Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.4.13

’n Varkboud vir die vrede

WILMA (RUDMAN) DEETLEFS, gewese verslaggewer van Die Transvaler, skryf: Dit was in die laat jare sewentig toe ek, Piet Ebersöhn en Philip Deetlefs ‘n huis in Westdene gedeel het. Dit was ‘n baie gawe reëling, want nou kon ek ‘n hond aanhou en Piet en Philip kon vleis braai soveel soos hul harte begeer.

Om vaste grond onder die voete te hê, was veral lekker nadat ons etlike
maande bo in ‘n woonstelblok gebly het. Dit het gemaak dat ons al die braaigoeters moes op en af piekel en ons sommer so in die rommel tussen onkruid en bakstene ons vleisie moes braai.


Dis was nadat die polisie die persklub-sjebeen wat ons in ‘n stadium uit Suncliff Terrace (sp) bedryf het, toegemaak het. Saam met die sjebeen het die ordentlike braaiplek ook gegaan.

Wouter de Wet
Die Westdene-huurhuis, wat later Bushy en Alta van Loggerenberg se tuiste geword het, se kombuis het op die agtertuin uitgeloop wat braaie soveel makliker en soveel lekkerder gemaak het.

‘n Klipgooi van ons drie se Westdene-huis af het Wouter de Wet gewoon. Die feit dat ons loopafstand van mekaar gebly het, het sommer maklik Saterdae-oggende al in ‘n koffie-drinkery en kuiery ontaard. Liewe Wouter het NOOIT sonder ‘n tuisgebakte brood of een of ander lekkerny by ons opgedaag nie.

Soos ek vroeer gese het, ’n baie gawe reëling. Tot een Saterdag.


Piet en Philip het reeds die vorige aand begin planne beraam om die Saterdag ‘n vleisie op die kole te gooi. Vleis is destyds by niemand anders nie as Stephen, die slagter op die hoek in Braamfontein langs die Tudor Inn gekoop. Dis toe ook na Stephen toe wat hulle seker so nege-uur die oggend vertrek het “om gou ‘n vleisie te gaan koop”.

Selfone was nog nie eens ‘n gedagte nie en drie armgat joernaliste kon nie ‘n vastelynfoon bekostig nie. Toe Wouter oudergewoonte later die oggend by ons Westdene-huis opdaag, kuier ons toe maar alleen, want die manne het gaan vleis koop.

Piet Ebersöhn
Philip Deetlefs
Seker so teen vieruur die middag stap ek oor na Wouter toe en vertel hom dat ek nou bekommerd is, want die winkels is lankal toe (als het eenuur gesluit) en Philip en Piet is nog nie tuis nie. Wouter het gepaai en gesê hy is seker als is reg, maar toe die twee menere teen agtuur die aand steeds nie tuis is nie, het ek en Wouter by sy telefoon gesit en al wat ‘n hospitaal en lykshuis is gebel om te hoor of daar nie twee ouens met tjops en boerewors ingeboek is nie. Niks en niemand het van die twee geweet nie.

Ná ‘n slapelose nag het Wouter my weer die volgende oggend kom ondersteun, want die manne was steeds weg. Hy het getroos dat ons wel die een of ander tyd taal of tyding sal kry.

So skuins voor middagete die Sondag – meer as 24 uur later – stap Philip en Piet besonder gemoedelik by die huis in met ‘n reusevarkboud onder die arm. Sonder enige verduideliking vir hulle afwesigheid word die varkboud in my arms gedruk “met liefde van Stephen af” en ek moet tog nie vir die manne kwaad wees nie, want hulle het ‘n bietjie in Stephen se koelkamer vasgehaak.

Dankbaarheid vir hul oorlewing het vir ‘n rukkie my boosaardigheid oorskadu.

Die volgende Sondag het Wouter vir ons die heerlikste varkboud, met appelkooskonfyt en mosterd ingesmeer vir die krakerigste varkvel vir middagete voorgesit – met die komplimente van Stephen.