n paar rand te kan wen. As ons Jamaican Rumba sonder bogenoemde inligting kies om die July te wen, sal die lesers dink ons rook ons sokkies.
Uiteindelik kom ons by Bert Sage aan. Ja, Sweet Wonder is fiks. Ja, hy is reg. “Cheers.”
Ek haal mý oogklappe af en kies Jamacan Rumba as tweede keuse om die July te wen. Sweet Wonder bly my eerste keuse.
En ja, julle het reg geraai. Jamaican Rumba spring voor weg en kon nie ingehaal word nie. Hy wen die 1982-July op dramatiese wyse. Sweet Wonder het in die pylvak hom probeer byt en dit het hom die wedren gekos. Hy het tweede geëindig, ’n kop agter die wenner. (In die opsieners, die “perdepolisie”, se verslag staan: “Sweet Wonder tried to savage Jamaican Rumba.”
En nee, ons het niks gewen nie! Al is dit op ’n skinkbord vir ons gegee! Jamaican Rumba het R11 vir ’n oorwinning betaal en die dupla (die eerste twee perde verby die wenstreep in enige volgorde) R78!
Die oomblik wanneer ’n mens deur die hekke by enige perdebyeenkoms loop, word al jou logiese denke uitgewis. Dan luister jy na elke Jan Rap en sy maat se strooi. So teen die sesde of sewende wedren bid jy dat jy, asseblief, net die geld terugkry wat jy verloor het – en om sout in jou wonde te vryf, word jy deur aanhangers bedank vir jou wenke waarmee hulle lekker gewen het.
Dis algemeen bekend dat die bedryf bekend staan as die jammerbedryf. As die perd wen, is jy jammer jy het so min verwed en as hy verloor is jy jammer jy het so baie verwed.
Nee, as jy by die perde is, moet jy wyd kyk soos ’n perd kyk!
So ‘n paar interessanthede om mee af te sluit:
• 13! In 1960 speel die Springbokke teen die All Blacks op Ellispark. Hennie van Zyl, Suid-Afrika se linkervleuel, met nommer 13 op sy rug, druk die enigste twee drieë van die toets en die Springbokke wen 13-0. ’n Week later wen perd nommer 13 , Left Wing, die July!
• In 1970 wen Margaret Court die vroue-enkelspeltitel op Wimbledon. ’n Uur later wen Court Day die July en Centre Court behaal ’n plek.
• Vanjaar se tema vir die Evas om met hulle vere by die J&B-Metropolitan Stakes te spog was “Fly Away”. Party het tot helikopters op hulle hoede gedra. En wie wen? Martial Eagle (Breëkoparend), ’n volslae buiteperd! Ek sluit ’n foto van ’n “Martial Eagle” in wat ek onlangs naby Satara gesien het.