Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.4.13

Benoni-trein ontspoor Rooi vuurpyle

RIKA VAN GRAAN skryf: Met my begin by The Citizen was dit ’n groot aanpassing!

Dit was op 1 Augustus 1976. Mense, dit was my eerste kennismaking met die sogenaamde “Fleet Street reporters”. Wat ’n pyn was hulle nie!

Hulle kon nie ’n woord Afrikaans verstaan nie en moes my help om my
stories in Engels vir die koerant te skryf. Só het dit vir amper drie maande gegaan.

Tot ons ’n berig moes doen oor hoe ’n tenger boervrou in die Thabazimbidistrik ’n luiperd in ’n strik met ’n 22-pistool moes doodskiet. Hoe kan ’n Engelsman wat nog nooit ’n lewende luiperd gesien het nie so ’n storie met gevoel oordra?

Dit was die begin van die einde van die “Fleet Street reporters” wat altyd saam met my die naamreël gekry het.

Gordon Winter het weke aan die hoofberig van die eerste uitgawe van The Citizen gewerk en op en af in die redaksiekantoor gemarsjeer. Die berig was “RED ROCKETS OVER AFRICA!” Ons het ’n maand lank drukmodelle geproduseer.

Op 9 September het die eerste koerant op straat verskyn, maar nie met Winter se hoofberig nie! So teen 20:00 het ’n passasierstrein naby Benoni-stasie ontspoor en oor die 30 mense is dood en talle beseer. Dié berig het die “red rockets” na bladsy twee verplaas.

Dit was maar die begin van Gordon Winter se wedywering met my ofskoon ek maar net my werk wou doen. Toe die Inligtingskandaal oopgevlek is, het Johnny Johnson ons nuwe hoofredakteur geword. Hy en Winter was groot vriende van die Sunday Express se dae af.

Johnny het op ‘n dag besluit dat ek en Winter Nelspruit toe moet gaan om die terreurroete te gaan naspoor. Kapt Herman Scheepers was distrikkommandant van die Laeveld. Ek was daagliks met hom in verbinding en hy was bereid om ons te help.

Rika op 'n polisiebakkie by Bordergate.
Ons het in ’n chalet by ’n vakansieoord tuisgegaan. Ek was maar altyd op my hoede met Winter, het selfs met my Zig Zauer-pistool van 9 mm onder my kopkussing geslaap. Bedags het ons gaan werk en saans teruggekeer.

Een oggend is ons na Bordergate op die grens met Swaziland, waar ons kapt Danie Malan ontmoet het. Met hom en ’n paar manskappe saam is ons op ’n Land Rover na die toppunt van die Lebomboberge vanwaar hulle aan ons die roete wat die terroriste volg, gaan wys het. Ek was agterop die bak saam met die polisiemanne. Winter het voor by die kaptein gesit.

Ewe skielik het ’n berig op die polisieradio deurgekom. 'n Terroristekar het pas by Bordergate deur die grenspos gebars en die polisie jaag dit.

Ons moes vinnig omvlieg om so gou moontlik aan die voet van die berg op die deurpad te kom. Kapt Malan het net sy manneopdrag gegee om my vas te hou, want nou gaan daar gejaag word. En mens, is daar gejaag! Die polisiemanne moes vasklou én my vashou.

Toe ons onder by die pad kom, kry ons die Bordergatepolisie. Hulle was kort op die hakke van die terroriste. Nie lank nie of ons kom af op die terroristekar waar dit op sy dak by ’n laagwaterbruggie lê. Die wiele het nog gedraai. Drie terroriste kon wegkom, die vierde het nog half bedwelmd in die kar gelê. Dit was die scoop van die week.

Dit was Vrydag en ons moes terugkeer Johannesburg toe.

Die aand toe ek bad, was die bad vol rooi modder. Ná my hare gewas is en ek vars gevoel het, kon ek lekker slaap. Eers die volgende dag het ek die lyfseer en bloukolle ervaar en gesien – die resultaat van hoe die polisiemanne my vasgehou het!

Die Sondag moes ek by genl Gertjie Prinsloo toestemming kry dat ons die storie mag gebruik. En daarna het ’n reeks oor die Terreurroete van Mosambiek en Swaziland af verskyn.