Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.4.13

John du Toit is ’n minsame kêrel met ’n sagte hart

HERMAN LE ROUX, gewese sportredakteur van Die Volksblad en Beeld, skryf: Kyk na John du Toit se blomkoolore, waarna Peet Simonis in ‘n vroeër artikel oor hom so treffend verwys (lees hier), en jy besef hier is ‘n man wat baie stampe en stote op die rugbyveld verduur het. Skud blad met hom en jy weet daardie hande is ook dié van ‘n boer wat kan draad span en trekkers herstel.

John du Toit
Praat met hom en jy kom gou agter hy ken sy rugby. Hy het nie verniet vir die destydse Noord-Transvaal en Transvaal as agtsteman uitgedraf nie, en hy was jare lank ook ‘n staatmaker by sy geliefde Diggers-klub.

Die rugbyskrywer John du Toit, saam met wie ek reeds sedert 1962 internasionale toere meegemaak het, lyk dalk soos ‘n ruwe rugbyspeler van weleer, maar hy is ‘n minsame kêrel met ‘n sagte hart; baie beleefd en hulpvaardig. Die soort wat jou ware vriend kan wees.

Ek kom ‘n lang pad saam met hierdie gewese rugbyskrywer van Die Vaderland en Die Transvaler wat in die jare tagtig en negentig een van my kollegas in die sportredaksie van Beeld was. Ons het die lief en leed van baie rugbytwiste en -jolyt meegemaak.


Sid Going (vierde van links), All Black-skrumskakel, en vyf 
mediamanne van Suid-Afrika op sy plaas  naby Whangarei in 1976. 
Van links is Wessel Oosthuizen, Herman le Roux, Gerhard Burger, 
Going, John du Toit en Phil Zaayman
Voor my geestesoog sien ek nog hoe ons noord van Whangarei in Nieu-Seeland op Maromaku, die plaas van die All Black-skrumskakel, Sid Going, in die woonvertrek staan. Die Goings, Sid en sy vrou, Colleen, John du Toit, Gerhard Burger, Phil Zaayman, Wessel Oosthuizen en ek.

John het lus om ‘n dampie te maak en vra beleef of hy maar ‘n sigaret kan aansteek. Die Goings is Mormone wat nie rook en sulke dinge doen nie.

Daar is ‘n oomblik van ongemaklike stilte. Sid breek die ys toe hy sê John moet die vrou van die huis vra.

John gee haar egter nie kans om ja of nee te sê nie en baie verskonend laat hy die pakkie sigarette in sy broeksak verdwyn. Só word ‘n groot verleentheid afgeweer.

Die fikser en sterker John het my tong een keer in Nieu-Seeland behoorlik laat uithang. Ons het per trein van Wellington na Masterton gereis en John het besluit ons kan maar met tasse en al van die stasie dorp toe stap.
Dit was baie verder as wat ons besef – en ek gevrees het. By elke straatkruising het ek die kans benut om my twee tassies (toe al swaar gelaai met boeke) ‘n rukkie neer te sit.

My hande het behoorlik gepyn, maar John het nie eens sy ewe swaar tasse neergesit nie en my elke keer aangejaag om voor te stap.

Stap sonder tasse kan ek egter beter doen en ek het my kans teruggekry om John te laat sweet toe ons daardie aand kilometers ver teen ‘n stywe pas my roetekaart gevolg het om met die beroemde George Nepia te gaan gesels.

Goeie vriende wat ons is, het ons tog sterk mededingend vir ons onderskeie koerantgroepe gewerk (John was tydens ons besoeke aan Nieu-Seeland nog by Perskor).

John du Toit (middel, agter), rugbyskrywer van Perskor 
en later Naspers, en Herman le Roux (van Naspers 
(middel,voor) was die enigste twee Suid-Afrikaanse 
rugbyskrywers wat die eerste ná-oorlogse toer van 
die Britse Leeus in 1962 in Suid-Afrika meegemaak het 
ek ook in 1980 saam met die Leeus getoer het. 
Hulle verskyn hier saam met die vier Britse 
rugbyskrywers wat ook dié twee toere vir hul onderskeie 
koerante gedek het: Terry O'Connor  van die Londense 
Daily Mail (agter, links), Ian Todd van The Sun 
(agter, regs), J.B.G. (Bryn) Thomas van die Western 
Mail in Cardiff (voor, links) en John Reed van die 
Londense Sunday Express (voor, regs). 
Soms het ons saam met rugbylui of politici (soos die eerste minister Rob Muldoon) gesels. Toe ons een keer
in die St George-hotel in Wellington tuisgegaan het, wou ek egter alleen ‘n onderhoud met Ben Couch, Maori-rugbybeampte en later minister van polisie, voer. Toe glip ek deur die hotel se kombuis by die agterdeur uit, want John het my fyn dopgehou.

By die parlementsgebou het ‘n groot ontnugtering op my gewag. Couch vertel my toe dat John du Toit ‘n rukkie vroeër reeds daar was vir ‘n onderhoud!

Die tyd was egter in my guns en ek kon betyds ook my storie na Naspers se oggendkoerante stuur.

As agtsteman op die rugbyveld het John gewys dat hy dit kan gee en dit kan vat. Eienaardig genoeg was dit ‘n ruk en pluk van die veld af, in die onthaalsaal by Loftus Versfeld, wat John die gevoeligste knou toegedien het.

Omdat hy so ‘n groot ondersteuner van Transvaal geword het, nadat hy sowat veertig jaar vroeër vir Noord-Transvaal gespeel het, was dit vir die vrou van ‘n bekende rugbyadministrateur van Noord-Transvaal eens te veel toe John ná ‘n wedstryd op Loftus Versveld met sy Noord-Transvaalse baadjie opdaag.


John du Toit op Rotorua in Nieu-Seeland in 1965.
Sonder om te blik of te bloos het sy voor al die gaste op John afgestorm en die sakwapen met die Barbertonse madeliefie van sy baadjie geskeur. “Jy verdien nie om dit te dra nie,” het sy hom toegesnou.
John het die vernedering kalm verduur, maar ek weet dit het diep seergemaak.

• Ek kan ook nog vertel hoe John en ek in Christchurch, Nieu-Seeland, spanningsvolle oomblikke deurgebring het tussen honderde betogers voor die katedraal op die stadsplein, terwyl nare slagspreuke om ons teen Suid-Afrika weergalm het;

• Hoe ons saam met kapt Ladd van Auckland na Kawau-eiland gevlieg het om die eertydse woning van goewerneur sir George Grey (ook ‘n oudgoewerneur van die Kaapkolonie) te besigtig;

• Hoe die weeluise ons byna ‘‘weggedra” het in die De Bretts-hotel in Auckland;

• Hoe ons in 1965 op Timaru in ‘n ander hotel as die Springbokke tuisgegaan het en te laat was vir die bus wat die toergroep na die ski-velde van Tekapo geneem het. Dit het ons baie dollars uit ons die sak gejaag om met ‘n taxi die bus in te haal.

Ek het John darem ook al erg verleë gesien. ‘n Paar jaar gelede nooi hy en Colleen vir my en Rina om ‘n week saam met hulle by Mabula Lodge deur te bring. Op pad daarheen swem ons eers by die warmwaterbron van Bela-Bela. Toe ons aantrek en vertrek is John se horlosie skoonveld. Ons soek die wêreld vol en meld die “diefstal” aan.

Daarna maak ons gou ’n draai by ‘n winkelkompleks. John wag vir ons in die motor. Toe ons terugkeer, staan hy buite die motor met die horlosie in sy hand. Hy het pas gevoel daar is iets in sy skoen wat hom pla!