Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.4.13

Die Mitchelstraatse Mannekoor

GERHARD KLEIJN skryf: Ek weet oorle ou Etienne wou nog iets hieroor sê en ek self bly ‘n paar skrywes skuldig. Ek hef dus aan met ‘n ietse oor ‘n baie spesiale klomp ouens uit ‘n baie spesiale tydperk in my lewe.

Wie dit presies was wat die eerste keer die naam ‘Mitchelstraat Mannekoor’ aan ons klompie kuiergatte toegedig het, kan ek nie met sekerheid sê nie.

Dit kon enige een van ‘n kerngroepie Oggendbladters gewees het wat geesdriftig meegedoen het aan die gereelde sing-en-suip-sessies in die ná-nagure, verby saktyd.

Koos du Plessis
Ek wil onthou dat dit Kobus (Blikkies) Blignaut was, of dalk Koos (Doep) du Plessis. Koos Doep was erg partydig vir bynaam-gee en nogal vaardig daarmee.

Ander in die kerngroep van die kuierspan was; Etienne (Etjan) Kriel, Louis (Lood) Roux, Pieter (Pietie) Schoombee, Chris (Boetman) Louw en Gerhard (Gaddetjie) Kleijn - die uwe. Nog kollegas het sporadies saam gekuier, saam Perskor en die wêreld se probleme bespreek en opgelos en saam gesing. Maar dié sewe, waarvan net drie nog in die lewe is, was die hart van die Mitchelstraatse Mannekoor, kan jy maar sê.


Etienne Kriel
In die begin is gekuier om ‘n ‘fles’ in die nagkantoor of subkantoor. Die fles is dikwels deur oom Jule van die ‘fabriek’ voorsien. Oom Jule was ‘n geheelonthouer met begrip vir die terapeutiese noodsaak van die sosiale interaksie tussen koerantmanne, ná die slag van nog ‘n uitgawe gelewer is.

Dan het Koos sy kitaar opgeneem en ons ‘n voorskou gegee van sy (ou) liedjies, wat eers heelwat later volksbesit sou word. En soos die tonge en die stembande losser geraak het, het ons begin saamsing. Koos se liedjies, rakbieliedjies, ander se liedjies en ons eie liedjies.

Chris Louw
Die kitaarspel is gedeel deur Louis Roux en Kobus Blignaut, wat baie musieklik was en ‘n magdom instrumente kon bespeel. Louis Roux sou insit met ‘Anna Jordaan’ (die ou vaalkop korhaan), of sy verwerking van ‘Skadus teen die muur’ (“en die rotte k.. op die solder …”) en die res van die mannekoor sou uit volle bors inval. Ons stemme het mooi getrou. Wat ons voortgebring het, was vir ons verskriklik mooi. En om dié gawe onder Mitchelstraat se maatemmer te los, sou aan sonde grens.

Die mannekoor het sy vlerke begin sprei. Die ‘optredes’ is uitgebrei en die horisonne is verbreed. Ons het ‘onwettig’ ná ure by die Hoekie (nog in Mitchelstraat) begin optree, waar ons met wisselvallige welslae deur die ‘onwettige’ gehoor begroet is. Daar, waar ‘n tandelose tante met krullers in haar hare en hare op haar bene vir Koos Doep ná ‘n solonommer gesê het: “My boetie, jy klink dan nes die draadloos!” Dit was net ná ‘Kinders van die wind’ begin lugtyd kry het.

Die Hoekie
Die mannekoor het die geduld van die uitgelese inwoners en die toegeeflike nagbestuurder, Mick Jagger (regtig), van die land se eerste ‘internasionale’ hotel, Die Boulevard, tot die uiterste toe beproef. Hier het ons die luukse van ‘n klavier en deurnag-‘kamerdiens’ geniet. Tot een rampspoedige aand …

Soos dit maar gaan, was genoeg naderhand te min en was dit onvermydelik dat ‘braai’ by ons kuier-sing-en-suip-lys gevoeg sou word. Ons het ‘n suksesvolle proeflopie met Perskor se Krismishoenders op Mitchelstraat se brandtrappe gehad en ‘n redelike een onder die ou peperboom in die plek se parkeerplek. ‘n Paar minder suksesvolles by getroude koorlede se wonings het gevolg. Net getroude ouens het destyds wonings gehad en was ons gebelgd om te moes vasstel dat getroude vrouens nie noodwendig musiek waardeer nie.

‘n Vindingryke mannekoorlid, ek wil onthou dit was Piet Schoombee, kom toe met die logiese oplossing vorendag: Ons sal by die Fonteine loop braai en kuier en na hartelus sing en g’n veiligheidswag, hotelgas, hotelbestuurder, of iemand se getroude vrou sal kan inmeng nie.

Die Fonteine, Pretoria
Die koor en sy gaste het ‘n aantal genoeglike en vervullende na-nagte, tot ligdag toe, by die Fonteine ingewerk. Nêrens het ons beter gesing as juis daar in die oopte langs die Apies nie. En nêrens het ons lekkerder gesels en gebraai en geniet nie. Spanbou soos min.

Maar ons het besef dat die wêreld te klein word, toe ons sessie een vroegoggend wreed ontwrig word. Midde in ‘n meesterlike weergawe van ‘Harre, harre, lekker …’ begin vreemde, vlieënde voorwerpe om en op ons neer-reën. Bottels.

Leë bierbottels en drankbottels van uiteenlopende aard fluit deur die lug en daarmee saam hoor ons die stemme: (Kru taal uitgesub) “F…off. Hier is mense wat wil f…ken slaap! Gaan f…ken huis f…ken toe. F..!
Die Fonteine van destyds was ‘n veilige hawe. Nie net vir die Mitchelstraatse Mannekoor nie, maar ook vir ander hawelose drommels en boemelaars wat nie ‘n verbruikersvriendelike kuierplek gehad het nie.